Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hofstryd teen voorgeskrewe sektorkodes in regsberoep duur voort
Deur Robin-Lee Maré
Die tweede dag van Solidariteit se hofstryd teen die regering se voorgeskrewe sektorkodes vir die regsberoep is gister in die Hooggeregshof in Pretoria afgehandel en duur vandag voort.
Solidariteit se saak word saam met dié van vier ander regsfirmas aangehoor in ’n gesamentlike uitdaging teen die wettigheid en grondwetlikheid van die transformasieteikens wat op die regsberoep afgedwing word.
Die verrigtinge het op 4 Mei afgeskop en fokus op die sektorkodes vir die regsberoep wat streng rasgebaseerde vereistes aan regsfirmas en advokate stel.
Gedurende dag twee van die verrigtinge het die eerste applikant se regsverteenwoordiger hul argumente aan die hof voorgelê. Daarna het die tweede, derde en vierde applikante, wat deur dieselfde advokaat verteenwoordig word, hul onderskeie sake aangebied. Solidariteit se regsverteenwoordiger het daarna hul saak voor die hof gestel.
Die verrigtinge het egter ’n interessante wending geneem toe een van die respondente se regsverteenwoordigers beswaar gemaak het oor ’n opmerking deur een van die regters en aangedui het hulle gaan moontlik ’n aansoek vir haar onttrekking uit die saak gaan bring.
Dit is egter vandag bevestig dat geen sodanige aansoek vir onttrekking gebring gaan word nie en die respondente sal vandag met hul argumente voortgaan.
Michael Smith, koördineer van Solidariteit se Regsnetwerk sê Solidariteit bly vasbeslote om die kodes te beveg.
“Die regsberoep behoort op meriete, bevoegdheid en professionele standaarde gegrond te wees, nie bloot voorgeskrewe raskriteria nie. Hierdie saak is van kardinale belang vir die toekoms van die regsberoep en vir elke regspraktisyn wat glo in regverdigheid en grondwetlike beginsels,” sê Smith.