loading
Artikels
9 uur gelede
sonder-graad-of-sonder-hulp-maar-nooit-sonder-hoop-nie

Foto Krediet: OkayDeer

Sonder graad of sonder hulp, maar nooit sonder hoop nie

Deur Liza Joubert

Nie almal het die geleentheid om ná skool verder te gaan studeer nie. Miskien is daar finansiële uitdagings, gesinsomstandighede of ander redes waarom jy nie ʼn graad kon behaal nie. Soms voel dit of jy sonder ʼn netwerk en ondersteuning nie ʼn kans staan om iets van jou toekoms te maak nie.

Maar, jy hoef nie sonder hoop te wees nie! Daar is altyd maniere om jou loopbaan te bou as jy bereid is om self daaraan te werk.

Hier is ʼn paar praktiese wenke om jou loopbaan te begin bou, selfs sonder ʼn formele kwalifikasie:

Leer ʼn ambag – jou vaardighede kan jou toekoms vorm

Ambagte is waardevol en bly in aanvraag. Dink aan elektrisiëns, loodgieters, timmermanne, sweisers, kappers, naaldwerkers of bakkery-eienaars. Dit is beroepe waarin jy, met harde werk en ervaring, jou eie sukses kan bou. Soek ʼn leerlingplek of gebruik gratis aanlyn bronne om basiese vaardighede aan te leer en doen dan praktykervaring op.

Solidariteit se Leer-aanbod bied gratis toegang of groot afslag op aanlyn kursusse vir lede. Hierdie kursusse kan jou help om ambagskennis te ontwikkel en jou loopbaanpad uit te brei. Jy kan met kort, bekostigbare kursusse begin en later verder daarop bou.

Doen gratis of bekostigbare aanlyn kursusse

Die internet maak dit moontlik om nuwe vaardighede aan te leer – al het jy nie die geld vir duur tersiêre studies nie. Jy kan basiese rekenaarvaardighede, administrasie, digitale bemarking of selfs ʼn tweede taal aanlyn aanleer. Hierdie vaardighede laat jou bo mededingers uitstaan wanneer jy vir ʼn werk aansoek doen. Solidariteit-lede het toegang tot ongeveer 150 beroepspesifieke leerkursusse vir jongwerkendes om hul praktiese vaardighede te ontwikkel – van kommunikasie en kliëntediens tot basiese tegniese vaardighede. Vind hier meer uit!

Bou werkervaring en begin waar jy kan

Moenie wag vir die ‘ideale werk’ voordat jy begin bou nie. Selfs tydelike werk, vrywilligerswerk of ʼn internskap bied waardevolle ervaring wat jy op jou CV kan sit. Elke klein geleentheid help om jou vaardighede te slyp, kontakte te bou en selfvertroue op te doen.

Skep ʼn profiel op Solidariteit se werkfasiliteringsplatform en laai jou CV op. Al is dit aanvanklik kort, kan jy dit mettertyd aanvul met kursusse, projekte en werkervarings. Werkgewers waardeer mense wat bereidwilligheid is om te leer en hard te werk.

Wees proaktief – bou jou netwerk

As jy nie ʼn ingeboude netwerk het nie, bou jou eie. Skakel in by mense in jou gemeenskap, vra vir advies, soek mentors en sluit aan by organisasies soos Solidariteit wat jongwerkendes ondersteun. Elke gesprek en elke kontak kan ʼn nuwe geleentheid na vore bring, en jy sal later ook vir ander ’n baken van hoop wees.

Jy het hoop en jy kán self bou

Jou waarde lê nie in ʼn graad of in dit wat jy geërf het nie. Dit lê in jou bereidwilligheid om aan jouself te skaaf. Met die regte ingesteldheid en praktiese planne kan jy ʼn toekoms skep waarop jy trots is.

Doen vandag nog iets vir jou toekoms. Skep jou profiel en laai jou CV op. Kyk ook na Solidariteit se Leer-aanbod en begin jou vaardighede bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel