loading
Artikels
1 dag gelede
jongreus2025-bo-karoo-se-groot-dromers-en-reusedoeners-word-gesoek

Foto Krediet: Solidariteit

#JongReus2025: Bo-Karoo se groot dromers en reusedoeners word gesoek!

Nominasies is nou oop – wie is jóú #JongReus?

Op elke kampus is daar altyd een of twee studente wat net meer gee as die res. Daardie student wat altyd die ekstra myl stap. Dié student wat vroeg opstaan en laat gaan slaap. Wat medestudente help sonder om twee keer te dink. Wat met trots aan hul ambag of landbouloopbaan bou. Dít is ʼn #JongReus – en Bo-Karoo Opleiding soek hierdie student hierdie jaar weer uit!

Wat is ʼn #JongReus?

’n #JongReus is nie net iemand wat met vaardigheid en tegniek uitblink nie, maar iemand met ywer in hul oë en vuur in hul are. Dis ʼn BKO-student wat nie bang is vir vuil hande of sweet op hul voorkop nie. Iemand wat hul vak met trots beoefen, ander inspireer en aanhou streef na uitnemendheid – selfs as dit moeilik raak.

Wie mag nomineer?

Enigiemand – dosente, medestudente of selfs familie – kan ʼn student van Bo-Karoo Opleiding nomineer. As jy iemand ken wat elke dag as ʼn reuse-doener opdaag, is dit tyd om aan hulle erkenning te gee. Of jy nou saam in die klas sit of daagliks hul toewyding op die plaas sien – moenie huiwer nie!

Belangrike datums vir hierdie jaar se kompetisie:

  • Nominasies & kandidaat-aanvaarding:
    17 Junie – 4 Julie 2025
    Genomineerde studente het in dié tyd kans om hul nominasie te aanvaar.
  • Ambag- & landbouresies (uitdunrondes):
    In die week van die 14de Julie word pret, vaardighede en gees op die proef gestel om te sien wie ʼn plek in die toptien verdien.
  • Top vyf & finale rondes:
    Die top vyf word gekies op grond van akademiese prestasie, deelname aan die ambag- en landbouresies, asook hulle algemene gesindheid en gees.
  • Onderhoude met die toptien en die finale aankondiging:
    Daar sal op 15 Julie onderhoude gevoer word met die kandidate wat hulself bewys het in die ambag- en landbouresies. Die Jongreus-wenner word op 16 Julie 2025 by die #JongReus-braai aangekondig.

Wat wen ʼn #JongReus?

Hierdie kompetisie gaan oor meer as ʼn titel – dit bou trots, motiveer studente en vier dit wat Bo-Karoo uniek maak. Of jy met die titel wegstap of nie, elke genomineerde stap weg met nuwe selfvertroue én ʼn nuwe waardering vir hul roeping.

Dosente: Julle sien daagliks die reuse.

Dosente is dikwels die eerstes wat potensiaal raaksien. Julle weet wie daagliks uitstaan, help en inspireer. Moenie die geleentheid misloop om erkenning te gee aan die studente wat jy wéét dit verdien nie. Nomineer hulle vandag!

Studente en ouers: Bou saam aan trots.

Of jy self ʼn BKO-student of ʼn trotse ouer is – dié kompetisie gee jou ʼn manier om te wys jy sien en waardeer harde werk. Dalk is jý self ’n #JongReus… of dalk ken jy een wat net te beskeie is om hulself te nomineer. So nomineer hulle!

Nominasies sluit op 4 Julie 2025 om 17:00. Laat ons weet wie vir jou uitstaan – en help ons om die #JongReus2025 te kroon!

Nomineer jóú #JongReus hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel