
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Is UI/UX deel van IT of kommunikasie?
In die digitale era smelt verskeie dissiplines saam, en UI (gebruikerskoppelvlak) en UX (gebruikerservaring) is geen uitsondering op die reël nie. Hierdie artikel ondersoek hoe UI/UX albei velde oorbrug en waarom dit ʼn kombinasie van kreatiwiteit en tegnologie vereis. Lees hier meer en gee gerus jou mening in die kommentaar-afdeling:
Deur Kyla-Ann du Toit
In die wêreld van tegnologie is die grense tussen die rolle van verskillende afdelings dikwels vaag. Een só ʼn gebied waar dit nie altyd duidelik is nie, het te make met die rol van UI (“user interface”) en UX (“user experience”). Is UI en UX deel van die kommunikasie- of IT-bedryf? Kom ons kyk:
Wat is UI/UX?
UI verwys na die visuele en interaktiewe elemente van ʼn digitale produk: die knoppies, ikone en alles wat die gebruiker kan sien en kan gebruik. UX fokus op die algehele ervaring van die gebruiker – hoe maklik en aangenaam is dit om met die produk te werk?
Volgens die Matchbox Design Group werk UX en UI saam om ʼn algehele gebruikerservaring te lewer, en albei is nodig om ʼn funksionele digitale produk te skep.
UI en UX werk saam om ʼn probleemvrye ervaring vir die gebruiker te verseker. Terwyl UI meer op die visuele en interaktiewe kant fokus, definieer UX die gevoel wat gebruikers kry wanneer hulle met die produk werk.
Die rol van kommunikasie in UI/UX
Kommunikasie is die wese van UI/UX. Of dit nou die koop van ʼn produk aanlyn of die gebruik van sagteware vir werkdoeleindes is, die doel is om die gebruiker deur ʼn proses te neem. Elke klik, elke visuele element wat jy sien, het ʼn doel: om inligting aan die gebruiker te kommunikeer en die interaksie so maklik en verstaanbaar moontlik te maak.
Volgens VLink is die rol van UI-/UX-ontwerpers om nie net die estetiese aantreklikheid van ʼn digitale platform te verseker nie, maar ook om die regte visuele boodskappe oor die produk se funksionaliteit aan die gebruiker oor te dra.
Die rol van UI-/UX-ontwerpers is dus om ʼn visuele taal te skep wat duidelike boodskappe oor die produk se funksionaliteit en waarde oordra. Dit is waar die element van kommunikasie in UI/UX na vore kom.
Die tegnologie agter UI/UX
Om die sukses van UI/UX te bewerkstellig, is daar tegnologie agter die skerms wat al die interaktiewe elemente moontlik maak. Die “frontend” van ʼn webwerf kan mooi en gebruikersvriendelik wees, maar dit kan nie werk sonder die netwerk- en infrastruktuurondersteuning wat die data tussen die gebruiker en die bediener stuur nie. Dit sluit dinge in soos data-oordrag, “backend”-besluite en IT-argumente wat die doeltreffende werking van ʼn app of ʼn webblad verseker.
Ironhack verduidelik dat wolkrekenaardienste een van die faktore is wat UI-/UX-ontwerpers se werk beter maak deur ʼn meer betroubare en vinniger ervaring aan die gebruiker te bied, wat die rol van IT in UI/UX beklemtoon.
In die geval van webontwikkeling kan ʼn swak netwerkverbinding of ʼn gebrekkige “backend”-argitektuur selfs die beste UI of UX belemmer, omdat dit tot lang wagtye of onderbrekings lei. Dit is waar die IT-netwerk ʼn kritieke rol in die proses speel.
Waarom UI/UX nie nét kommunikasie of nét IT is nie
Die werklikheid is dat UI/UX die twee dissiplines kombineer. Dit begin by die manier waarop ons as mense inligting interpreteer (kommunikasie) en eindig by die tegnologie wat dit moontlik maak (IT). UI-/UX-ontwerpers moet dus nie net begrip van grafiese ontwerp hê nie, maar ook van hoe die netwerk en sagteware werk om die ervaring te optimaliseer.
Wat is jóú mening?
Die antwoord is dat UI/UX nie volledig kommunikasie of IT is nie, maar eerder ʼn mengsel van albei is. As ons dus na UI/UX kyk, is dit duidelik dat dit nie net ʼn kommunikasie- of net ʼn IT-netwerkgebied is nie, maar eerder beide. Dit is die dinamiese interaksie van visuele ontwerp en tegnologie wat ʼn probleemvrye en waardevolle gebruikerservaring lewer.
Is UI/UX vir jou eerder deel van kommunikasie of van IT? Deel gerus jou mening in die kommentaar-afdeling van hierdie artikel.
Die Solidariteit IT-netwerk is daarop toegespits om die jongste nuus en tendense in jou beroep met jou te deel. Word vandag nog deel van jóú beroepsgemeenskap en brei jou professionele netwerk uit.