loading
Artikels
1 maand gelede
jong-entrepreneurs-jy-hoef-nie-alleen-te-waag-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Jong entrepreneurs: Jy hoef nie alleen te waag nie

Om jou eie besigheid te begin is nie kinderspeletjies nie. So hoekom dit alleen doen as jy ondersteuning en mentorskap kan kry? Solidariteit het met Steyn Botha, ʼn jong entrepreneur, gesels oor hoe die Solidariteit Finansiesnetwerk hom in die beginfase van sy nuwe onderneming bygestaan het.


Deur Leré Nel

ʼn Briljante idee alleen bou nie ʼn besigheid nie – Steyn Botha weet dit alte goed. Vir jong entrepreneurs soos hy is daar baie struikelblokke. Jy ken dalk nog niemand wat jou nismark verstaan nie, maar jy het steeds iemand nodig om raad by te vra. Jy het dalk nie die regskennis wat relevant is vir die bedryf wat jy betree nie. En dan is daar praktiese bekommernisse – soos om ʼn webontwikkelaar te vind. Waar kry ʼn mens so iemand?! En natuurlik die grootste kopseer: om kapitaal en beleggers te bekom.

ʼn Mens kan nie bekostig om te raai wanneer jy groot risiko’s neem nie – en in Steyn se geval was ʼn “klein begin” nie ʼn opsie nie. Dus het Steyn, ʼn Solidariteit-lid en jong entrepreneur, besluit om die Solidariteit Finansiesnetwerk vir mentorskap en bystand te nader.

Watter uitdagings het jy in die beginfase van jou onderneming teëgekom?

“Een van my grootste uitdagings was om ʼn goeie webontwikkelaar te vind – iemand wat my idee verstaan en wie ek kan vertrou,” vertel Steyn. “Die ander groot uitdaging was om gemotiveerd te bly, want as daar groot risiko’s betrokke is, gaan soveel dinge deur jou gedagtes. Jy dink aan alle moontlike probleme en struikelblokke. Ek dink as ʼn jong entrepreneur is jy soms jou eie grootste vyand – omdat jy in jouself twyfel.”

Hoe het Solidariteit jou gehelp?

Steyn was reeds ʼn lid van Solidariteit toe hy besluit het om hulp te soek: “Ek het gevoel ek het ʼn mentor nodig – iemand met ervaring in die wêreld wat ek betree het. Dit sou help om met iemand te gesels wat my kon voorberei op wat om te verwag en my kon help om moontlike probleme te identifiseer.”

Hy is toe aan Rickus Botha, netwerkorganiseerder van die Finansiesnetwerk, voorgestel. “Rickus het my baie gehelp – ons het my uitdagings en moontlikhede per e-pos, telefoon en persoonlik bespreek. Hy het my ook waardevolle kontakte gegee wat my verder kon bystaan,” sê Steyn.

“Ek is steeds in verbinding met Rickus. Ek hou hom op hoogte van my vordering, en as ek ʼn kontak vir iets benodig of wil weet oor ʼn onderneming wat ʼn spesifieke diens kan lewer, is hy altyd gereed om te help!”

Solidariteit se beroepsnetwerke funksioneer ook nie in isolasie nie. “Ek het verskeie kontakte by Rickus gekry – verskillende mense wat by verskillende beroepsnetwerke en bedrywe betrokke was en wat ook al van tevore saam met Solidariteit gewerk het. Elkeen kon my met ʼn spesifieke taak of probleem help. Danksy Solidariteit het ek ʼn webontwikkelaar gevind wat presies was wat hierdie soort onderneming nodig gehad het. Ons werk baie goed saam en hy verstaan my visie. Hy lewer ook die diens teen ʼn fraksie van die prys wat ek elders sou betaal het.”

Wat is die grootste deurbraak wat jy danksy hierdie bystand kon maak?

“Ek het danksy Solidariteit se netwerk ʼn organisasie gevind wat die regsaspekte van die veld verstaan – dit was beslis ʼn groot stap vorentoe. Hierdie onafhanklike onderneming het my gehelp om die wetlike aspekte rondom die stigting van my onderneming in plek te kry,” vertel Steyn.

Steyn en Rickus oorweeg ook om moontlik mense wat deel is van die Finansiesnetwerk as beleggers in die onderneming te betrek om die gaping in aanvangskapitaal te help oorbrug.

Solidariteit se praktiese ondersteuning – van advies oor sakeplanne tot verwysings na kundiges – het Steyn se reis vergemaklik. “Daar is nog baie stappe vorentoe, maar dis ʼn opwindende mark en daar is potensiaal daarvoor om aansienlik te groei!”

Steyn se boodskap aan ander jong entrepreneurs

“Moenie huiwer om Solidariteit se Finansiesnetwerk te nader nie. Hulle is werklik daar om jou by te staan, en hulle verstaan nuwe bedrywe – soos aanlyn besighede en digitale ondernemings – beter as wat jy dink.”

Solidariteit glo: “Ons sal self.” Maar dit beteken nie “jy moet alleen” nie. Solidariteit is hier om jou by te staan en jou te help om die onderneming van jou drome te bou.

Wil jy ook graag hulp hê om jou droomonderneming van die grond af te kry?
Sluit aan by Solidariteit se Finansiesnetwerk en ontdek hoe jy toegang tot kennis, kontakte, mentorskap en ʼn netwerk kan kry wat saamwerk om jou sukses moontlik te maak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel