
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Is ek op die regte loopbaanpad?
Voel jy onseker oor die beroep wat jy gekies het? Is jy onseker of dit die regte loopbaanpad vir jou is? Jy wil graag ʼn verskil maak, maar hoe doen jy dit in ʼn vervelige kantoor met vervelige mense in ʼn vervelige beroep? Vind ʼn bietjie troos – én rigting in hierdie artikel.
Deur Liza Joubert
Loopbaanonsekerheid is vir baie jong mense ʼn werklikheid. Die groot vraag oor watter rigting om te volg, kan maklik oorweldigend wees. Gelukkig is daar praktiese stappe wat jy kan volg om jou roeping te ontdek sonder om in twyfel en vrees vasgevang te voel.
Volgens Felicia Richardson, ʼn geregistreerde lewensafrigter en die koördineerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod, is een van die grootste redes vir loopbaanonsekerheid dat jong mense se persoonlikhede en belangstellings nog aan die ontwikkel is.
“Tieners ervaar voortdurend nuwe dinge, hul persepsies verander en hulle is nog besig om uit te vind wat hul eie sterk- en swakpunte is. Dit maak dit moeilik om ʼn definitiewe besluit oor hul toekoms te kan neem,” verduidelik sy.
Daarom is dit belangrik om jouself toe te laat om verskillende opsies te verken. Skaduwerk en praktiese ervaring in verskillende beroepe kan waardevolle insigte bied. Dit gee jou ʼn realistiese blik op wat sekere beroepe behels en help jou om ingeligte besluite te neem sonder om jou dadelik tot ʼn spesifieke rigting te verbind.
Die Belangstellingsbepaler van Solidariteit is ʼn uitstekende hulpmiddel om jou te help ontdek waar jou natuurlike belangstellings lê. Dit is ʼn aanlyn vraelys wat jou resultate koppel aan beroepe wat by jou persoonlikheid en belangstellings pas. Dit help jou om ingeligte vakkeuses te maak en rig jou na moontlike loopbaanrigtings wat realisties en vervullend kan wees.
Nie elke beroep is glansryk of die ene avontuur nie, maar dit beteken nie dat dit minder betekenisvol is nie. Richardson beklemtoon dat betekenis dikwels in die impak lê wat jy maak.
“Baie mense word geleer om sukses met status en geld te assosieer, maar wanneer jy jou talente en vaardighede gebruik om ʼn verskil te maak in ander se lewe, is wanneer jy werklik vervuld kan voel.”
ʼn Goeie voorbeeld is ambagsmanne en gesondheidswerkers, mense wie se werk nie altyd in die kollig is nie, maar wat ʼn kardinale rol in die samelewing speel. Fokus op die verskil wat jy maak eerder as op die status van die beroep.
Die reis om jou roeping te vind, mag soms onseker voel. Hier speel geloof en vertroue ʼn belangrike rol. Richardson verduidelik dat geloof in God se plan en vertroue in die proses kan help om kalmte te bring.
“Wanneer jong mense hul besluite baseer op geloof, gebed, doelwitte en die verskil wat hulle wil maak, kan dit hulle help om minder angstig en oorweldig oor die toekoms te voel. Dit help ook om teleurstellings en uitdagings beter te hanteer omdat hulle vertrou dat hul pad uiteindelik na iets goeds sal lei.” sê sy.
“Jy is nie ʼn boom nie, jy kan skuif,” is een van Richardson se gunsteling-aanhalings.
Dit beteken dat jy altyd ruimte het om aanpassings te maak as ʼn rigting nie vir jou werk nie. Elke ervaring dra by tot jou vaardighede en groei. Wat dalk as ʼn onverwagse beroep begin, kan later deure oopmaak waaraan jy nooit tevore gedink het nie.
Praktiese wenke om jou roeping te vind
- • Doen skaduwerk: Bestee tyd saam met iemand in die beroep waarin jy belangstel om die beroep in praktyk te ervaar.
- • Praat met mentors: Skakel met ervare mense in jou gekose veld en leer van hul reis en kry raad van hulle.
- • Gebruik Solidariteit se hulpbronne: Doen die Belangstellingsbepaler en skakel in by beroepsnetwerke om meer oor moontlike loopbane uit te vind.
- • Maak tyd vir selfrefleksie: Dink na oor wat jou passie en dryfkrag is. Wat laat jou gees opgewonde oor ʼn werk of taak voel?
- • Hou die groter prentjie in gedagte: Werk is ʼn belangrike deel van jou lewe, maar dit is nie alles nie. Fokus op balans en om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer.
Jou roeping is nie altyd ʼn eenmalige openbaring nie, maar eerder ʼn reis van ontdekking en groei. Vertrou die proses, gebruik die regte hulpmiddels en wees oop vir verandering.