
Foto Krediet: Solidarteit
Gekopieër
Solidariteit bereik mylpaal van 100 000 profielregistrasies
Solidariteit se platform het ʼn indrukwekkende mylpaal van 100 000 profielregistrasies bereik. Hierdie prestasie bewys dat die platform nie net ʼn databasis is nie, maar werklik ʼn lewendige ruimte vir selfontwikkeling en vooruitgang is. Solidariteit is jóú beroepstuiste waar jy werklik jou volle potensiaal kan bereik. Lees hier meer oor hierdie enorme mylpaal en waarom jy deel van hierdie aanlyn gemeenskap moet word.
Deur Kyla-Ann du Toit
100 000 drome. 100 000 geleenthede. 100 000 mense. Solidariteit se platform vir werk en leer het ʼn mylpaal van 100 000 profielregistrasies bereik. Dit is nie net ʼn getal nie, maar ʼn bewys van ʼn groeiende gemeenskap wat saamwerk om beroepsgeleenthede, netwerke en opleiding binne ʼn waardegedrewe raamwerk te versterk.
“Die platform het sy eie momentum begin ontwikkel en word al hoe kragtiger met elke individu wat besef hulle is deel van iets groter,” sê Hennie Bierman, hoof van die Solidariteit-netwerkplatform.
Die droom van ʼn selfstandige beroepsgemeenskap
Die idee vir Solidariteit se platform is gebore vanuit ʼn droom van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat besef het dat daar ʼn behoefte is aan ʼn sterk, selfstandige netwerk waar mense met gedeelde waardes mekaar kan vind, ondersteun en ekonomies kan versterk.
“Solidariteit bou al dekades lank aan ʼn vry, veilige en voorspoedige gemeenskap, en hierdie droom van ʼn plek waar mense mekaar kan help om hul roeping en loopbane uit te leef, was gekonsepsualiseer en ontwikkel in die vorm van ʼn platform,” sê Bierman. Onder die leiding van Dawid Durie, adjunkbestuurshoof van operasionele dienste by Solidariteit, is hierdie droom in ʼn digitale werklikheid omskep. Vandag, met 100 000 geregistreerde gebruikers, is dit duidelik dat hierdie visie suksesvol gerealiseer word.
ʼn Groeiende netwerk
“Ons doel was nog altyd om nie net ʼn databasis te skep nie, maar ʼn aktiewe gemeenskap waar werk, sake en geleenthede gedeel word,” sê Bierman. “Elke individu op hierdie platform is deel van ʼn netwerk wat groei, bou en bydra tot ʼn sterker toekoms.”
Met 3 000 aktiewe werkgewers en 10 000 poste wat reeds op die platform gelaai is, is dit duidelik dat die netwerk groei. Daar is ook meer as 5 000 Solidariteit-lede wat aktief deelneem aan beroepsnetwerkgroepe, en die nagenoeg 150 kursusse vir voortgesette leer help lede om hul vaardighede verder te ontwikkel.
Die platform is dus nie net ʼn brug na geleenthede nie, maar ʼn werklike instrument vir selfontwikkeling en vooruitgang.
Die toekoms van Solidariteit se platform
Volgens Bierman is hierdie groei slegs die begin. “Ons bou nie net ʼn platform nie – ons bou ʼn vry, veilige en voorspoedige gemeenskap,” sê hy. “Ons gaan voort met die ontwikkeling van die platform, met beplande uitbreidings soos persoonlike loopbaanadvies, sterker skakeling met instellings soos Wolkskool, Akademia, Sol-Tech en Bo-Karoo Opleiding, en groter ondersteuning vir entrepreneurs en ondernemings.”
Bierman se visie vir die toekoms is ambisieus: “Ons wil hê dat ons netwerk só sterk moet wees dat ons nie net mense help om werk te kry nie, maar om nuwe beroepe te skep. Dit moet ʼn plek wees waar opleiding, werksgeleenthede en beroepsontwikkeling naatloos geïntegreer word.”
Gebruikers kan verwag dat die platform meer verpersoonlik en interaktief gaan raak. Dit beteken beter pasgemaakte voorstelle, geleenthede en sterker gemeenskapsbetrokkenheid. “Ons glo in #ElkeenHelpEen en daarom wil ons hê dat mense nie net na werk of hulpbronne soek nie, maar self geleenthede onder mekaar skep – uit die gemeenskap vir die gemeenskap,” sê Bierman.
ʼn Wêreldklas-platform vir ʼn unieke gemeenskap
Sedert sy bekendstelling het die platform gegroei van ʼn eenvoudige werksoekportaal na ʼn lewendige netwerk. “Ons het in wêreldklas-tegnologie belê om beter pasmaats vir poste te vind, werkplasings makliker te maak en die ekosisteem met ander Solidariteit-instellings te integreer,” sê Bierman.
Die grootste trots vir Bierman is die tasbare impak van die platform. “Ons sien hoe mense wat gesukkel het om werk te kry, nou nuwe geleenthede vind. Jong mense kry mentors, ondernemings vind ideale werknemers en netwerke word versterk. Dit is vir my die grootste bewys dat ons nie net ʼn digitale oplossing bou nie, maar ʼn werklike verskil in mense se lewens maak.”
Die platform het ontwikkel van ʼn eenvoudige werksoekportaal na ʼn lewendige gemeenskap. In die begin was dit ʼn plek om werk te soek, maar nou is dit ’n netwerk waar mense vry kan wees van rasmalheid, die gemeenskap mekaar kan ondersteun, en lede aktief betrokke kan raak in hul eie beroepsontwikkeling.
ʼn Beroepstuiste vir die Afrikaanse gemeenskap
Met 100 000 registrasies vier Solidariteit nie net ʼn getal nie, maar ʼn beweging. Hierdie platform is besig om die toekoms van Afrikaanse beroepslui, entrepreneurs en gemeenskapsbou te hervorm. En soos Bierman tereg sê: “Ons bou nie net ʼn platform nie – ons bou ʼn sterker, selfstandige toekoms.”
Van werksoek, leer, videoreekse, artikels en vele meer – Solidariteit is jóú beroepstuiste waar jy werklik jou volle potensiaal kan bereik! Registreer vandag nog jou gratis profiel en word deel van ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.