
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jou brein het rus nodig – hoe om op ʼn gesonde manier ná werk of klas af te skakel
Deur Liza Joubert
Ons leef in ʼn wêreld waar ons brein amper nooit ʼn blaaskans kry nie. Ná werk of klas op universiteit gaan ons dikwels net voort met nog skerms – e-posse, WhatsApp-groepe, Instagram, TikTok of selfs nuus-apps. En voor jy jou oë kan uitvee, is dit middernag en jy voel steeds oorlaai. Vir jongwerkendes en studente is dit selfs moeiliker as jou werk direk met tegnologie of sosiale media verband hou. Hoe kry jy rus en vrede as jou werk vereis dat jy konstant aanlyn moet wees?
Die goeie nuus is: jy kán afskakel sonder om jou werk te benadeel. Hier is hoe:
1. Doen ʼn digitale detox – op jou manier
ʼn Digitale detox beteken nie dat jy jou selfoon in ʼn laai moet toesluit nie. Dit gaan eerder oor die doelbewuste besluit om tydens spesifieke tye in jou dag of week nie op ʼn skerm te wees nie. Dit kan so eenvoudig wees soos om:
- • jou foon op “do not disturb” vir ʼn halfuur ná werk te stel;
- • kennisgewings vir nie-dringende apps af te sit;
- • jou foon in ʼn ander kamer te los wanneer jy eet of rus; en
- • gebruik te maak van funksies soos “focus mode” of “screen time” om jou skermgebruik te monitor.
As jou werk die gebruik van sosiale media of aanlyn kommunikasie vereis, trek ʼn duidelike lyn tussen wat werk en ontspanning is. Byvoorbeeld, sodra jou werkure verby is, gebruik sosiale media slegs vir persoonlike plesier – of selfs beter, gee jouself een uur waar jy glad nie aanlyn is nie.
2. Skep ʼn roetine wat jou help om te ontspan
Na ʼn lang dag is dit belangrik om ʼn afsluit-ritueel te hê wat jou brein wys dat werk nou klaar is. Dit kan wees om:
- • jou lessenaar reg te pak en jou doenlysie vir môre neer te skryf;
- • net 10 minute buite te gaan stap of vars lug in te asem;
- • ʼn tydjie te lees, musiek te luister of ʼn kreatiewe stokperdjie te beoefen; of
- • meditasie, oefening of asemhalingsoefeninge te probeer.
Hierdie klein roetines kan jou brein en liggaam herinner dat dit rustyd is.
3. Doelgerigte ontspanning is nie ʼn luukse nie – dit is noodsaaklik
Om net op die bank te lê met jou foon in die hand klink dalk na rus, maar jou brein bly aktief en geprikkel. Kies eerder aktiwiteite wat jou werklik kalmeer, soos om iets lekkers te bak of te kook, handwerk te doen, in ʼn joernaal te skryf of om met iemand te gesels sonder om na ʼn skerm te kyk. Hierdie doelgerigte ontspanning gee jou brein die kans om te herstel en die volgende dag weer met energie aan te pak.
Om jou beste self te wees, het jy balans nodig. Bly ingeskakel by Solidariteit en leer weekliks van nuwe maniere hoe jy balans in jou nuwe werk- of studentelewe kan vind. Klik hier en raak deel van jou grootste Afrikaanse aanlyn gemeenskap vir werk en leer.
So kan jy verseker dat jy met ʼn gebalanseerde roetine genoeg tyd voor die skerms het, maar ook genoeg tyd weg van die skerms.