
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Is jou kollega oneerlik oor sy of haar kwalifikasie?
Deur Nico Strydom
Om oneerlik op jou CV te wees, kan verreikende gevolge hê, maar wat moet jy doen as dit jou kollega is wat die waarheid op sy of haar CV versin het en jy daarvan bewus is?
Die bekende ekonoom Thabi Leoka is onlangs in omstredenheid gedompel nadat berig is dat haar PhD-graad glo nie bestaan nie. Sy is onmiddellik as ʼn ekonomiese raadgewer van pres. Cyril Ramaphosa afgedank.
Dit is ʼn kriminele oortreding om ʼn bedrieglike kwalifikasie aan te bied of om oneerlik te wees oor ʼn kwalifikasie of ervaring waaroor jy nie beskik nie. Ingevolge die Wysigingswet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk moet alle werkgewers voornemende werknemers se kwalifikasies bevestig en enige kwalifikasies wat op ʼn bedrieglike wyse aangebied word, by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanmeld. Werkgewers word ook verplig om bedrieërs by professionele en statutêre liggame aan te meld.
Dié wysigingswet maak ook voorsiening vir ʼn maksimum tronkstraf van vyf jaar of ʼn boete, of albei. Hoe gemaak as dit nie jý is wat op jou CV gelieg het nie, maar ʼn kollega en jy is bewus daarvan?
Volgens die wet is ʼn persoon ook skuldig aan ʼn misdryf indien die persoon betrokke was by die vervalsing en verspreiding of publikasie van ʼn kwalifikasie of met ʼn bedrieglike doel bewustelik vals of misleidende inligting verskaf in enige omstandighede waarin die wet vereis dat die persoon inligting verskaf of kennis gee aan ʼn ander persoon.
Is daar dus ʼn onus op jou om dit aan te meld as jy bewus is van iemand wat ʼn wanvoorstelling op sy of haar CV gepleeg het? MHi Attorneys is van mening dat jy nie regsklagte in die gesig staar as daar ontdek word dat jy bewus was van ʼn wanvoorstelling maar dit nie aangemeld het nie.
Die vertrouensverhouding tussen ʼn werkgewer en werknemer is egter uiters belangrik, en waar ʼn werknemer wanvoorstellings aan die werkgewer maak, sal dit byna onvermydelik tot ʼn onherstelbare verbrokkeling van die vertrouensverhouding lei. Dit kan tot ontslag lei en die werkgewer kan ook regstappe doen om geld wat geïn is, te verhaal.
Indien jy aan ʼn kriminele oortreding skuldig bevind word, sal jy ʼn kriminele rekord hê wat kan beteken dat jy in die toekoms mag sukkel om weer werk te kry, en jou reputasie en geloofwaardigheid is ook daarmee heen.