
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jong werkende, raak só belasting baas
Deur Ané Janse van Rensburg
As jong werkende is dit normaal om tienduisend vrae oor die “grootmenswêreld” te hê. Jou geldsake kan beslis aan die begin soos Grieks klink, maar Solidariteit wil konsepte soos belasting vir jou vereenvoudig en dit saam met jou aanpak!
Wat is belasting?
Persoonlike inkomstebelasting is die belasting wat jy aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betaal op die inkomste wat jy verdien. Dit sluit jou salaris, bonusse en enige ander inkomste in. Jy moet jaarliks jou inkomste by die SAID verklaar en verseker dat jy die korrekte bedrag belasting betaal.
Belastingkoerse in Suid-Afrika wissel volgens jou inkomste. Die SAID publiseer jaarliks belastingtabelle wat die persentasie belasting aandui wat jy op grond van jou jaarlikse inkomste moet betaal. Hier is ʼn voorbeeld van die belastingkoerse vir die 2024/’25-belastingjaar:
- – Inkomste tot R237 100 = 18%
- – Inkomste tussen R237 101 en R370 500 = 26%
- – Inkomste tussen R370 501 en R512 800 = 31%
- – Inkomste tussen R512 801 en R673 000 = 36%
- – Inkomste tussen R673 001 en R857 900 = 39%
- – Inkomste tussen R857 901 en R1 817 000 = 41%
- – Inkomste bo R1 817 000 = 45%
Dit is belangrik om jou inkomste akkuraat te verklaar sodat jy die korrekte belasting betaal.
Hoe betaal ek my belasting?
- 1. Registreer by die SAID: Jy moet by die SAID registreer om ʼn belastingnommer te ontvang. Dit kan jy op die SAID se eFiling-platform doen of deur ʼn SAID-tak te besoek.
- 2. Belastingopgawes: Aan die einde van elke belastingjaar (wat op 28 Februarie eindig), moet jy ʼn belastingopgawe indien. Dit doen jy op die SAID se eFiling-platform waar jy jou inkomste en uitgawes verklaar.
- 3. Bepaling van belastingverpligtinge: Die SAID sal jou opgawe hersien en bepaal hoeveel belasting jy skuld of aan jou terugbetaalbaar is. Jy ontvang ʼn aanslag wat jou belastingverpligtinge aandui.
- 4. Betaling van belasting: Indien jy belasting skuld, kan jy die betaling deur middel van die volgende maak:
- 5. eFiling: Gebruik die eFiling-platform om die bedrag oor te dra.
- 6. Bankoorplasings: Maak gebruik van ʼn direkte bankoorplasing na die SAID se bankrekening.
- 7. Die SAID se mobiele app: Gebruik die app vir maklike en vinnige betalings.
- 8. Betalingsvoorwaardes: Maak seker dat jou betaling voor die sperdatum gemaak word om boetes en rente te vermy.
Belastingvoordele en -aftrekkings
Jy kan ook sekere belastingvoordele en -aftrekkings eis, wat jou belasbare inkomste kan verminder:
- • Mediese uitgawes: Bepaalde mediese uitgawes kan van jou belasbare inkomste afgetrek word.
- • Pensioen- en voorsorgfondse: Jou bydraes tot hierdie fondse kan van jou belasbare inkomste afgetrek word.
- • Studiegelde: Bydraes aan sekere welsynsorganisasies soos Helpende Hand kan van jou belasbare inkomste afgetrek word.
Belangrike wenke
- • Hou rekord: Hou rekord van al jou inkomste en uitgawes. Dit sal die voltooiing van jou belastingopgawe vergemaklik.
- • Gebruik tegnologie: Maak gebruik van die SAID se eFiling-platform en mobiele app om jou belastingaangeleenthede te bestuur.
- • Moenie bang wees om vir hulp te vra nie: As jy oor enige aspek van jou belasting onseker is, oorweeg dit om ʼn belastingkonsultant te raadpleeg of selfs om met iemand te gesels wat meer as jy weet.
Jou finansies kan soms soos ʼn berg lyk. Dit verg egter net bereidwilligheid om te leer en ʼn wil om te verstaan vir jou om jou finansies baas te raak! Solidariteit wil jou as jong werkende se hand vat en hierdie berg saam met jou aandurf.
Benewens die belastingsgids, bied Solidariteit se Jongwerkende-aanbod ook ‘n belastingseminaar aan wat jou kan help om jou belasting vir ‘n ses te slaan! Klik hier om die seminaar by te woon.
Skep vandag jou gratis profiel en raak jou belasting lag-lag baas!