
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Meer as geld: Hoe om jou eerste salaris te gebruik om jou vryheid te bou
Deur Liza Joubert
Dit is een van die groot oomblikke van jongvolwassene-wees: daardie eerste salaris wat in jou rekening inbetaal word. Dit is nie net ʼn nommer op ʼn skerm nie – dit simboliseer onafhanklikheid, selfstandigheid en die begin van jou eie pad in die lewe bou.
Maar hoe gebruik jy daardie geld só dat dit jou nie net deur die maand help nie, maar jou jare lank bevoordeel?
Geld is nie net ʼn hulpmiddel nie – dit vorm jou lewe
Vir jongmense is geld nie net vir huur, data of dag-tot-dag-uitgawes nie. Dit is:
- • jou kans om onafhanklik van jou ouers te wees,
- • ʼn manier om vir jouself te wys jy is verantwoordelik,
- • die sleutel tot ʼn lewe met minder stres en meer keuses.
Dít is finansiële vryheid: nie miljoene in die bank nie, maar die wete dat jy nie hoef wakker te lê oor ʼn pap band, ʼn siek hond of ʼn yskas wat middernag ophou werk nie. Volgens die National Treasury of South Africa se Financial Literacy Booklet is ʼn gesonde finansiële grondslag een van die belangrikste faktore vir ’n volhoubare toekoms.
Wat om te doen met jou eerste salaris – en hoekom maak dit saak?
1. Bou ʼn noodfonds – vir jou gemoedsrus, nie net vir noodgevalle nie
Begin klein: sit R100 of R200 elke maand in ʼn aparte spaarrekening. Dit gaan nie net oor noodgevalle nie, maar oor gemoedsrus. Jy slaap rustiger as jy weet jy is voorbereid vir enige onverwagse jakkalsies. Solidariteit se Finansiële Geletterdheidskursusse vir Jong Werkendes moedig lede aan om reeds met hul eerste salaris ʼn noodfonds in plek te stel.
2. Leer om ‘nee’ te sê – veral vir skuld
Skuld voel waarskynlik soos ʼn vinnige oplossing, maar dit is ʼn duur een. Begin met ʼn kontant-mentaliteit: as jy dit nie nou kan bekostig nie, spaar daarvoor. Finansiële selfbeheersing is die begin van ware selfvertroue en standvastigheid.
3. Belê in jou toekoms – solank jy jonk is, werk tyd vir jou
Jy hóéf nie dadelik ʼn volledige beleggingsportefeulje te hê nie. Selfs ʼn klein bydrae tot ʼn aftreefonds of belastingvrye spaarrekening maak ʼn groot verskil oor die langtermyn. Só sal jy nog baie dankbaar in die toekoms wees.
Nie almal se begroting lyk dieselfde nie – maar dít is wat altyd belangrik is:
- • Betaal eers jouself. Spaar of belê eers, voordat jy begin spandeer.
- • Gee jou geld ʼn doel. Elke rand moet werk – of dit nou vir spaar, studeer, rus of groei is.
- • Moenie jouself met ander vergelyk nie. Jou vryheid lê in jou waardes, nie in iemand anders se kar of klere nie.
ʼn Goeie riglyn wat finansiële adviseurs voorstel, is om 20% van jou salaris te spaar. So is jy verseker van ʼn neseier of spaargeldjie.
Wat beteken dit om finansiële vryheid te hê?
Dit is om op ʼn Saterdagmiddag koffie te drink sonder skuldgevoel. Om vir ʼn vriendin ʼn klein geskenk te koop sonder om te wonder of jy dit kan bekostig. Dit is om ʼn werk te los wat jou ongelukkig maak, omdat jy iets in die bank het. Dit is die gevoel van ‘ek sorg vir myself’. Dít is krag.
Geld is prakties, ja – maar dit is ook emosioneel. As jy dit van die begin af reg bestuur, bou jy nie net ʼn spaarrekening nie – jy bou jou lewe.
Praktiese wenke in ’n neutedop:
- • Stel ʼn basiese begroting op: inkomste, spaargeld, vaste uitgawes, leefgeld.
- • Volg die 50/30/20-reël: 50% vir noodsaaklike uitgawes, 30% vir leefstyl, 20% vir spaar of beleggings.
- • Gebruik gratis begrotingsapps soos Vault22, of stel jou eie begroting op Canva of op jou selfoon op.
- • Open ʼn afsonderlike spaarrekening – uit die oog, uit die hand.
Jou eerste salaris is meer as net ʼn inkomste – dit is ʼn geleentheid om gewoontes en beginsels te vestig wat jou dekades lank sal help. Wanneer jy leer om jou geld doelbewus en eerlik te bestuur, gee jy jouself ʼn voorsprong – nie net finansieel nie, maar ook emosioneel. Ware rykdom lê nie in hoeveel jy verdien nie, maar hoeveel vryheid en vrede jy ervaar met wat jy het.
Solidariteit glo daarin om jou met die nodige toerusting en vaardighede te bemagtig om suksesvol te kan wees. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en bly ingeskakel vir nog praktiese wenke soos dié! Solidariteit het ook ʼn praktiese kursus oor begroting ontwikkel wat gratis hierdie finansiële vaardighede aan lede leer.