loading
Artikels
1 week gelede
jong-werkende-netwerk-slim

Foto Krediet: Okay Deer

Jong werkende, netwerk slim!

Deur Kyla-Ann du Toit

“Baie dankie, ‘meneer CEO’. Ek sal graag meer in die toekoms hieroor wil gesels.” Dié pas afgestudeerde student het haar eerste werk by dié bestuurshoof se maatskappy gekry – net omdat sy die moed bymekaar geskraap het om met hom te gesels by ʼn netwerkgeleentheid.

Om ʼn sterk, professionele netwerk te hê, kan jou loopbaan as jong werkende ʼn reuse-hupstoot gee. Maar hoe doen jy dit reg? Wat moet jy eerder vermy? Hoe laat jy ʼn positiewe indruk? Ons het met Erna Olivier, adjunkbestuurshoof van Kommunikasie, Bemarking en Verkope by Solidariteit gesels oor die kuns van netwerk – spesifiek vir jong werkendes.

1. Wat is die hoofdoel van ʼn netwerkgeleentheid – veral vir ʼn jong werkende?

“Die hoofdoel is om kontak met mense in jou bedryf te maak en jou netwerk uit te brei. As jy jonk is, besef jy nie altyd hoeveel rigtings binne jou veld bestaan nie. Gebruik die geleentheid om meer oor verskillende loopbaanrigtings uit te vind.”

2. Watter tipe vrae moet jong werkendes tydens netwerkgeleenthede eerder vermy, en hoekom?

“Moenie aanvaar dat jy nou onmiddellike toegang tot iemand het nie. Moet ook nie sommer hul kontakbesonderhede vra as dit nie aangebied word nie. Vra eerder met wie jy in hul maatskappy oor X of Y kan gesels.”

3. Watter drie vrae sal jy aanbeveel om enige netwerkgesprek betekenisvol en waardevol te maak, ongeag met wie jy praat?

  • Wat doen julle maatskappy en wat maak julle uniek?
  • Hoe het jou loopbaan jou tot by jou huidige rol gebring?
  • Watter waardevolle lesse het jy in die werkplek geleer toe jy self ʼn jong werkende was?

4. Hoe kan ʼn jong persoon goeie vrae gebruik om nie net inligting te kry nie, maar ook ʼn positiewe indruk te maak?

“Mense gesels graag oor hulself. Vra uit, stel belang en vra goeie opvolgvrae. Dit wys dat jy regtig luister.”

5. Wat is algemene foute wat jong mense tydens netwerkgeleenthede maak, en hoe kan hulle dit vermy?

“Jong mense is soms baie voortvarend. Dit is goed om ʼn goeie selfbeeld te hê, maar bly altyd nederig. Jy moet bereid wees om onder te begin en jou loopbaanpad self op te bou.”

Lees hier meer oor hoe ʼn netwerkgeleentheid tot ʼn werksaanbod gelei het.

Waar begin jy as jy wil netwerk?

Solidariteit se beroepsnetwerke is die eenvoudige antwoord! As lid van Solidariteit kry jy toegang tot netwerkgeleenthede wat spesifiek vir jou ontwerp is, en dit is heeltemal gratis om by te woon! Lees hier meer oor die beroepsnetwerke en die voordele wat dit vir jou as jong werkende inhou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel