Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Is KI-vaardighede onvermydelik vir die toekoms van werk?
Deur Nico Strydom
Die wêreld van werk het oor die jare deurlopend verander en kunsmatige intelligensie (KI) beloof om nog groter veranderinge mee te bring.
Volgens ʼn verslag van McKinsey & Company gaan KI die aard van werk verander, veral met betrekking tot dataverwerking en herhalende take. Daar word egter verwag dat KI nie net eenvoudige take gaan outomatiseer nie, maar ook kognitiewe funksies rakende die verwerking van inligting, redenering en besluitneming gaan vervang of aanvul.
Werknemers sal steeds verantwoordelikhede hê wat nie maklik geoutomatiseer kan word nie, maar die werksomgewing sal toenemend gevul word met KI-hulpmiddels wat hul produktiwiteit en kreatiwiteit sal verbeter, het die verslag bevind.
KI sal verder vaardigheidsvereistes verander, wat groter klem plaas op vaardighede soos kritiese denke, komplekse probleemoplossing, samewerking met tegnologie en aanpasbaarheid.
Volgens die verslag sal alle werknemers meer vertroud met KI moet raak. Nie almal gaan KI-kenners hoef te wees nie, maar vaardigheid en gemaklikheid met KI-gereedskap en -hulpmiddels sal waarskynlik deel van kernbevoegdhede word.
Werknemers verwag dat KI ʼn dramatiese impak op hul werk sal hê, en om dié rede verwag hulle ook van hul werkgewers om in opleiding te belê wat hulle sal help om sukses te behaal. Baie werknemers meen dat hulle reeds vertroud is met generatiewe KI-gereedskap en verwag dat ʼn beduidende deel van hul werk binne ʼn jaar deur KI beïnvloed gaan word.
Regulering en veiligheid word dikwels steeds as onoorkomelike uitdagings eerder as geleenthede beskou. Volgens die verslag wil leiers beleggings in KI verhoog en ontwikkeling versnel, maar gaan voort om te worstel met hoe om te verseker KI word veilig in die werkplek gebruik. Van die bekommernisse sluit onder meer in dataveiligheid, bevooroordeelde uitsette en misbruik. Werknemers deel hierdie bekommernisse, met kuberveiligheid, privaatheid en akkuraatheid wat hul grootste bekommernisse is.
Organisasies moet dus opleiding en ondersteuning bied. Volgens die verslag loop werknemers wat versuim om met KI saam te werk of hul rolle te herontwerp, ʼn groter risiko om agtergelaat te word.
Werknemers is egter van mening dat hul werkgewers nie vir hulle die nodige formele opleiding en ondersteuning gee om KI-gereedskap in hul daaglikse werk te integreer nie.
Volgens die McKinsey-verslag sal KI na verwagting werk “anders” maak – nie noodwendig deur net werkslading te verminder nie, maar deur werknemers te bemagtig om take van hoër waarde te verrig.
Om aan die voorpunt van tegnologiese vooruitgang te bly, moet ʼn mens dus voortdurend nuwe vaardighede aanleer om jouself te bemagtig.
Voortgesette leer kan ook tot loopbaanbevordering lei. Werkgewers waardeer werknemers wat hul vaardighede uitbrei, wat kan lei tot bevordering of verhoogde verantwoordelikhede binne ʼn maatskappy. Daarbenewens dra voortgesette leer by tot werksbevrediging. Die gevoel van persoonlike groei en die bemeestering van nuwe vaardighede kan ʼn sterk gevoel van prestasie bied, wat lei tot groter motivering en toewyding tot ʼn mens se werk.
Bly op hoogte van die jongste tendense en nuusgebeure binne jou beroep en met hoe KI jou kan help om in jou beroep uit te blink. Skakel in by jou Solidariteit-beroepsnetwerk en bemagtig jouself in die vinnig veranderende wêreld van tegnologie. Sluit vandag nog aan by Solidariteit en raak deel van jou grootste aanlyn werkgemeenskap. Solidariteit help jou om jou volle potensiaal te bereik deur lewenslange leer.