loading
Artikels
6 maande gelede
is-jou-werkplek-toksies

Foto Krediet: OkayDeer

Is jou werkplek toksies?

Deur Essie Bester

Toksiese werkplekke is die enkele grootste dryfveer agter die sogenaamde Groot Bedanking – die feit dat baie mense begin besef het hulle is nie tevrede met hulle werkomstandighede nie en ander werk begin soek of hulle eie base word. “Suid-Afrikaners het egter nie die luukse om voor die voet te bedank nie,” sê Advaita Naidoo, besturende direkteur vir Afrika van die werwingsfirma Jack Hammer. Ons land se hoë werkloosheidskoers (tans 32,9% volgens Statistieke SA) laat dit nie toe nie.

Toksiese werkplekke is slegte nuus. Almal stem saam daaroor. Daar is egter baie minder konsensus oor wanneer ʼn kultuur as toksies beskryf kan word. Maar selfs as jou werkplekkultuur as toksies beskryf kan word, is daar verskeie dinge wat jy kan doen om die beste van die situasie te maak.

“Wanneer ʼn werkplek werklik toksies is, is disfunksie die organisatoriese norm en gemene gedrag kom daagliks voor,” sê Richard Shell, ʼn globale denkleier en voorsitter van die Wharton Skool se Departement Regstudies en Besigheidsetiek by die Universiteit van Pennsylvania. “Die oorheersende daaglikse emosie onder werknemers is angs. Werknemers vrees dat hulle geboelie, verneder en/of beskaam sal word tot stille nakoming van waardes wat hulle verwerp.”

In ʼn opname deur Glassdoor is bevind dat daar vyf elemente is wat ʼn korporatiewe kultuur toksies maak in die oë van werknemers.

Oneerbiedigheid

Dit word gedefinieer as ʼn gebrek aan inagneming van of agting vir medewerkers, onder andere hul privaatheid, fisiese ruimte, besittings, standpunte en filosofieë en kan afknouery word wanneer mense op spesifieke individue fokus.

Voorbeelde sluit in kwaadwillige skinderpraatjies, dreigemente of intimidasie, om mense te ignoreer en om te laster. Dit benadeel werknemers se moreel en is tipies die eerste stap in die rigting van teistering en moontlik selfs werkplekgeweld. “As jy ʼn veiliger werkomgewing wil hê, begin om ʼn meer respekvolle werkomgewing te bevorder,” sê Matt Verdecchia, ʼn senior afrigter by Health Advocate se EAP+Work/Life-afdeling.

Nie-inklusiwiteit

Diversiteit word dikwels verwar met inklusiwiteit. Jy kan diversiteit hê, maar nie inklusief wees nie, en dit is dikwels wat organisatoriese leiers nie besef nie. As die organisasie niks doen om ʼn gevoel van behoort vir alle werknemers te skep nie, kan dit nie ʼn diverse en inklusiewe maatskappy genoem word nie.

Daar is baie maniere waarop ons almal kan help om ʼn inklusiewe werkomgewing te skep. Ons gedrag, die taal wat ons gebruik, ons toewyding om verskille te verstaan ​​en ons ondersteuning vir ander is van die belangrikste dinge om in ag te neem.

Onetiese gedrag

Om iemand se goed te steel of kollegas aan te rand, is algemene voorbeelde van onetiese gedrag in die werkplek. Onetiese gedrag kan baie aksies behels, soos ʼn onderneming se doelbewuste oortreding van bedryfsreëls of verkooptaktieke wat onregverdige voordeel trek uit menslike swakhede.

Die organisasie se riglyne moet streng wees en organisasieleiers moet werkplekreëls en -regulasies omvattend aan al die ou en nuwe werknemers verduidelik. As iemand die gespesifiseerde reëls en regulasies verontagsaam en voortgaan met die onetiese gedrag, moet hulle gepenaliseer word na een of twee waarskuwings.

Meedoënlose (cutthroat) werkkultuur

Te veel maatskappye dink dat hoe harder hulle mense dryf, hoe beter sal hulle presteer. Terwyl ʼn mate van gesonde mededinging in ʼn maatskappy voordelig kan wees, vergiftig ʼn genadelose omgewing werkplekke en skep ʼn meedoënlose kultuur waar voortdurende ondermyning deur bestuur en kollegas voorkom. In hierdie werkplekke wat soos oologsones voel, sien mens daagliks rugstekery, vyandigheid en skinderpraatjies.

Is dit moontlik om suksesvol te wees in so ʼn kultuur?

  • • Bly relevant: Wees altyd gereed en gewillig om die nuutste tegnologie uit te probeer, asook om jou bestaande vaardighede te slyp en nuwes aan te leer.
  • • Moenie passief wees nie: As jy jouself toelaat om in die agtergrond te vervaag, gaan iemand anders  verseker jou geleenthede aangryp. Kommunikeer aan jou bestuurder waaraan jy graag wil werk en hoekom jy die beste persoon vir die werk is. Toon vertroue – selfs as jy onseker voel.
  • • Wees versigtig vir alliansies: Bly eerder vriendelik  en neutraal met almal.
  • • Dra jou wapenrusting: Moet niks negatiefs wat by die werk gebeur persoonlik opneem nie.

Slegte behandeling in die werkplek

ʼn Beledigende werkplek is ʼn plek waar werknemers nie die selfvertroue het om saam te werk nie. Mense vrees dat die maak van ʼn fout hulle in groot moeilikheid sal laat beland. Kollegas sien mekaar as mededingers eerder as medewerkers. Werknemers sien hulself as teikens en word bedreig deur enigiemand wat met bestuur verband hou.

Wat gee aanleiding tot slegte behandeling in die werkplek?

  1. 1. Onrealistiese prestasieverwagtinge: Die maatskappy plaas druk op werknemers om te presteer en lang ure te werk of hulself andersins werkloos te bevind. In die strewe daarna om onontbeerlik te wees, word die waardigheid en regte van ander minder belangrik.
  2. 2. Gemene mense: Sommige mense glo die enigste manier om die korporatiewe leer te klim, is om op ander te trap.
  3. 3. Mededinging: Mededinging word dikwels aangehelp deur prestasiebeoordeling en graderingstelsels wat selfsug en jaloesie skep.
  4. 4. Onopgeloste woede: Kenners sê dat ons nie ons kinders leer om sosiaal goed aan te pas nie. Kinders word dikwels volwassenes wat ontnugter en kwaad voel.
  5. 5. Swak bestuur: Korporasies skep omgewings van mishandeling deur lae morele standaarde, gebrek aan stimulerende take, onvoldoende opleiding en hulle versuim om oop kommunikasiekanale te handhaaf.

Indien ʼn organisasie nie iets aan slegte werkplekbehandeling doen nie vergeld die werknemers dit deur die hoeveelheid werk wat hulle doen te verminder (ook genoem Stille Bedanking,), sleg te praat van hul werkgewers en uiteindelik te bedank.

Solidariteit beskerm jou in die werkplek! Klik hier om meer te lees oor hoe Solidariteit jou beskerm. Klik hier om meer uit te vind oor ’n Solidariteit-lidmaatskap. Bemagtig jouself!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel