loading
Artikels
2 jaar gelede
hoekom-kies-ons-privaat-bo-staat

Foto Krediet: Engin Akyurt - Unsplash

Hoekom kies ons privaat bo staat?

In Suid-Afrika is staatsmislukking alomteenwoordig. Kyk maar net na enige staatsinstelling of staatsbeheerde instelling soos Eskom, Transnet, die SAL en ander, en dan is die ernstige tekortkominge van die staat ooglopend. Dit is dus glad nie ʼn verrassing dat die beginsel van #OnsSalSelf al feitlik alomteenwoordig geword het nie. Dit laat talle egter met die vraag oor hoekom ons meer van die privaat sektor sou verwag? Is daar dan nie mislukking in die privaat sektor ook nie?

Die antwoord op dié vraag kan beslis bevestigend wees. Daar ís inderdaad ook mislukkings in die privaat sektor. Tog verskil markmislukkings aansienlik van mislukkings in die openbare sektor. Die sogenaamde “Nirvana-dwaling” is een van die groot redes vir mense se wanopvattings rondom markmislukkings.

Die Nirvana-dwaling het sy naam te danke aan die ekonoom Harold Demsetz wat in 1969 daarop gewys het dat wanneer mense ʼn markverwante uitkoms beoordeel, hulle die huidige werklikheid bykans altyd met een of ander denkbeeldige ideaal of nirvana vergelyk. Demsetz stel egter voor dat ons markuitkomste eerder met ʼn realistiese regeringsuitkoms vergelyk. Dit help nie om te sê die privaat sektor is perfek nie – niks is perfek nie. Daar moet as’t ware aangedui word hoe staatsingryping, indien enigsins, die saak gaan help.

Gesondheidsorg is een so ʼn voorbeeld. Almal stem saam dat die status quo in privaat sorg vir seker kan verbeter; tog vind bykans almal die idee dat die ANC, deurspek met korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid, beheer neem oor Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel selfs nog meer ontstellend. Dit is egter opvallend dat sommige mense klaarblyklik meen dat indien ʼn goeie regering aan bewind was, die idee van so ʼn stelsel wel wenslik sou wees. Dit is nie so nie. Geen sentrale liggaam, ongeag hoe eerbaar, kundig of georganiseerd die indiwidue in so ʼn bestel ook al mag wees, kan so ʼn stelsel so goed bestuur as wat die alternatief, dit wil sê ʼn markverwante stelsel, dit kan doen nie.

Dit is omdat ʼn markverwante stelsel uit niks anders as ʼn groot verskeidenheid spelers bestaan wat elkeen probeer om die ander se dienste te troef nie. Uiteindelik sal die dienste van die beste een uit hierdie versameling van indiwidue as die wenner van die mededinging na vore tree. ʼn Markstelsel is per definisie die mees demokratiese vorm om ʼn ekonomie te organiseer. In plaas van ʼn handjievol besluitnemers is elke enkele verbruiker ʼn besluitnemer, en die mark moet na gelang van die behoeftes van hierdie indiwidue aanpas.

Die probleem met sentrale liggame is dus nie net dat hulle geen mededingers het nie, maar ook dat ʼn handjievol mense besluite moet neem oor dit wat vir ʼn hele land moet geld. Hoe reageer ʼn mens dan op die nood van die mense? Hoe bepaal ʼn mens in watter rigting kapitaal bestee moet word en hoe bepaal ʼn mens wat die doeltreffendste sal wees wanneer daar hoegenaamd nie gekyk word na verbruikers se voorkeure en behoeftes nie? Die antwoord is dat ʼn mens dit nie kan doen nie. Een van die groot redes hiervoor is dat die privaat sektor op vrye wil geskoei is terwyl die openbare sektor by uitstek op dwang gebaseer is.

Die feit van die saak is dat die meeste ooreenkomste in ʼn vryemarkstelsel tot ʼn wen-wen-scenario lei. Die belangrikste aspek hiervan is dat die vrye mark toelaat dat elke party self die waarde van sy eie prestasie in vergelyking met die teenprestasie van die ander kan weeg en uit vrye wil kan kies om die ooreenkoms te sluit.

Niemand dwing enigiemand anders om teen ʼn spesifieke loon te werk of om by ʼn spesifieke plek te koop nie. ʼn Mens het altyd die keuse om alternatiewe te ondersoek. Die uitkoms is feitlik altyd ʼn wen-wen, want alle partye het die opsie om te soek totdat hulle die hoogste waarde vir hul prestasie ontvang. Wanneer die regering inmeng, het dit dwang tot gevolg en so word die natuurlike (en regverdige) werking van die mark versteur. Vryheid is die hoeksteen van ʼn regverdige samelewing en des te meer van ʼn regverdige ekonomie.

ʼn Laaste punt in hierdie verband is die gevolge van markmislukkings teenoor staatsmislukkings. Indien ʼn privaat onderneming misluk om aan sy klante se behoeftes te voldoen, is bankrotskap die gevolg – ʼn baie sterk aansporing om wel aan behoeftes te voldoen. Wat geld dan in die geval van so ʼn onderneming se ekwivalent in die openbare sektor? Daar bestaan reeds tallose voorbeelde daarvan. Wanneer staatsinstellings misluk is die gevolg feitlik nooit bankrotskap nie, maar eerder dat die instelling méér befondsing en méér reddingsboeie van die regering ontvang. Wat ʼn absurde stel motiverings! Daar word inderwaarheid vir ondernemings soos Eskom gesê dat hoe swakker hulle presteer hoe meer geld die regering vir hulle sal gee en hoe hoër kan hul aansoek om tariefverhogings wees. Hoe kan ʼn mens dan verbaas wees oor die uitkomste wat hulle lewer?

Opsommend, dit is nie ʼn geval daarvan dat die privaat sektor die ene engele en die staat die ene duiwels is nie. Dit is veel eerder ʼn geval daarvan dat die privaat sektor toelaat dat ʼn onbeperkte aantal ondernemings met mekaar kan meeding, dat verbruikers kan bepaal waarheen hul geld gaan en dat wanprestasie drastiese gevolge inhou. Nie een van hierdie punte is by die staat teenwoordig nie.

Andrew Klavan, ʼn Amerikaanse outeur en politieke kommentator, het eens gesê: “I only want one thing from my government, and that’s less of it.” So sê ons ook vandag dat ons nie net meer privaat soek nie maar tegelykertyd ook minder staat.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel