Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
In die voue van die Here se kleed is jou noodlyn
Deur Tanya Oosthuizen
Die plasings is uit, jy gaan na die ICSP se webblad en jy sien jy is provinsies ver van jou ouerhuis, jou gemeenskap en jou gemaksone af geplaas. Jou moed sak in jou skoene en die las wat voor jou lê, voel te swaar om te dra. Ek wil vir jou sê: Dit ís te swaar om te dra – alleen! Jy moet die las oorgee aan die Here, anders gaan jou internskap jou breek. Dié las was en sal nooit jou las wees om te dra nie.
Jy het vyf of ses jaar lank medies geswot en nou word jy vir die eerste keer in jou lewe “uitgestuur.” Jy het jou “Ja” gegee en die eed van Hippokrates afgelê, en die Here het jou “Ja” ernstig opgeneem. Weet net dat Hy jou reeds met die een “Ja” wat jy gegee het, en wat voorwaardes bevat het (al het jy dit nie geweet nie) reeds vooruitgegaan het, en ʼn miljoen klein ja’s van sy eie bygevoeg het wat reeds in die Skrif belowe is.
Word jy alleen uitgestuur?
Lukas 10:1-2: “Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.’”
Die antwoord op die vraag of jy alleen uitgestuur word, is dus: “Nee, daar is ekstra arbeiders wat saam met jou uitgestuur word.” Laat hulle toe om jou te help. Vorm bande met al jou kollegas en elke personeellid in die hospitaal. Vriendskap gaan jou vêr bring. Sluit so gou as moontlik aan by ʼn gemeenskap, voor jy geroep was vir die hospitaal, was jy eerste geroep vir jou plaaslike kerk.
Wat van alles wat jy moet agterlaat om ʼn dokter te gaan wees in ʼn vreemde “land”?
Markus 10:29: “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond.”
Christenskap is egter nie net lekker nie. Markus10:30 DB: “ ʼn Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ʼn Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ʼn persoon die ewige lewe ook kry.”
Hy gee honderd maal soveel terug. Wees opgewonde en sien met afwagting uit na al die nuwe verhoudings, plekke en mense wat jy gaan ontmoet en die grond wat jy gaan kry as gevolg van jou een baie onperfekte “Ja”. Leuens dat jy nie daar hoort nie en dat jy nie die mas gaan opkom nie, gaan in jou gedagtes gesaai word, en jy gaan gereeld wonder wie jou gaan uitvang.
Jy is nie waardig nie, daarom moes Jesus vir jou sterf. Hy het jou geroep by jou Naam, en Sy genade is genoeg en word perfek in jou swakheid gemaak. “As julle egter in ʼn situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is oor hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee.” (Jakobus 1:5 DB)
Wat as jy uitbrand weens die lang skofte (gewoonlik 30 uur lank), die min slaap en die emosionele tol wat jou pasiënte se emosionele bagasie van jou gaan eis?
Jy gaan uitbrand, menig maal. Maar weet net, Hy kan jou nuwe kragte gee. Gaan sit by Sy voete so gou as moontlik, hou ʼn “debrief” met ʼn kollega en doen iets lekkers. Moenie jou passies en stokperdjies afskeep nie. As jy eers na jou eie siel kyk, alleen dan kan jy na ander se siele en liggame kyk. Ons moet altyd uit ʼn toestand van oorvloed dien, nie dien en verwag ons gaan in oorvloed hê nie.
Wat van die pasiëntsterftes wat jy onvermydelik gaan ervaar? Hoe gaan jy dit hanteer?
Johannes 11:25 DB: “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ʼn Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe.” Johannes 11:26 DB: “Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie. Aanvaar jy dit wat Ek vir jou sê, Marta?”
Ja, pasiënte gaan sterf en soms gaan dit jy wees wat die nuus aan die familielede moet oordra. Dit gaan te veel voel. Maar jy gaan net doen wat jy kan. Jy is verantwoordelik om aan jou pasiënte die beste kans op lewe te gee wat jy moontlik kan, maar jy kan en moenie God speel nie. As jy ʼn pasiënt verloor, gaan jy die pasiënt toelaat om met waardigheid te sterf en jy gaan die familie vertroos. Hy alleen is die Alfa en Omega..
Los die werk by die werk, en maak jou huis jou veilige plek waar jy kan ontspan en afskakel. As dit moeilik raak en jy wil opgee, dink terug. Dink terug aan die eerste keer wat jy jou stetoskoop kon dra en hoe trots jy gevoel het. Dink terug aan hoe moeilik dit was om vir medies gekeur te word . Dink terug aan jou eerste akkurate diagnose. Dink terug aan die lang ure se geswot en kyk dan vorentoe. Jou toekoms is blink. Twee jaar vlieg verby en jy gaan die tye van jou internskap saam met jou kollegas mis.
Gee jou internskap oor aan die Here en die kruis sal jou nie breek nie; inteendeel dit gaan jou vryspreek en terugbring aarde toe. Jou vlees en selfsugtige begeertes gaan sterf, en ʼn nuwe jy gaan opstaan met God se krag en insig.
Maak asseblief die beste van jou internskap: Beleef dit ten volle, leer daaruit en groei.