loading
Artikels
6 maande gelede
jong-werkende-ken-jy-jou-regte

Foto Krediet: OkayDeer

Jong werkende, ken jy jou regte?

Deur Ané Janse van Rensburg

Weet jy hoe verlof werk? Wat moet jy doen as jy onverwags afgedank word? Hoe nou gemaak as jy siek is en nie kan werk nie? Mag jou baas jou vra om oortyd te werk? Verstaan jy werklik jou dienskontrak?

Wanneer ʼn mens vir die eerste keer werk soek, voel dit omtrent of werksgeleenthede so skaars soos hoendertande is. As ʼn mens dan uiteindelik die “werkloos”-groepie kan verlaat omdat jy werk gekry het, word daar nie baie aandag aan jou regte in die werkplek gegee nie, bloot omdat jy net te dankbaar is dat jy kan werk! Net omdat jy nog jonk is en jouself wil bewys, beteken nie dat jy nie regte het nie. Inteendeel, jy het presies dieselfde regte as enige iemand anders in die maatskappy of organisasie. Jong werkende, wat jy nie weet nie, kan jou baie skade berokken!

Chereé Meyer, organiseerder van Solidariteit se Jongwerkende-aanbod, sê die volgende oor jong werkendes se regte in die werkplek: “Die bekende spreekwoord ‘kennis is mag’ sê duidelik vir ons dat iemand wat ingelig is, bemagtig is en oor mag beskik. Om jou regte in die werkplek te ken, gaan jou die nodige kennis gee om uitbuiting, onregverdigheid en diskriminasie in die werkplek die hoof te bied. Jy kan ook op Solidariteit se knoppie druk sou jy enige bystand benodig om vir jou regte op te staan.”

Lees hier meer oor Solidariteit se regshulp aan jong werkendes.

Solidariteit het ʼn vinnige en kreatiewe manier geskep wat jy kan gebruik om uit te vind of jy jou regte in die werkplek ken. ʼn Vraelys van ses vrae word gebruik om te bepaal of jy ʼn Swaarkry Sarel, ʼn Gemiddelde Gerda of ʼn Flink Fanie is. Hierdie toets kan jou help om jou begrip van jou regte in die werkplek op te skerp.

Wie is Swaarkry Sarel, Gemiddelde Gerda of Flink Fanie?

Swaarkry Sarel kan met die volgende woorde beskryf word: Loskop, oningelig en bejammerend. Sarel weet nie wat om te doen as hy onregverdig in die werkplek behandel word nie. Hy neem ook net aan dat dit is hoe dinge werk en doen ook nie verdere navraag nie. Swaarkry Sarel aanvaar net bloot sy lot, al is dit onregverdig aan hom aangedoen. Jy wil nie ʼn Swaarkry Sarel wees nie!

Gemiddelde Gerda is net soos haar naam sê: gemiddeld. Dit veroorsaak ook dat sy net ʼn gemiddelde ervaring van haar werk het en nie die meeste uit haar voordele put nie. Sy het ʼn idee van wat haar regte is, maar weet ook nie heeltemal hoe om hulle te beoefen nie. Die kanse is goed dat Gerda haar kontrak net geteken het sonder om dit deeglik deur te lees.

Flink Fanie is die hoofseun wanneer dit kom by sy regte in die werkplek. Hy het sy kontrak van voor tot agter deurgewerk en het vrae aan sy MHB-afdeling gevra as hy nie iets verstaan het nie. Indien Fanie afgedank sou word, weet hy presies watter stappe gevolg moet word. Hy het Solidariteit-lidmaatskap en het ʼn span wat regstaan om hom te ondersteun. Jy wil graag soos Flink Fanie wees!

Klik hier om die #KenJouRegte-vraelys te voltooi om uit te vind of jy ʼn Swaarkry Sarel, ʼn Gemiddelde Gerda of ʼn Flink Fanie is. Solidariteit wil saam met jou leer hoe jy die beste werkservaring vir jouself kan verseker.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel