

Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
In die beskuldigdebank: Swart Ekonomiese Bemagtiging
Deur Pieter Jordaan
Die uurglas loop leeg vir Swart Ekonomiese Bemagtiging, of sommer BEE soos die meeste van ons dit ken.
Dít is, ironies genoeg, eintlik goeie nuus vir die bemagtiging van swart Suid-Afrikaners.
Hierdie beleid plaas ʼn geweldige las op die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat in der waarheid ʼn bykomende las op alle Suid-Afrikaners plaas, ongeag hul velkleur. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se onlangse verslag oor SEB het die impak van hierdie las in skokkende syfers uitgebeeld:
Dit kos Suid-Afrika tot en met R290 miljard per jaar om aan SEB-vereistes te voldoen, wat sorg vir ʼn afname van tot 3% in BBP-groei en het heel moontlik tot dusver tot die verlies van 3,8 miljoen werksgeleenthede gelei.
SEB is weliswaar nie ʼn las vir die klein groepie swart elite wat mildelik daarby baat nie, maar die reputasieskade wat hierdie beleid gely het dwing hulle stelselmatig, en gereeld teen hulle sin, tot inkeer.
Só het die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, en selfs voormalige president Kgalema Mothlanthe onlangs erken dat hierdie beleid (en ander transformasiebeleide) moontlik ‘hersien’ sal moet word.
Daar word te veel vrae hieroor vir die ANC-hoës gevra om dit verder te kan ontken. Die waarheid word ontbloot.
Maar, nie net politieke en burgerlike druk is daaroor aan die toeneem nie. Arm Suid-Afrikaners wat selfs tradisioneel vir die ANC gestem het besef dat hierdie beleid hulle niks baat nie en dit is te sien in die ANC se swak vertoning by die stembus. Dit is nou ʼn kodewoord waarmee mense geflous moet word deur hulle te laat dink hulle word bemagtig, terwyl hulle as’t ware van iets beter beroof word.
Van afskaf is daar geen sprake nie, en daar sal heel moontlik nooit sprake daarvan wees solank die ANC die laaste sê daaroor het nie. Selfs al het die meeste van ons nou al van prof. William Gumede se raming gehoor van die nagenoeg R1 biljoen (‘trillion’) se SEB-gelde wat oor die afgelope dekades tussen slegs ongeveer 100 begunstigde individue gedeel is, sal SEB moontlik steeds tot ʼn mate beleid in Suid-Afrika bly.
Dit is ʼn euwel wat groei en ontwikkeling in Suid-Afrika en vir miljoene Suid-Afrikaners belemmer. Hierdie bemagtiging is buitendien nie iets wat van die staat af moet kom nie.
Die welbekende ekonoom Dawie Roodt sê aan die Daily Investor dat die staat daarop moet fokus om ʼn omgewing te skep waarin mense hulleself kan bemagtig.
Solidariteit is lankal ʼn voorstander van hierdie soort beleid wat ware ekonomiese deelname deur bemagtiging danksy die aanleer van nuwe vaardighede verkondig.
Hy moedig ook sy eie lede aan om by die idee van voortgesette leer in te koop.
Hierdie beginsel en die syfers wat dit staaf moet eenvoudig oor en oor, en op elke platform aan ons politici opgedring word, tot by die punt waar SEB en die kadermisdade wat dit aanmoedig op die ashoop beland.