loading
avatar
Artikels
11 uur gelede
hoer-maatskaplike-toelaes-goed-maar-onafhanklikheid-is-beter

Foto Krediet: ChatGPT

Hoër maatskaplike toelaes goed, maar onafhanklikheid is beter

Deur Leré Nel

Die minister van finansies se aankondiging tydens die onlangse begrotingsrede dat maatskaplike toelaes vanjaar met meer as inflasie verhoog sal word, bied vir baie Suid-Afrikaners welkome verligting. In ʼn land waar miljoene mense van hierdie toelaes afhanklik is om basiese behoeftes te dek, maak elke rand ʼn verskil.

Volgens Bianca Smit, organiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, is die groter vraag egter nie net met hoeveel rand toelaes sal verhoog nie, maar of hierdie verhogings armoede werklik sal verminder.

Korttermynverligting, nie ʼn langtermynoplossing nie

Smit benadruk dat sekere toelaes noodsaaklik is. “Sekere toelaes, soos pleegsorg- en ouderdomstoelae, is noodsaaklik en beskerm die mees weerloses in ons samelewing. Dit is nie onderhandelbaar nie,” sê sy.

Sy waarsku egter dat jaarlikse toelaagverhogings alleen nie volhoubaar is nie.
“As toelaes aanhou styg sonder ooreenstemmende ekonomiese groei en werksgeleenthede, plaas ons ʼn toenemende las op ʼn reeds beperkte begroting. Dan verminder ons nie armoede nie – ons administreer dit.”

Volgens haar bied die verhogings dus wel verligting, maar verander dit nie aan die onderliggende strukture wat die armoedesiklus in stand hou nie.

Die risiko van groter afhanklikheid

Een van die grootste bekommernisse, volgens Smit, is dat sekere toelaes – veral dié wat bedoel was om tydelik te wees – nou ʼn kultuur van afhanklikheid kan vererger.

“Ons moet eerlik vra of elke toelaag werklik mense help om uit armoede te ontsnap en of dit in sommige gevalle afhanklikheid verhoog,” sê Smit. Sy verwys spesifiek na die SRD-toelaag wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is.

“Die SRD-toelaag was bedoel om verligting te bied te midde van ʼn ramp, maar ses jaar later dien dit slegs om afhanklikheid te versterk.”

Sy wys ook op die moontlike onbedoelde gevolge van sekere toelaes, veral waar dit kinders raak. “Kinders bly in baie gevalle in swak omstandighede, omdat gesinne bang is om die R580 waaraan hulle gewoond is, te verloor. Wanneer ʼn toelaag ʼn kind se beste belange begin beïnvloed, maak dit my geweldig bekommerd.”

Toelaes dek nie lewenskostes nie

Hoewel elke rand ʼn verskil in behoeftige huishoudings maak, hou Smit vol dat toelaes nie werklike lewenskostes dek nie.

“Om ʼn kind groot te maak kos aansienlik meer as die pleegsorgtoelaag. Baie pleegouers dra die grootste deel van die koste self. Hulle doen dit uit roeping, nie vir die geld nie,” sê Smit. Dieselfde geld vir bejaardes. Die voltydse versorging van bejaardes kan ʼn minimum van ses tot sewe keer meer kos as die ouderdomstoelaag. “Dit wat ontvang word, gaan bloot vir oorlewing, nie vir waardige versorging nie,” verduidelik Smit.

Selfs met verhogings bo inflasie bly die werklikheid dat baie huishoudings steeds sukkel om kop bo water te hou. “Hoër toelaes bied wel verligting, maar dit breek nie die siklus van armoede nie,” sê Smit. “Ware armoedeverligting verg meer as maandelikse betalings. Dit verg werk, vaardigheidsontwikkeling, gemeenskapsmobilisering en ʼn ekonomie wat groei,” sê sy en voeg by dat dit juis ʼn gebied is waar die staat tans tekort skiet.

Toenemende druk op maatskaplike werkers

Volgens Smit plaas hoër toelaes ook bykomende druk op diegene wat dit moet administreer – naamlik maatskaplike werkers.

“Hoe meer mense afhanklik raak van ʼn stelsel, hoe groter word die administratiewe en maatskaplike las,” verduidelik Smit.

Sy wys daarop dat maatskaplike werkers reeds onder enorme druk werk. “Hulle sit met hoë gevalleladings, beperkte hulpbronne en emosionele uitbranding,” sê sy. “As die stelsel groei sonder voldoende belegging in dienslewering en ondersteuning, gaan die sektor verder verswak.”

Na haar mening kan die staat nie bloot meer geld in die stelsel pomp sonder om gelyktydig kapasiteit en ondersteuning te verhoog nie.

Gemeenskappe moet self begin bou

Volgens Smit lê die oplossing nie by die staat nie, maar by gemeenskappe self.

“Die tyd het aangebreek dat gemeenskappe weer verantwoordelikheid vir hul eie volhoubaarheid neem. Die staat kan nie die hele las dra nie, en toelaes kan nie die enigste antwoord wees nie.”

Sy verwys na Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Toekomsplan, wat fokus op die bemagtiging van gemeenskappe om self oplossings te vind.

“Wat gemeenskappe dikwels nodig het, is nie nog ʼn vorm van afhanklikheid nie, maar inspirasie, praktiese leiding en strukture wat selfstandigheid bevorder.”

Smit glo dat ware hoop nie in groter toelaes lê nie, maar in sterker, selfstandige gemeenskappe wat saam bou, werksgeleenthede skep en verantwoordelikheid vir hul eie toekoms aanvaar.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel