loading
avatar
Artikels
1 week gelede
iran-olie-en-brandstof-wees-voorbereid-op-prysskok-by-pompe

Foto Krediet: ChatGPT

Iran, olie en brandstof: Wees voorbereid op prysskok by pompe

Deur Pieter Jordaan

ʼn Skok wag heel moontlik op Suid-Afrikaners in April, met stygende brandstof- en lewenskostes wat sake vir ons almal kan omkrap.

Kenners by Solidariteit is dit eens dat die konflik in die Midde-Ooste gevolge vir ons in Suid-Afrika kan hê, hoewel dit moontlik is dat dit nie noodwendig negatiewe gevolge oor die langer termyn sal hê nie. Kyk ‘n video hier en wees ingelig.

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit nie nou die tyd vir groot uitgawes nie.

“Iran is aan die brand en die vraag is hoe raak dit Suid-Afrika. Dit is omdat ons ʼn baie oop ekonomie het. As Amerika nies, kry ons verkoue.

“Die olieprys is nou op, die goudprys is op en die waarde van die rand is af. Ek vermoed daar wag vir ons binnekort effense stormwaters,” sê Mulder.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI, sê die stygende olieprys en verswakkende rand sal beslis veroorsaak dat die brandstofprys in Suid-Afrika styg.

“As ons net kyk na die onderverhaling ná afloop van die eerste week van die konflik in Iran, kan ons reeds volgende maand ʼn prysverhoging van enigiets tussen R2 en R3,60 verwag.

“As oliepryse verder aanhou styg en die rand aanhou verswak, kan dié styging selfs groter wees,” sê Du Buisson.

Hy beklemtoon egter hoe die skokkende olieprysstygings tog uiteindelik sal bedaar en hoe dit selfs goed kan uitdraai vir Suid-Afrikaanse verbruikers.

“Wanneer ʼn regering in Iran herstel kan word en Iran ook sy olie aan die ope mark kan begin lewer – eerder as om dit teen ʼn afslagprys aan China en Rusland te gee – dan kan die res van die wêreld ook by daardie olie baat vind.

“Dan sal oliepryse drasties daal, met die gevolg dat ons oor ʼn paar maande selfs aansienlik minder vir brandstof sal betaal, as alles goed en volgens plan vir die Amerikaners verloop,” sê hy.

Op die korte duur is sy waarskuwing aan Suid-Afrikaners om slegte nuus by die pomp te verwag.

“Ek sê nie jy moet jou seevakansie afstel nie, maar jy gaan dalk eerder varktjops as skaaptjops by die see braai.”

Jaco Kleynhans, hoof van openbare en internasionale skakeling by Solidariteit, sê dit is belangrik om te besef dat hierdie konflik heel waarskynlik vroeër eerder as later sal eindig.

“Die werklikheid is dat internasionale handel baie ernstig geraak sal word. Ons sien ook wat nou met oliepryse gebeur. Dit alles beteken dat dit in internasionale belang is dat Amerika, in samewerking met Arabiese lande, uiteindelik ʼn oplossing vir hierdie konflik vind,” sê Kleynhans.

Vir lede van Solidariteit is dit nietemin belangrik om rekening te hou met hierdie globale gebeure en hoe dit ons kan raak in die tyd wat voorlê.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel