Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Internskappe: die waarde van werk binne jou beroepsnetwerk
Deur Ané Janse van Rensburg
Van student, tot skaduwerk, na die voltooiing van ʼn internskappe, tot ʼn uiteindelike jong werkende. Hierdie is ʼn siklus wat al die boksies afmerk en wat saam met Solidariteit, nóú makliker en meer doenbaar as ooit is!
Solidariteit is gebou op die beginsel dat almal wat wil werk, moet kan werk. Die Solidariteit Jongwerkende-lidmaatskap wil jou potensiaal ontgin en jou met die regte inligting en geleenthede bemagtig om seker te maak dat jy jou toekomsdrome kan najaag!
Een só ʼn suksesstorie, is dié van Danielle Badenhorst, wat deur ʼn skaduwerkgeleentheid by Solidariteit se Kommunikasie- en Bemarkingsafdeling ʼn internskap losgeslaan het, wat haar uiteindelik voorberei het vir ʼn pos by AfriForum. Ons het met Danielle gesels om te hoor hoe haar betrokkenheid by haar beroepsnetwerk haar pad van student na jong werkende oopgemaak het:
Watter nuwe vaardighede of kennis het jy tydens jou internskappe opgedoen?
Tydens my internskap het ek geleer hoe om ’n handelsmerk te begin en bestuur, hoe om ’n kliëntebasis op te bou en hoe om sosiale media te beplan en bestuur.
Hoe het hierdie internskap jou professionele ontwikkeling bevorder?
Dit het my professionele ontwikkeling bevorder deur my te wys watter elemente in ag geneem moet word wanneer die beplanningsfase van ’n projek oorskakel na die uitvoeringsfase. Dit het my dus gehelp om my teoretiese kennis oor te skakel in take wat prakties uitgevoer kan word.
Watter pos het jy danksy die internskappe losgeslaan?
My internskap het my gehelp om my vaardighede te verfyn sodat ek aansoek kon doen vir my huidige pos as projekassistent by Afriforum.
Wat was jou verwagtinge toe jy by hierdie internskappe begin het, en hoe het die ervaring vergelyk met daardie verwagtinge?
Ek het verwag om oppervlakkige kennis op te doen oor verskeie onderwerpe. My ervaring van my internskappe het egter my verwagtinge oorskry. Ek het verskriklik baie in-diepte kennis gekry en kon ook die kennis gebruik om ’n werklike projek vir ’n werklike organisasie te voltooi. Ek het ook nie verwag dat ek kontak sal kan behou met die persoon wat my internskappe gelei het nie, maar is dankbaar om te kan sê dat hierdie persoon my tot vandag toe nog sal help indien ek raad benodig.
Wat was een van die mees waardevolle lesse wat jy tydens jou internskappe geleer het?
Al die werk wat in ’n projek ingaan, gaan nie noodwendig waardevol voel nie maar dit sal jou help om jou doelwitte in die langtermyn te behaal.
Indien jy nog wonder oor die waarde van ’n internskap, kan jy hier klik en meer lees.
Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap bied maklike, veilige en direkte toegang tot beroepspesifieke poste en internskappe. Die platform bied toegang tot 11 spesifieke beroepsnetwerke wat staan om jou as jong werkende te bemagtig om jou beroep met mag en mening aan te durf! Skep vandag nog jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by jóú beroepsnetwerk. Dit is hiér waar jy ’n wêreld van geleenthede kan ontdek en dit met vrymoedigheid kan benut!