
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Moedertaal ʼn móét in SA as leerders wil gedy, hoor departement
Die Solidariteit Onderwysernetwerk het ʼn pleidooi vir groter erkenning van die waarde van moedertaalonderrig in skole gelewer. Dit is deur middel van ʼn voorlegging aan die Gautengse onderwysdepartement se komitee vir opleiding en ontwikkeling van onderwysers (PTEDC) in Centurion gedoen. Lees meer hier.
In die voorlegging noem Anlia Archer, ʼn onderwysspesialis verbonde aan die netwerk, hoe onderrig ʼn in ʼn kind se moedertaal kognitiewe, akademiese asook kulturele voordele inhou.
Ter ondersteuning van haar argument het sy verwys na bevindings van studies, waaronder dié deur deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, UNESCO, asook navorsing wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor moedertaalonderrig gedoen is.
Daarvolgens presteer leerders wat in hul moedertaal skoolgaan akademies beter en ontwikkel hulle sterker kritiese denkvaardighede, terwyl hulle ook kennis beter kan stoor of onthou.
Archer het in haar voorlegging uit UNESCO se navorsing oor moedertaalonderrig aangehaal, en genoem hoe kinders danksy moedertaalonderrig vinniger kan leer, beter verstaan en ʼn sterker grondslag vir lewenslange leer kry. Volgens dié navorsing is taal nie slegs ʼn kommunikasiemiddel nie, maar ook ʼn draer van identiteit en kultuur en ʼn sleutel waarmee potensiaal ontsluit word.
Verder het sy neurowetenskaplike studies aangehaal waarin aangetoon word hoe moedertaalonderrig ʼn kind se geheue, logika en ontledings vermoëns bevorder.
“Navorsing toon ʼn duidelike verband tussen moedertaalgeletterdheid en welslae in ander vakke. Dit beklemtoon die belang van die taal waarmee ʼn kind bekend is as die grondslag van goeie leer.
“Dit word ook beaam deur die SNI se navorsing wat in 2024 se Skoolverlatersverslag vervat is en waarin meer as die helfte van matrikulante gesê het hulle verkies om tersiêre onderrig in hul moedertaal te ontvang, juis omdat dit begrip en akademiese prestasie bevorder,” sê Archer.
Verder het sy die deurslaggewende rol van moedertaal in die bewaring van kulturele erfenis en gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon – ʼn aspek wat veral van belang is in ʼn diverse samelewing soos dié in Suid-Afrika.
Die uitdagings wat die implementering van moedertaalonderrig in die meeste van Suid-Afrika se 12 amptelike landstale belemmer, word ook in die voorlegging aangedui, naamlik beperkte hulpbronne, gebrek aan konsekwentheid met betrekking tot taalbeleid en die gebrekkige ontwikkeling van sekere inheemse tale as akademiese tale.
Enkele voorstelle word dan daaroor gemaak:
- die bevordering van vennootskappe met die privaat sektor om moedertaalonderrig in skole te ontwikkel en te befonds;
- die ondersteuning van skoolbestuur in gemeenskappe waar die departement van onderwys nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie;
- ‘n Gefokusde inisiatief met die opleiding van onderwysers wat hulle doeltreffend toerus om in hul eie moedertaal te kan onderrig; en
- om die mees algemene inheemse tale as ʼn prioriteit tot akademiese tale te ontwikkel alvorens dit na die ander tale uitgebrei word.
Archer het namens Solidariteit ʼn beroep op belangegroepe gedoen om pogings te steun waarvolgens beter taalbeleide vir veral die grondslagleerfase geskep word.
“Dit is geen kitsoplossing nie, maar deur samewerking kan ons tree vir tree vooruitgang maak wat regte verandering in opvoeding vir alle leerders in Suid-Afrika kan teweegbring,” sê Archer.
Die Solidariteit Beweging beskou die opleiding van onderwysers ook as ʼn belangrike taak. Juis daarom het instellings van die Beweging verskeie hulpmiddels ontwikkel. Dit sluit onder meer in:
- die Solidariteit Onderwysernetwerk wat ondersteuning aan onderwysers saam met kursusse vir deurlopende leer en bemagtiging van onderwysers op ‘n aanlyn platform en in-persoon bied;
- die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat kurrikulum-spesifieke opleiding en hulpmiddels aan onderwysers bied;
- Akademia se B.Ed-onderwyskwalifikasies en ander nagraadse sertifikate en ander kursusse spesifiek vir voorgenome en afgestudeerde onderwysers; en
- Sol-Tech se kwalifikasie in Vroeëkinderjare-ontwikkeling.
Solidariteit se voorlegging aan die Gautengse onderwysdepartement is hier aangeheg.