
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Maatskaplikewerkersdag: Solidariteit gee erkenning aan die #Hoopdraers van ons samelewing
Op Maatskaplikewerkersdag vier Solidariteit die ongesiene helde van ons gemeenskappe! Solidariteit het op 18 Maart byna 700 maatskaplike werkers landwyd besoek om hulle vir hul harde werk en toewyding aan die beroep te vereer. Lees hier meer oor die waarde van maatskaplike werkers en hoe Solidariteit hierdie gemeenskapshelde vereer.
Deur Kyla-Ann du Toit
Op 18 Maart vier ons Maatskaplikewerkersdag – ʼn dag waarop die onbaatsugtige werk en toewyding van maatskaplike werkers regoor Suid-Afrika erken word. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk het maatskaplike werkers landwyd besoek om die nodige erkenning aan hierdie belangrike persone te gee en hulle te vereer vir die werk wat hulle in ons gemeenskappe doen.
Maatskaplike werkers speel ʼn kardinale rol in die samelewing, en hul werk strek veel verder as net kinderbeskerming. “Van wiegie tot graf speel maatskaplike werkers ʼn rol in die welstand van diegene vir wie hulle sorg,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Maatskaplikewerkersdag: ʼn Boodskap van waardering
Volgens Smit is dit belangrik dat die publiek maatskaplike werkers respekteer en hulle ondersteun deur hulpbronne en ander vorme van bystand te bied.
Hierdie jaar het Solidariteit se netwerkorganiseerders landwyd aan Maatskaplikewerkersdag deelgeneem deur byna 700 maatskaplike werkers te besoek. Van Pretoria, Centurion en Brits tot Rustenburg en Limpopo – oral is maatskaplike werkers se harde werk en toewyding erken.
Radio-onderhoude is ook met Pretoria FM en Groot FM gevoer, besoeke is aan organisasies soos Jakaranda Kinderhuis afgelê, en netwerkgeleenthede is in verskeie streke gehou.
“Vir diegene wat ons nie vandag fisies kan besoek nie, weet dat ons julle waardeer. Gelukkige Internasionale Maatskaplikewerkersdag! Julle is goud werd,” sê Smit.

Solidariteit se #Hoopdraer-kompetisie
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk speel ʼn belangrike rol in die ondersteuning van hierdie beroep en bied verskeie inisiatiewe, soos die jaarlikse #Hoopdraer-kompetisie in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, aan.
“Ons het besef dat ons nie net maatskaplike werkers se hande moet versterk nie, maar ook ʼn lig op hul beroep moet skyn. Een manier waarop ons dit doen, is deur die jaarlikse #Hoopdraer-toekenning, waar ons maatskaplike werkers vir hul passie en toewyding vereer,” sê Smit. Hierdie spesiale toekenning gee erkenning aan individue wat ʼn buitengewone bydrae lewer en ʼn bron van hoop vir ander is.
“Die #Hoopdraer-kompetisie vier maatskaplike werkers wat lig bring waar daar donkerte is,” sê Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk. “Hierdie toekenning beklemtoon die klein dade wat groot verskille in mense se lewens maak. Dit is ons manier om dankie te sê aan diegene wat hoop in hul gemeenskappe sigbaar maak.”
Hiermee die #Hoopdraer-streekwenners:
- 1. Vereeniging (Vaaldriehoek): Suanne De Bruyn
- 2. Alberton (Oos-Rand): Yulanda Kruger
- 3. Bloemfontein (Vrystaat): Luchell Coetzee
- 4. Naamboomspruit (Limpopo): Marie Ubbink
- 5. Port Elizabeth (Oos-Kaap): Sanet Viljoen
- 6. Kimberley (Noord-Kaap): Estie Botha
- 7. Potchefstroom (Noord-Wes): Karen van der Berg
- 8. Kaapstad (Wes-Kaap): Nicolette
- 9. Mpumalanga: Marla Louw
- 10. Rustenburg: Zinè Naudè
- 11. Pretoria (Gauteng): Anél Myburgh
Besoek gerus www.solidariteit.co.za om meer te lees oor die #Hoopdraer-streekwenners vir 2025.

Uitdagings in maatskaplike werk
Maatskaplike werk is ʼn veeleisende beroep met talle uitdagings. Volgens Smit is die gebrek aan befondsing en ondersteuning van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling van die grootste struikelblokke. “Daar is beperkte hulpbronne vir die aantal dienste wat gelewer moet word. Suid-Afrika se maatskaplike sektor is in ʼn moeilike posisie, en maatskaplike werkers moet elke dag hul roeping en passie kombineer om hul bes vir hul gemeenskappe te doen,” sê sy.
Erasmus voeg by dat maatskaplike werkers dikwels die eerste vorm van ondersteuning vir individue en gesinne in nood is. “Hulle is diegene wat die deure oopmaak vir hulp wanneer ander deur moeilike tye gaan,” sê sy.
Ten spyte van hierdie uitdagings bly maatskaplike werkers standvastig in hul missie om ander te help. Dit is waarom dit só belangrik is om hulle te ondersteun en te waardeer vir die onskatbare werk wat hulle doen.
ʼn Huldeblyk aan die #Hoopdraers van ons gemeenskappe
“Maatskaplikewerkersdag herinner ons daaraan dat daar mense is wat elke dag stil-stil die swaar saam met ander dra,” sê Erasmus. “Hierdie dag gee erkenning aan dié wat hoop bring wanneer ander dit die meeste nodig het.”
Smit se boodskap aan maatskaplike werkers op hierdie spesiale dag is duidelik: “Jy as maatskaplike werker is die lig in iemand se donker. Jy is van onskatbare waarde vir elke persoon wat jy aanraak. Staan vandag jou skoene vol en ken jou eie waarde – jy is nie nét ʼn maatskaplike werker nie; jy is dié maatskaplike werker!”

Word deel van jóú beroepsgemeenskap
Maatskaplike werkers is werklik die ongesiene helde van ons samelewing. Hulle bring hoop en skyn lig in mense se donkerste omstandighede.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk erken dat maatskaplike werk ʼn roeping is en bied daarom ʼn veilige hawe vir maatskaplike werkers waar hulle die nodige ondersteuning en geleenthede vir ontwikkeling kan vind.
Sluit vandag nog by Solidariteit aan en word deel van jóú beroepstuiste wat jou beskerm, ondersteun en vereer!