Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteitv-erwelkom-eskom-tariefooreenkoms-vir-smelters

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit verwelkom Eskom-tariefooreenkoms vir smelters as hupstoot vir werksekerheid en nywerheid 

Solidariteit verwelkom die ooreenkoms tussen Eskom, Glencore-Merafe en Samancor oor ’n elektrisiteitstarief van 62 sent per kilowatt-uur as ’n belangrike deurbraak vir die Suid-Afrikaanse smelterbedryf en vir werksekerheid.

Die ooreenkoms, wat nog onderhewig is aan goedkeuring deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), volg ná uitgebreide samewerking tussen die regering, nywerhede en georganiseerde arbeid, en bied broodnodige stabiliteit aan ’n sektor wat onder geweldige druk verkeer.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die impak van die ooreenkoms reeds tasbaar.

“Ons is verheug dat daar ’n ooreenkoms bereik kon word. Die feit dat daar ’n ooreenkoms is, het ’n direkte impak op die dreigende afleggings. 
“Ons hoop dat beide Glencore en Samancor nou die afleggingsprosesse sal staak. In ’n land waar werkloosheid reeds rondom 42% is, is dit van kritieke belang dat elke moontlike werk behou word.”

Na raming kan sowat 4 000 direkte poste deur hierdie ooreenkoms gered word.

Hoewel die spesifieke voorwaardes van die ooreenkoms vertroulik bly, soos deur Eskom aangedui, meen Solidariteit dat die beginsel van die ooreenkoms op sigself reeds ’n groot stap vorentoe is.
Die ooreenkoms bied ook operasionele voordele aan die smelters, wat nou die moontlikheid het om produksie uit te brei.

“Hierdie ooreenkoms skep die ruimte vir smelters om meer oonde weer in bedryf te stel. Dit beteken verhoogde produksie, beter inkomste vir maatskappye en groter werksekerheid vir werknemers.”

Volgens Eskom sal die ooreenkoms ook die kragvoorsiener se likiditeit verbeter en voorspelbare verkoopsvolumes vir tot vyf jaar verseker, sonder verdere druk op tariewe of staatsondersteuning. Venter beklemtoon dat die ooreenkoms ook in Eskom se belang is.

“Indien hierdie smelters tot stilstand sou kom, sal dit ’n direkte negatiewe finansiële impak op Eskom hê. 
“Hierdie ooreenkoms help dus om beide nywerheidskapasiteit en Eskom se inkomstebasis te beskerm,” sê hy.

Glencore-Merafe het op sy beurt bevestig dat die ooreenkoms ’n “belangrike en positiewe stap vorentoe” is vir die volhoubaarheid van ferrochroomverwerking en die beskerming van werksgeleenthede. 
Solidariteit neem kennis dat die artikel 189-afleggingsproses verleng is om met die regulatoriese tydlyn te belyn, en dat finale implementering afhang van Nersa se goedkeuring en breër bedryfsooreenstemming. 

“Die feit dat daar reeds ’n ooreenkoms is, is ’n groot oorwinning. Ons is positief dat Nersa die groter prentjie sal raaksien en hierdie ooreenkoms sal goedkeur,” sê Venter.

Volgens Solidariteit wys hierdie ontwikkeling duidelik wat moontlik is wanneer rolspelers saamwerk.
“Hierdie ooreenkoms bewys dat wanneer die regering, werkgewers en vakbonde saamwerk, daar werklike en positiewe oplossings
bereik kan word,” sê Venter.

Solidariteit spreek verder die hoop uit dat soortgelyke ooreenkomste met ander rolspelers in die smelterbedryf bereik sal word om verdere werksverliese te voorkom en die sektor te stabiliseer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel