loading
avatar
Artikels
3 dae gelede
hofbevel-johannesburg-metro-moes-solidariteit-banier-teruggee-advertensieagentskap-moet-geld-terugbetaal

Foto Krediet: Verskaf

Hofbevel: Johannesburg-metro moes Solidariteit-banier teruggee. Advertensieagentskap moet geld terugbetaal

Solidariteit het onlangs ʼn reusagtige, 70 meter lange banier langs die M1 opgerig wat lees: “Welcome to the most race-regulated country in the world.” Dit is deel van ʼn bewusmakingsveldtog oor rassewette wat Solidariteit vir die G20-beraad in November 2025 geloods het. Die banier was skaars twee dae op voordat stadsowerhede, op aanmoediging van Panyaza Lesufi, dit op 10 November verwyder het. Dít sonder enige kennisgewing, verduideliking of regmatige proses. Solidariteit het onmiddellik regstappe geneem en aangevoer dat die stadsraad se optrede onwettig en polities gemotiveerd was. Die stad se eie munisipale verordeninge gee nie aan amptenare die mag om advertensies eensydig te verwyder nie.

ʼn Skikkingsooreenkoms, wat ʼn bevel van die hof gemaak is, is intussen bereik. Hierdie skikking het vereis dat die Johannesburg-metro die reusagtige banier kosteloos teruggee, en die metro het ingevolge die ooreenkoms die banier op Dinsdag 18 November aan Solidariteit terugbesorg.

Solidariteit sê ook hulle finaliseer ʼn ooreenkoms met die advertensiemaatskappy om die volledige bedrag terug te kry. Indien die maatskappy nie betaal nie, sal Solidariteit hul dagvaar.

Benewens die banier het Solidariteit ook nóg 38 reklameborde met dieselfde boodskap in Johannesburg opgerig.

Volgens Solidariteit is daar ʼn wettige kontrak met die advertensieagentskap. Die agentskap huur advertensieruimte by die metro, en Solidariteit het op sy beurt by die agentskap gehuur.

“Ons het al die vereistes nagekom. Ons het nou ons banier teruggekry en wil ons geld terughê. Ons gaan ook voort met die veldtog,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Vir Solidariteit is daar geen twyfel dat sy banier onregmatig weens die boodskap verwyder is nie. Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het op X gesê die “anti-transformiste” moet verslaan word, en ʼn foto van die banier daarby geplaas. Mgcini Tshwaku, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Johannesburg-metro, het op Lesufi se plasing gereageer met ʼn video wat wys hoe die banier verwyder word.

“Solidariteit gaan voort met sy veldtog. Die feit bly staan dat Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld is. Die banier, en 38 ander reklameborde, plaas die kollig daarop en het ʼn nasionale en internasionale debat ontketen. Ten minste word daar nou oor Suid-Afrika se radikale rasbedeling gepraat,” sê Hermann.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel