loading
Artikels
1 week gelede
maatskaplike-werker-van-limpopo-wat-eens-self-in-pleegsorg-was-met-solidariteit-toekenning-vereer

Foto Krediet: Verskaf

Maatskaplike werker van Limpopo wat eens sélf in pleegsorg was met Solidariteit-toekenning vereer

“Ek is self ‘n produk van maatskaplike werk. Ná die verlies van my ouers is ek en my broer in pleegsorg en later in ‘n kinderhuis geplaas. Dit was ‘n tyd van onsekerheid, maar ook waar ek die belangrike rol van maatskaplike werkers eerstehands ervaar het,” Vertel Marie. Lees haar aangrypende storie hieronder.


Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, laat jaarliks die kollig val op die hoopdraers in ons midde deur die Hoopdraer-toekenning. Elf streekswenners word elke jaar aangekondig.

Hierdie Solidariteit-toekenning gee erkenning aan maatskaplike werkers wat ʼn beduidende verskil in hul gemeenskappe maak.

Een van hierdie inspirerende streekswenners is Marie Ubbink van Naboomspruit. Haar roeping as maatskaplike werker het haar gelei om hoop en lig te bring waar dit die nodigste is.

Marie glo dat elke mens met waarde en ʼn doel geskape is, ongeag hul omstandighede.

“Om hoop te bring waar daar wanhoop is, om lig te wees waar duisternis oor mense se lewens hang – dít is waartoe ek geroep is. As maatskaplike werker het ek die voorreg om mense op hul lewenspad te ondersteun, hul krag te help ontdek en hul waardigheid te beskerm,” verduidelik sy.

“Elke glimlag, elke traan en elke oorwinning saam met ʼn gesin of ʼn ouer persoon laat my hart warm klop.”

Marie se pad na maatskaplike werk het as ʼn persoonlike lewenservaring begin.

“Ek is sélf ʼn produk van maatskaplike werk. Ná die verlies van my ouers is ek en my broer in pleegsorg en later in ʼn kinderhuis geplaas. Dit was ʼn tyd van onsekerheid, maar ook een waar ek die belangrike rol wat maatskaplike werkers speel eerstehands ervaar het,” vertel Marie.

Hoewel sy aanvanklik huiwerig was om maatskaplike werk te studeer, het sy gou besef dit was haar lewensroeping. Haar akademiese reis het haar van opvoedkundige studie tot ʼn PhD in Maatskaplike Werk geneem.

“Ek het vir ʼn ruk in die akademie gewerk, maar diep binne my het ek geweet ek wil na die mense self terugkeer. Op die ouderdom van 40, tydens ʼn bootreis, het ek in gebed gevra wat die Here vorentoe met my wil doen. Die antwoord was duidelik: ‘Werk met mense.’”

Nou leef Marie haar roeping by Die Oog Aftreeoord uit waar sy die waardigheid en welstand van ouer mense beskerm. “Ek glo dat ek nie vandag hier sou wees sonder die ondersteuning wat ek as kind ontvang het nie. Daarom is ek met volle oortuiging hier om ander te help.”

Een van die mees betekenisvolle ervarings in Marie se loopbaan was toe sy ʼn jong dame deur terapie gehelp het om trauma te verwerk.

“Met verloop van tyd het sy haar selfvertroue herwin en uiteindelik haar graad suksesvol voltooi. Haar dankbaarheid was opreg, maar die grootste eer was toe sy my gevra het om haar op haar troudag by die kerk in te bring. Dit was vir my ʼn diep emosionele oomblik wat bevestig het dat ek nie net ʼn professionele rol in haar lewe gespeel het nie, maar ook deel was van haar genesing.”

Marie was stomgeslaan toe sy as ʼn streekswenner aangewys is.

“Ek het net ʼn jaar gelede die akademie verlaat en weer my plek in die praktyk begin inneem. Om so gou daarna erken te word, was ʼn groot verrassing. Dit is vir my ʼn ongelooflike bemoediging en herinnering dat my pogings ʼn verskil maak.”

Marie het haar graad in 1982 verwerf en is al langer in die beroep as wat sommige van haar kollegas oud is. “Maatskaplike werk is nie net ʼn beroep nie – dit is ʼn lewensreis. En ek leer steeds, elke dag.”

Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, sê dit is ʼn groot voorreg om staatmakers in hierdie beroepsveld op dié manier te kan beloon.

“Die Hoopdraer-toekenning is ʼn spesiale toekenning wat die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk en Solidariteit Helpende Hand jaarliks toeken om uitmuntende werk in die maatskaplike professie te vereer.

Dit gee erkenning aan individue wat met passie, empatie en toewyding in hul gemeenskappe werksaam is, en wat  ʼn bron van hoop en inspirasie vir diegene rondom hulle is. Die toekenning sluit streekswenners, topdriewenners en uiteindelik ʼn algehele wenner in,” sê Erasmus.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel