
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
KI vir Kleinsake-eienaars: Andries du Toit wys jou hoe!
Die Solidariteit Finansiesnetwerk het by Andries du Toit, ʼn jong plaaslike entrepreneur, gaan aanklop om te hoor hoe hy kunsmatige intelligensie (KI) gebruik om sy ondernemings meer doeltreffend te bestuur en risiko’s te verminder. Lees verder!
Deur Leré Nel
Entrepreneurskap is altyd ʼn risiko – maar volgens Andries du Toit hoef dit nie ʼn sprong in die duister te wees nie. Met die regte insigte, tegnologie en slim vennootskappe kan selfs klein ondernemings maklik innoveer, struktureer en skaal – en kunsmatige intelligensie (KI) speel ʼn sentrale rol in hierdie proses.
Andries is ʼn bedryfsingenieur met ʼn indrukwekkende loopbaan wat verskeie sektore dek – van landboufinansiering, sagteware-ontwikkeling en korporatiewe strategie tot finansiële konsultasie in internasionale groepe. Nadat hy sy studies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het hy sy loopbaan by firmas soos PwC en Deloitte begin, en later by ʼn waagkapitaalfirma gewerk. Vandag is hy die stigter van drie suksesvolle ondernemings, wat elk KI strategies aanwend om entrepreneurskap in Suid-Afrika meer volhoubaar te maak.
Hoe Andries KI gebruik om klein ondernemings te help
Andries het ʼn groot hart vir klein ondernemings en wil kleinsake-entrepreneurs soveel as moontlik bystaan. Sy drie ondernemings is spesifiek gestruktureer om twee van die grootste struikelblokke vir kleinsake-entrepreneurs aan te spreek: toegang tot kapitaal en beperkte vaardighede in bemarking en finansiële bestuur.
- 1. Rooted Capital: ʼn platform wat KI-gedrewe outomatisering gebruik om finansieringsaansoeke van klein ondernemings te help verwerk. Dit herskep die inligting in ʼn formaat wat banke maklik kan interpreteer, wat die waarskynlikheid van suksesvolle finansiering verhoog.
- 2. Swift Marketer: ʼn innoverende KI-bemarkingstoep wat outomaties sosialemedia-inhoud vir klein ondernemings skep en skeduleer. Dit skandeer jou webwerf, sosialemediaplatforms en mededingers, en stel volledige bemarkingsplanne daarvolgens saam – vinnig en bekostigbaar.
- 3. ProKing Solutions: spesialiseer in KI-outomatisering in die regsektor, en ontwikkel oplossings vir regslui wat hul prosesse meer doeltreffend wil bestuur.
KI in praktyk
Volgens Andries is die kern van enige KI-implementering om te verstaan watter “gat” die eindgebruiker wil boor – en dan die regte “boorpunt” te kies. “Entrepreneurs moet wegbeweeg van indrukwekkende funksionaliteite en eerder fokus op wat die kliënt regtig nodig het,” verduidelik hy.
Sy ondernemings gebruik KI op verskeie vlakke – van dataverwerking en outomatisering tot gevorderde agentstelsels wat strategieë genereer en sake-inhoud skep. Die fokus is altyd dieselfde: ontsluit kapasiteit binne die onderneming sodat eienaars aan hul onderneming kan werk, eerder as net daarin.
Andries waarsku egter teen verkeerde KI-keuses. “Die grootste fout is om in tegnologie te belê wat nie by jou onderneming pas nie. Dikwels is eenvoudige, kodevrye KI-agentbouers – soos Relevance AI – voldoende om die eerste stap te neem. Identifiseer ʼn eenvoudige proses binne jou onderneming en outomatiseer dit met behulp van KI. Sodra jy gemaklik daarmee is, kan jy verder eksperimenteer.”
Wat kan ons leer? Misluk vinnig, groei vinnig!
Andries se raad aan entrepreneurs en lede van die Finansiesnetwerk is eenvoudig: “ʼn Goeie idee alleen is nie ʼn onderneming nie. Maar KI stel jou in staat om ʼn idee vinnig en bekostigbaarin ʼn produk te omskep. Faal dus vinnig en beweeg vorentoe.”
Hy beklemtoon dat KI nie meer net vir groot maatskappye is nie. Die gereedskap is geredelik beskikbaar – dikwels teen minder as R360 per maand – maar om dit doeltreffend te gebruik verg strategiese denke, eksperimentering en ʼn bereidwilligheid om te leer.
In ʼn wêreld waar tegnologie vinniger as ooit verander, wys Andries du Toit daarop dat KI meer as net ʼn modewoord is. Dit is ʼn praktiese brug tussen idees en uitvoering, en dit is die toekoms van entrepreneurskap in Suid-Afrika.
Oorweeg dus hoe KI jou eie onderneming kan versterk. Begin klein. Bou stadig. Leer vinnig.
Solidariteit se Finansiesnetwerk is jou sakevennoot
Deur by die Finansiesnetwerk betrokke te raak, kry jy toegang tot kenners wat jou kan bystaan en raad gee om ʼn sukses van jou onderneming te maak.
Bly dus ingeskakel by die Solidariteit Finansiesnetwerk vir meer interessante inligting en verwikkelinge in jou beroepsveld!