
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
#Hoopdraer-toekenning: Platinumdistrik se maatskaplike werker is goud werd
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk plaas jaarliks ʼn kollig op die hoopdraers in ons midde met die Hoopdraer-toekenning, waar elf streekswenners aangekondig word. Lees meer oor die streekswenner hieronder.
Hierdie toekenning, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, erken maatskaplike werkers wat ʼn beduidende verskil in hulle gemeenskappe maak.
Een van hierdie inspirerende individue is Zinè Naudé uit Rustenburg. Haar passie, toewyding en onwrikbare geloof in die potensiaal van mense maak van haar ʼn waardige ontvanger van hierdie toekenning.

Zinè se liefde vir mense en kinders het haar gelei na ʼn loopbaan in maatskaplike werk, al was dit nie haar oorspronklike plan nie.
“Die Here het maatskaplike werk as ʼn roeping in my lewe geplaas. Dit was sy plan, en ek weet dat ek vandag presies is waar ek moet wees,” deel sy.
Met haar eie lewenservaring as agtergrond het Zinè ʼn unieke perspektief op gebrokenheid ontwikkel.
Een van die mees betekenisvolle ervarings in haar loopbaan was toe sy ʼn baba in pleegsorg kon plaas by liefdevolle pleegouers.
“My hart was só seer, maar daardie skitterende ogies en breë glimlag het my herinner dat ek dalk nie die wêreld verander het nie, maar dat ek iemand se wêreld verander het.”
Zinè was oorweldig met emosie toe sy as die streekswenner aangewys is.
“Ek voel uit my hart uit geëerd dat mense my as ʼn hoopdraer sien en my genomineer het. Die toekenning motiveer my om aan te hou dien, selfs wanneer dit voel asof ek nie ʼn verskil maak nie.”
Sy glo dat ware verandering begin deur die potensiaal in ander raak te sien en hulle te help om dit te benut. Sy beklemtoon hoe belangrik wedersydse respek en vertroue in maatskaplike werk is.
“As mense jou nie vertrou nie, is dit moeilik om hulle te help om hul eie potensiaal te ontdek,” verduidelik Zinè.
Een uitdaging wat sy uitlig is hoe alle mense nie altyd gereed is om hulp te ontvang nie.
“Dit bly ʼn bitter pil om te sluk, want jy sien mense se potensiaal, maar jy kan hulle nie dwing om dit te benut nie.”
Zinè identifiseer die grootste uitdaging in maatskaplike werk as gesinsgebrokenheid.
“Onopgeloste trauma verwoes gesinne en lei tot gebroke kinders wat as volwassenes sukkel om te ‘cope’. Ons moet by die individu begin en hulle help om gesond te word voordat gesinsstrukture kan verbeter,” vertel sy.
Volgens Zinè is die behoefte aan maatskaplike werkers in die Platinum-streek, waar sy werksaam is, asook die res van die wêreld baie groot.
“Ons toekomstige generasie het die potensiaal om gesonde gesinstrukture te kweek en die bose kringloop te breek. Dit is ons verantwoordelikheid om hulle te help.”
Zinè se grootste dryfkrag is haar geloof, haar familie en haar man wat haar onophoudelik ondersteun.
Zinè Naudé se storie is ʼn inspirasie vir alle Suid-Afrikaners. Deur haar onbaatsugtige werk en onwrikbare hoop is sy ʼn lig in die gemeenskap en bewys sy dat ʼn enkele persoon werklik ʼn verskil kan maak. Sy is ʼn ware #Hoopdraer.
Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in dié beroepsveld só te kan beloon.
“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike veld te vereer.
Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding hulle gemeenskappe dien, en wat ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekswenners, ʼn topdrie en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.