loading
avatar
Artikels
4 uur gelede
wat-beteken-die-iran-konflik-vir-suid-afrikaners

Foto Krediet: Chat GPT

Wat beteken die Iran-konflik vir Suid-Afrikaners?

Deur Pieter Jordaan

Die konflik in die Midde-Ooste kan vinnig ’n wêreldwye impak hê – ook hier in Suid-Afrika. Hoewel die spanning hoofsaaklik tussen die Verenigde State, Israel en Iran afspeel, kan die gevolge daarvan veel verder strek as die onmiddellike konflikgebied.

Solidariteit het met Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, en Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesels oor watter invloed hierdie konflik op Suid-Afrika en Suid-Afrikaners kan hê.

Ekonomiese impak kan vinnig gevoel word

Volgens Kleynhans kan Suid-Afrikaners binnekort die konflik veral in hul sak voel.

“Wanneer spanning in die Midde-Ooste toeneem, styg oliepryse gewoonlik vinnig. Suid-Afrika voer byna al sy olie in, en dit beteken dat stygende oliepryse direk kan lei tot hoër brandstofpryse en uiteindelik tot groter inflasie,” verduidelik hy.

Die situasie kan verder vererger word deur die moontlike sluiting van strategiese seevaartroetes.

“Die Straat van Hormuz is een van die wêreld se belangrikste roetes vir olie- en gasvervoer. Indien hierdie seestraat gesluit bly en die konflik lank voortduur, kan dit internasionale tekorte aan olie en gas veroorsaak, wat pryse nóg verder kan opstoot,” sê Kleynhans.

Daar is egter ook ’n moontlike positiewe kant.

“Wanneer daar wêreldwye onsekerheid is, styg die goudprys dikwels. Suid-Afrika is ’n groot uitvoerder van goud en ander minerale, en dit kan sekere dele van ons ekonomie bevoordeel.”

Ten spyte hiervan meen Kleynhans die algemene prentjie bly negatief.

“’n Langdurige oorlog is oor die algemeen ekonomies sleg vir Suid-Afrika. Ons moet hoop dat die konflik so gou as moontlik tot ’n einde kom.”

Politieke risiko’s vir Suid-Afrika

Die konflik hou ook diplomatieke en politieke risiko’s vir Suid-Afrika in.

Volgens Kleynhans het Suid-Afrika se regering hom die afgelope paar jaar baie naby aan Iran geposisioneer.

“Dit kan nou vir Suid-Afrika ’n diplomatieke prys kos. Die regering moet baie versigtig wees oor hoe hy oor hierdie oorlog praat en optree. Dit is belangrik dat Suid-Afrika duidelik maak dat hy neutraal staan in sulke internasionale konflikte, veral teenoor die VSA en ander Westerse lande.”

Brics en geopolitieke spanning

Mulder wys daarop dat die konflik lig werp op groter geopolitieke verskuiwings.

“Iran is deel van Brics, maar daar is tans groot stilte vanuit die ander Brics-vennote oor die konflik. Dit ontbloot tot ’n mate dat Brics nie noodwendig so sterk of eensgesind is as wat soms voorgehou word nie,” sê hy.

Hy meen dit kan Suid-Afrika, en spesifiek die ANC-regering, in ’n moeiliker posisie plaas.

“Dit kan die ANC meer geïsoleer laat, veral indien daar internasionale druk – veral van die Verenigde State – kom. In so ’n situasie kan die regering moontlik gedwing word om sy posisie of beleid aan te pas.”

Wat beteken dit vir gewone Suid-Afrikaners?

Volgens Mulder is die praktiese impak vir Suid-Afrikaners waarskynlik die duidelikste by die petrolpomp.

“Oorlog in die Midde-Ooste laat oliepryse styg, wat beteken brandstof word duurder. Die Amerikaanse dollar versterk dikwels ook in tye van wêreldwye onsekerheid, wat invoere uit die VSA vir Suid-Afrikaners duurder maak.”

Daar is egter ook geleenthede vir beleggers.

“As jy in goud belê het – byvoorbeeld in maatskappye soos AngloGold Ashanti of Harmony Gold, kan jou aandeelpryse styg wanneer die goudprys toeneem.”

Hoewel die konflik ver van Suid-Afrika af afspeel, wys dit weereens hoe sterk die wêreld se ekonomieë en politiek met mekaar verweef is, en hoe gebeure duisende kilometers weg tog ’n direkte invloed op Suid-Afrikaners kan hê.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel