Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Internasionale én plaaslike druk teen SEB en rasbeleide versnel
Solidariteit sê die druk teen Suid-Afrika se rasgebaseerde beleide, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), neem vinnig toe – nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal – en dat die werklikheid van hierdie beleid nou toenemend blootgelê word.
Hierdie ontwikkeling volg nadat die Suid-Afrikaans gebore entrepreneur, Elon Musk, weer opslae gemaak het met ʼn plasing op X waarin hy uitwys dat sy onderneming, Starlink, weens rasvereistes nie in Suid-Afrika gelisensieer word nie.
Musk voer aan dat hy herhaaldelik genader is met voorstelle van omkopery waarvolgens hy sou kon voorgee dat Starlink SA deur ʼn swart persoon bestuur word, maar dat hy dit uit beginsel verwerp het.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is hierdie soort internasionale reaksie nie toevallig nie, maar noodsaaklik.
“Wat ons nou al vir ʼn geruime tyd sien, is dat Suid-Afrika se rasbeleid nie meer net binnelands bespreek word nie. Dit word internasionaal bevraagteken, en dit begin regstreeks belegging, ekonomiese groei en die land se reputasie raak,” sê Hermann.
Hy wys daarop dat plaaslike weerstand terselfdertyd besig is om momentum op te bou.
“Regsaksies deur Solidariteit en ander organisasies teen werkplek-teikens toon dat die weerstand reeds diep gewortel is. Wat nou gebeur, is dat plaaslike en internasionale druk begin saamvloei, en dit verander die speelveld.”
Solidariteit waarsku dat die Suid-Afrikaanse regering se volgehoue weerstand teen Starlink nie bloot ʼn abstrakte beleidskwessie is nie, maar ʼn werklike koste vir miljoene Suid-Afrikaners, veral in landelike en afgeleë gebiede.
Terwyl groot dele van Afrika reeds toegang tot hoëspoedinternet bied, is gemeenskappe buite Suid-Afrika se stedelike gebiede steeds aangewese op duur selfoondata of kleiner diensverskaffers wat dikwels verouderde en duur tegnologie gebruik.
Hermann beklemtoon dat toegang tot die internet vandag nie meer ʼn luukse is nie, maar ʼn noodsaaklikheid.
“Suid-Afrika is ʼn groot land met baie gemeenskappe wat steeds nie voldoende toegang tot die internet het nie. Dit beteken hulle word effektiewelik uit die moderne ekonomie uitgesluit.
“Starlink bied ʼn eenvoudige, kostedoeltreffende oplossing vir hierdie gemeenskappe, maar die regering weier om hierdie oplossing toe te laat bloot omdat hy aan sy rasideologie vasklou,” sê Hermann.
Volgens Hermann is die situasie ironies en onhoudbaar.
“Dit is eenvoudig onlogies om, ter wille van sogenaamde bemagtiging, te verhoed dat hierdie – meestal swart – gemeenskappe toegang tot die nuutste tegnologie kry.
“Baie huishoudings kan nie duur selfoondata bekostig nie, en in baie gevalle is daar nie eens betroubare netwerkdekking nie.
“SEB word dus toenemend ontbloot as ʼn stelsel wat hoofsaaklik swart politieke elite bevoordeel,” sê Hermann.
Solidariteit sê die groeiende reaksie van die publiek versterk die druk verder.
“Die publiek bly nie meer stil nie. Ons het ʼn beroep op die publiek gedoen om posadvertensies met rasvereistes by ons aan te meld, aangesien geen wet ras in sulke advertensies vereis nie.
“Sedertdien ontvang ons talle e-posse daaroor. Dit wys dat mense nie meer hierdie praktyke as normaal aanvaar nie – hulle begin dit aktief bevraagteken en blootlê,” sê Hermann.
Volgens hom dui dit op ʼn dieper verskuiwing in openbare denke.
“Daar is ʼn groeiende besef dat rasgebaseerde beleid nie net ʼn morele probleem is nie, maar ook ʼn praktiese een wat die ekonomie en dienslewering raak.
“Ons sien dit ook in die debat oor SEB. Ontleders soos William Gumede het uitgewys dat SEB in baie gevalle ontaard het in wanbestuur, korrupsie en die verkeerde aanwending van kapitaal.
“Dit bevestig dat die probleem nie net ideologies van aard is nie – dit het werklike, meetbare gevolge.”
Volgens Hermann plaas die kombinasie van hierdie faktore die regering onder toenemende druk.
“Suid-Afrika kan nie bekostig om die grootste deel van sy bevolking in die ekonomiese duister te hou ter wille van beleid wat nie werk nie.
“Wanneer beleggers terugstaan, entrepreneurs hul stemme laat hoor en gewone mense begin terugdruk, begin die werklikheid inskop.”
Hy doen ʼn beroep op werkgewers om nie te wag vir beleidsverandering nie, maar self op te tree.
“Werkgewers hoef nie te wag nie. Hulle kan reeds vandag begin deur meriete eerste te stel.
“Die vraag is nie meer of hierdie stelsel onder druk is nie; die vraag is hoe lank dit nog gaan hou,” sê Hermann.