loading
avatar
Artikels
3 uur gelede
johannesburg-waterkrisis-knel-ondernemings-en-maak-werkplekke-meer-onveilig

Foto Krediet: Pexels

Johannesburg-waterkrisis knel ondernemings en maak werkplekke meer onveilig

Leré Nel

Die voortgesette waterkrisis in Johannesburg is al lankal nie meer net ʼn ongerief nie – dit kos ondernemings koffers vol geld én het ʼn verwoestende impak op die stad se ekonomie. Wanneer ondernemings vir weke en maande sonder ʼn betroubare watertoevoer probeer funksioneer, styg uitgawes skerp: water moet ingevoer, geberg en bestuur word; produktiwiteit daal; en dit raak moeiliker vir werkplekke om aan beroepsgesondheid- en veiligheidsvereistes (BGV-vereistes) te voldoen.

Volgens Johan Böning, hoof van Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en Veiligheid, beteken swak dienslewering vir ondernemings nie net finansiële druk nie, maar dit druk hulle ook in ʼn hoek wat BGV-vereistes betref. Böning waarsku dat wanneer werkplekke vir lang tydperke sonder betroubare water funksioneer, ʼn reeks ernstige risiko’s ontstaan.

“Sonder betroubare watertoevoer is dit moeilik om brandveiligheid en goeie higiëne toe te pas,” sê Böning. “Baie brandbestrydingstelsels is afhanklik van genoegsame waterdruk. In die geval van ʼn brand kan onbetroubare waterdruk die skade vererger en selfs tot lewensverlies lei.”

Higiëne is ook ʼn ernstige kwessie. “ʼn Gebrek aan water skep ernstige higiëniese uitdagings,” sê Böning. “Toiletgeriewe en ʼn plek om hande te was, is basiese, ononderhandelbare vereistes in ʼn werkplek. Veral vroue word negatief deur so ʼn situasie beïnvloed weens hul unieke sanitêre behoeftes en groter vatbaarheid vir blaas- en nierinfeksies.”

Die realiteit is dat wetlike nakoming nie wag vir ʼn munisipaliteit se herstelplan nie.

Böning benadruk: “Ingevolge die regulasies uitgevaardig onder die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid moet ʼn werkgewer geskikte en voldoende drinkwater vir werknemers beskikbaar stel, asook sanitasiefasiliteite.”

Alhoewel dit ekstra finansiële druk op werkgewers plaas om op eie onkoste drinkwater en sanitasie te voorsien, sê hy dat hierdie verantwoordelikheid nog steeds op werkgewers rus.

As ondernemings weens watertekorte nie aan BGV-vereistes kan voldoen nie, is daar nie net gesondheidsrisiko’s betrokke nie, maar ook regsrisiko’s. Böning waarsku dat werkplekke deur arbeidsinspekteurs van die Departement van Indiensneming en Arbeid as onveilig verklaar kan word. “Werknemers kan ook wettig weier om in onveilige toestande te werk,” sê Böning. Dít kan produksie en inkomste selfs meer kniehalter.

Böning verduidelik dat werkgewers ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid verplig is om, sover dit redelikerwys uitvoerbaar is, ʼn veilige en gesonde werkomgewing te verseker. Indien ʼn werkgewer versuim om dit te doen, kan boetes of strafregtelike vervolging, verbodskennisgewings of tydelike sluiting van persele aan die orde van die dag wees.

Die verliese wat as gevolg van enige van die bogenoemde gely word, kan na beraming groter wees as die finansiële druk van watervoorsiening op eie onkoste.

“ʼn Watertekort verskoon nie outomaties ʼn werkgewer van aanspreeklikheid nie. Daar word verwag dat redelike alternatiewe maatreëls ingestel word,” sê Böning.

Werkgewers word daarom aangemoedig om nog steeds tot die beste van hul vermoë aan BGV-vereistes te voldoen om verdere verliese te vermy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel