
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Is jy die enigste haan onder die henne?
6 lewenslesse om ʼn goeie bestuurder te wees
Om die enigste haan onder die henne by die kantoor te wees, verg soms wysheid en ’n nuwe perspektief. Deur jou span reg te bestuur en waarlik ’n leier te wees, nie net ’n bestuurder nie, kan jou span na ’n heel nuwe vlak neem.
Deur Karen Waldeck
Jy is die enigste ou tussen ʼn klomp vroue op kantoor – dit klink soos die begin van ʼn grappie, né? Maar glo my, dis alles behalwe ’n grap. Dis uitdagend, soms ongemaklik, en ja, daar is tye wanneer jy voel jy is op ʼn ander planeet. Maar – en hier is die kinkel in die kabel – as jy weet hoe om dit reg aan te pak, kan dit een van die kragtigste en vernuwendste ervarings van jou loopbaan wees. Hier volg sewe lewenslesse om jou as manlike bestuurder in die werkplek te help.
1. Luister is nie passief nie – dis ʼn aktiewe vaardigheid
Vrouespanne is dikwels meer op die emosionele landskap van ʼn situasie ingestel. Waar mans dalk vinnig oplossings aanbied, wil vroue eers hul perspektief deel, hul storie vertel en seker maak hulle word gehoor. ʼn Groot fout wat manlike bestuurders maklik kan maak, is om net te hoor – maar nie regtig te luister nie.
Probeer aktiewe luister. Maak oogkontak, herhaal wat gesê is en vra opvolgvrae. Dit bou vertroue.
2. Moet nooit die waarde van empatie onderskat nie
In ʼn vrouespan is empatie nie net ʼn “nice-to-have” nie – dit is noodsaaklik. As jy met empatie optree, toon jy nie net leierskap nie, maar menslikheid. Jy sal verbaas wees hoe vinnig respek verdien word wanneer jy werklik omgee. Byvoorbeeld, miskien het jy onlangs gehoor van ʼn spanlid se kind wat siek is; vra uit daaroor. Dis klein dingetjies wat groot verskille maak.
3. Wees die buffer teen stereotipes
Die werklikheid is dat vroue steeds te kampe het met onbillike verwagtinge in die werkplek – van hoe hulle moet aantrek tot hoe hulle emosioneel moet optree. Jy as manlike bestuurder het die vermoë om hierdie stereotipes aktief uit te daag en af te breek.
4. Humor bou brûe – mits dit sensitief is
Vrouespanne waardeer humor net soos enige ander span – maar sensitiwiteit oor die aard van die humor is uiters belangrik. Humor kan ʼn kragtige manier wees om spanne te versterk, maar as jy nie versigtig is nie, kan dit ook per ongeluk iemand uitsluit of in ʼn ongemaklike posisie plaas.
5. Diversiteit is nie ʼn uitdaging nie – dis ʼn bate
Dis maklik om verskille as uitdagings te sien, maar dis juis in verskeidenheid waar jou span se krag lê. Vrouespanne bring dikwels vars perspektiewe, verhoogde samewerkingsvermoëns en empatie na die tafel. Hoe meer uiteenlopende denke jy in jou span het, hoe meer volhoubare oplossings sal jy kry. Gebruik hierdie unieke perspektief tot jou voordeel!
6. Vroue hou mekaar verantwoordelik – en jy moet dieselfde doen
Jy sal gou agterkom: vrouespanne het ʼn natuurlike gevoel van lojaliteit en verantwoordelikheid. As bestuurder moet jy dieselfde standaarde handhaaf – eerlikheid, konsekwentheid en sonder om iemand voor te trek. Behandel almal regverdig en jy sal gou ʼn kultuur van prestasie én ondersteuning sien blom.
Om ʼn manlike bestuurder van ʼn oorwegend vroulike span te wees, hoef nie ongemaklik te wees nie – beskou dit eerder as ʼn geleentheid vir groei. Jy sal eerstehands kan waarneem hoe empatie, kommunikasie en samewerking in aksie lyk. Dis nie net goed vir die span nie – dis goed vir die toekoms van leierskap. ʼn Span vol vroue kan en gaan jou waarskynlik uitdaag, maar yster slyp yster en dit sal van jou ʼn beter leier en bestuurder maak.
Solidariteit bied ʼn aanlyn gemeenskap waar jy ondersteun en bemagtig kan word om nie net goed te werk nie, maar jou volle potensiaal te kan bereik. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by hierdie unieke gemeenskap!