
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
In gesprek met Wouter Snyman
Deur Ané Janse van Rensburg
Wouter Snyman is onlangs as ʼn adviesraadslid van die Solidariteit Finansiesnetwerk verkies. Snyman is onder meer die stigter en uitvoerende hoof van die finansiëledienste-maatskappy, attooh!
Solidariteit het ʼn onderhoud met Snyman gevoer oor sy rol in die bedryf en hoe hy as ʼn adviesraadslid ʼn verskil wil maak.
Waar het jou passie vir finansies ontstaan ?
Ek stap al 43 jaar lank ʼn pad in finansies. My ouers is geskei toe ek 13 was en my ma was ʼn haarkapster. Ek het een dag op haar afgekom waar sy baie hartseer was en dit was omdat sy nie verstaan het hoe ons finansies werk nie. Daar het die passie by my ontstaan omdat ek nooit weer in ʼn situasie wou wees waar dié wat die naaste aan my is nie weet hoe hulle finansies werk nie. Ek het toe besef dat daar ʼn baie groter sistemiese probleem in Suid-Afrika is: Ons leer nie oor finansies by ons ouers, die skool of universiteit nie. My passie en droom is daarom juis om ʼn platform te skep waar mense meer kan leer van finansies. Ek sien ook daarna uit om daardie oordraging van kennis in my rol as adviesraadlid van die Solidariteit Finansiesnetwerk te bevorder.
Watter rol het jy tot dusver in die bedryf gespeel?
Ek is ná skool weermag toe en daarna het ek by die Pukke gaan studeer (die huidige Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus). Ek het my BCom-grade in Rekeningkunde en Informatika daar verwerf. Daarna het ek in die bankwese begin werk, waar ek bestuursrolle vervul het, spesifiek rondom korporatiewe bankwese. In 2009 het ek die geleentheid gekry om by die Discovery-groep te begin werk, waar ek ʼn senior posisie beklee het. Daarna het ek besluit om my eie pad in die finansiëledienste-wêreld te volg. Ek het ʼn besigheid opgebou wat, volgens die dienste wat ons lewer, fokus op jou finansies van die “wieg tot die graf, met ander woorde, van lewensversekering vandat jy gebore is tot jou boedel as jy eendag sterf. Die besigheidsmodel dek ʼn hele pad vir finansiële welvaart, met finansiële geletterdheid as kernkomponent. Ek het ook ʼn reeks boeke hieroor geskryf, juis oor hoe jy jou binne die raamwerk van finansiële prosesse met die nodige inligting kan toerus sodat jou reis nie een van swaarkry is nie, maar eerder een van plesier is.
As jy een les vir mense oor geld kan leer, wat sou dit wees?
Spandeer minder as wat jy verdien. Dit is die eerste stap om ʼn miljoenêr te word. As jy meer spandeer as wat jy verdien, is dit die eerste stap na finansiële ondergang. Die tweede stukkie raad is om gehalte-advies te kry oor hoe om jou spaargeld te belê om optimale opbrengste te verdien. Hoe vroeër jy kan begin, hoe beter. Einstein het gesê dat saamgestelde rente die agtste wonderwerk van die wêreld is. Diegene wat dit (saamgestelde rente) ken, verdien dit, en diegene wat dit nie ken nie, betaal dit. Daar is sekere gewoontes wat ons sal moet aankweek en sekeres wat ons moet afleer om seker te maak dat ons nie meer spandeer as wat ons verdien nie.
Wat is jou gunstelingaspek van die bedryf?
Beslis die opvoedingsgedeelte. Ek is eintlik in my wese ‘n onderwyser. Dit gaan vir my daaroor om kundigheid met mense te deel – meer nog, om dit op ʼn eenvoudige manier te deel sodat mense dit prakties kan toepas. Mense dink dit is baie ingewikkeld om finansies te verstaan, maar dit is eintlik een van die eenvoudigste onderwerpe wat daar is – juis omdat ons dit prakties in rand en sent kan toepas. Finansies is soos ʼn taal. Dit hou verband met jou geskiedenis en ʼn voorafbepaalde persepsie daarvan. Finansiële geletterdheid kan maklik aangeleer word, nes ʼn taal.
Wat is die algemeenste probleem wat jy vandag in mense se finansies teëkom?
Daar is ʼn paar punte: Eerstens gee mense meer uit as wat hulle verdien. Tweedens het die meeste mense nie ʼn plan vir hulle finansies nie, bloot uit vrees vir finansies of uit onkunde. Derdens probeer mense om hul finansiële eienaarskap aan iemand anders oor te laat. Tot soveel as 70% van Suid-Afrikaners het skuld. Mense droom ook te klein wat hul finansies aanbetref. Ons sit ʼn enorme beperking op onsself en het nie ʼn groot genoeg visie vir ons finansies nie. Finansies het die potensiaal om een van jou grooste genade-geleenthede te wees. Jy moet net bereid wees om dit aan te gryp.
Solidariteit wil die pad na finansiële vryheid saam met sy lede stap. Skakel vandag in by die Finansiesnetwerk en skuur skouers met kenners soos Wouter Snyman om jou beroep en finansies ʼn hupstoot te gee.