loading
Artikels
10 maande gelede
jong-onderwysers-leer-die-krag-van-emosionele-regulering-in-die-klaskamer

Foto Krediet: Solidariteit

Jong onderwysers leer die krag van emosionele regulering in die klaskamer

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit se Onderwysernetwerk het onlangs by Laerskool Totiusdal ʼn dag van insig en groei vir jong onderwysers aangebied. Die hoogtepunt van die dag was beslis die insiggewende en energieke praatjie deur dr. Louise Aucamp, ʼn spesialis- maatskaplike werker, oor die belangrikheid van emosionele regulering in die klaskamer.

In haar praatjie het dr. Aucamp jong onderwysers geïnspireer om te verstaan hoe uiters belangrik dit is om nie net die kinders in hulle sorg te ondersteun nie, maar ook om hul eie emosies te bestuur. Sy het verduidelik dat ons almal soms dae het waar ons geduld opraak of waar dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie. Dit is juis in sulke oomblikke waar emosionele regulering die verskil kan maak tussen chaos en kalmte in die klaskamer.

Emosionele regulering, volgens dr. Aucamp, gaan daaroor om bewustelik jou reaksies te beheer wanneer jy voel dat jou emosies dreig om oor te neem. Vir onderwysers is dit ʼn onmisbare vaardigheid, aangesien dit die toon vir die hele klas kan bepaal. Deur hul eie emosies te bestuur, kan onderwysers ʼn omgewing skep waarin leerders veilig en gerespekteer voel, en waar leer ten volle kan plaasvind.

“Kinders is afhanklik van eksterne regulering, en hulle leer hoe om hulself te reguleer in ʼn omgewing wat kalmte uitstraal. Daarom moet jy in beheer wees en weet wat jy doen,” sê dr. Aucamp.

Sy het ook waardevolle wenke gedeel oor hoe onderwysers hierdie vaardigheid kan ontwikkel, insluitend eenvoudige tegnieke soos diep asemhaling, deur tyd in te ruim om jou gedagtes te orden, en selfs deur humor te gebruik om spanning te verlig. Dr. Aucamp het met oortuiging gepraat oor hoe hierdie klein veranderinge ʼn groot impak kan hê – nie net op die welstand van die onderwyser nie, maar ook op die leerders se vermoë om te leer en te groei.

Die jong onderwysers het die praatjie geniet en was duidelik gemotiveer om hierdie nuwe insigte in hulle eie klaskamers toe te pas. Hulle het nie net ʼn beter begrip van emosionele regulering verwerf nie, maar het ook waardevolle kennis gekry oor hoe om hul eie welstand en dié van hul leerders te bevorder.

Die dag het nie net op professionele ontwikkeling gefokus nie, maar het ook Solidariteit se Onderwysernetwerk in die kollig geplaas as ʼn noodsaaklike ondersteuningstelsel vir onderwysers. Lede van die netwerk het gehoor hoe die netwerk kan help om onderwysers met die nodige hulpmiddels en ondersteuning toe te rus om hulle werk met selfvertroue en passie aan te pak.

Chereé Meyer, organiseerder van Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap, het verduidelik hoe die Onderwysernetwerk op drie pilare gebou is: beskerm, bou en bemagtig. “Goeie onderwysers raak ʼn skaars spesie, en ons by die Onderwysernetwerk wil seker maak dat daar onderwysers van goeie gehalte beskikbaar is om aan ons kinders se toekomsdrome te bou. Julle is vandag te midde van die bemagtigingpilaar.”

As jy nog nie deel is van Solidariteit se Onderwysernetwerk nie, is dit dalk nou die tyd om aan te sluit. Met waardevolle voordele en geleenthede soos dié bied die netwerk nie net professionele ondersteuning nie, maar ook ʼn gemeenskap van mede-onderwysers wat mekaar inspireer en versterk. Jou reis as onderwyser hoef nie alleen te wees nie – raak deel van ʼn netwerk wat regtig ʼn verskil kan maak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel