Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit verwelkom aanbod van 62c-kragtarief vir Glencore en Samancor
Solidariteit verwelkom die aankondiging deur die minister van elektrisiteit en energie, Kgosientsho Ramokgopa, dat ’n kragtarief van 62c per kWh voorlopig toegestaan sal word om die vernaamste smelterye in die ferrochroombedryf op kort termyn te stabiliseer.
Alhoewel op die nippertjie, bring hierdie tydelike verligting broodnodige beweegruimte vir werknemers by spesifiek Glencore-Merafe en Samancor waar die spanning hoog geloop het oor die moontlikheid van grootskaalse afleggings.
Die maatskappye wat hierby baat sal nietemin duidelikheid wil kry oor die voorwaardes wat met die aanbod van 62c – wat boonop eers aan Nersa-goedkeuring onderhewig is – gepaardgaan.
Die werklikheid is dat die aanvanklike tussentydse tarief van 87,7c per kWh nie voldoende sou gewees het om bedrywighede volhoubaar by die aanlegte van onder meer Glencore-Merafe en Samancor voort te sit nie.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sal ʼn 62c-tarief ’n belangrike keerpunt kan meebring.
“Ons is dankbaar dat daar wél op die nippertjie gehoor gegee is aan die pleidooi van werkers en gemeenskappe. Hierdie besluit kan verhoed dat die sneller met afleggings by Glencore-Merafe en Samancor getrek word aangesien daar ʼn sperdatum van 28 Februarie vir die verbeterde tarief gestel is.
“Ons hoop egter dat die voorneme uitgebrei sal word om werkers by ander smelterye as dié van Glencore en Samancor se werk te red. Hierdie is dus nog nie ʼn omvattende oplossing vir die groter staal- en vervaardigingsbedryf nie en daar is steeds dringende werk nodig om oplossings vir die groter industrie ook te vind,” sê Venter.
Die ferrochroom en verwante smelterbedryf verkeer vir ʼn geruime tyd al onder geweldige druk weens ongunstige marktoestande en stygende elektrisiteitskoste. Maatskappye soos Glencore en Samancor asook ander soos die mangaansmelter, Transalloys, het lankal reeds gewaarsku dat sluitings onafwendbaar sou wees sonder ’n mededingende tarief.
Duisende direkte en indirekte werksgeleenthede in verskeie provinsies was dus in die weegskaal.
“Ná hierdie aankondiging is dit egter verblydend dat daar tans gepoog gaan word om 49 van ʼn moontlike 66 smelters weer teen die einde van 2027 aanlyn te bring. Daar is tans net 11 operasioneel. Die voorgenoemde gaan gevolglik ook meer as 11 000 direkte poste skep en meer as 100 000 indirekte poste teweegbring – iets wat die land broodnodig het,” sê Venter.
Solidariteit hoop die voorneme sal wees om volhoubare oplossings vir almal in die sektor te ontwikkel en is ten gunste van gesprekke tussen die regering en ander rolspelers om die lewensvatbaarheid van die sektor te verseker.
“Ons is dankbaar vir die ingryping, maar maan die werkgewers wat by hierdie positiewe verandering baat om nou die nodige te doen om die 45 smelters wat teen einde 2026 aanlyn moet wees, aanlyn te bring en die res teen einde 2027. Daar rus nou ʼn groot verantwoordelikheid op hierdie smelters om volhoubaar te wees, werk te skep en werk te beskerm,” het Venter gesê.
Solidariteit doen laastens ’n beroep op die minister, Eskom en alle rolspelers om voort te bou op hierdie konstruktiewe en gefokusde proses wat sukses opgelewer het, en om ook die talle ander uitdagings wat die verskeie vervaardigingsektore in die gesig staar, die hoof te bied.
Die vakbond sal voortgaan om die belange van sy lede en alle geraakte werkers aktief te verdedig.