loading
Artikels
4 maande gelede
jou-gids-tot-finansiele-vryheid

Foto Krediet: Solidariteit

Jou gids tot finansiële vryheid: Begrotingswenke vir jong werkendes

Die pad na finansiële vryheid begin by ʼn eenvoudige, maar doeltreffende begroting – veral vir jong werkendes wat pas die werkplek betree het. Hierdie artikel gee praktiese raad oor hoe om jou inkomste en uitgawes te bestuur, ʼn realistiese begroting op te stel en kostes te sny sonder om jou leefstyl te verander. Lees hier meer om waardevolle wenke en hulpmiddels te ontdek wat vir jou finansiële stabiliteit en gemoedsrus sal verseker.


Deur Durandt Serfontein

Om jou eerste werk te begin is ʼn opwindende mylpaal in jou lewe, en alhoewel dit oorweldigend kan wees, is daar maniere om die pad vorentoe met groter gerustheid tegemoet te gaan. Die eerste stap in finansiële beplanning is om ʼn omvattende persoonlike begroting op te stel.

Sonder ʼn begroting bepaal jou geld waar jy gaan. Met ʼn begroting bepaal jy waar jou geld gaan.

Hier volg ʼn paar wenke om seker te maak jy bly finansieel onafhanklik:

Maak gebruik van begrotingshulpmiddels

Deur van verskillende begrotingshulpmiddels gebruik te maak kan jy deurlopend monitor hoe jy jou geld bestee en wat jou leefstyl jou kos. Laai ʼn Excel-templaat vir begrotings aanlyn af, stel jou eie Excel-begroting op wat by jou leefstyl pas, of kontak ʼn finansiële adviseur indien jy geen idee het waar om te begin nie. Hierdie hulpmiddels kan jou help om jou uitgawes te kategoriseer, en kan insig bied oor jou finansiële gewoontes. Dié insig sal dit makliker maak om by jou begroting te bly.

Verstaan jou inkomste en uitgawes

Sodra jy jou gekose begrotingshulpmiddel gevind het, kan jy begin deur jou inkomstebronne te identifiseer. Dit sal hoofsaaklik jou salaris wees, maar onthou om enige ander inkomste (geld wat jy vir addisionele werk verdien) ook hierby te voeg. Jy kan daarna jou uitgawes inlees. Gebruik die verskillende kategorieë om tussen die verskillende uitgawes te onderskei. Die kategorieë moet gebruik word om vaste uitgawes (huur, medies, skuld, versekering) en veranderlike uitgawes (kos, vermaak, inkopies) van mekaar te onderskei. Jou vaste uitgawes sal dikwels die noodsaaklike betalings wees wat per debietorder van jou rekening afgetrek word.

Skep ʼn realistiese begroting

Sodra jy ʼn duidelike begrip van jou inkomste en uitgawes het, is die volgende stap om ʼn realistiese begroting te skep. Ken spesifieke bedrae toe aan elke uitgawekategorie, en maak seker dat jou totale uitgawes nie jou inkomste oorskry nie. ʼn Algemene begrotingsmetode is die 50-30-20-reël: Ken 50% van jou inkomste toe aan benodigdhede; 30% aan nie-benodighede; en 20% aan spaargeld, aftreevoorsiening of skuldafbetaling. Vir jong werkendes kan dit beteken om noodsaaklikhede soos huur, kos, en vervoer te prioritiseer, terwyl jy ook geld opsysit vir sosiale aktiwiteite en noodgevalle.

Sny onnodige koste

Om jou begroting te laat klop, is dit belangrik om areas te identifiseer waar jy koste kan sny. Hier is ʼn paar praktiese wenke:

  1. 1. Kook tuis: Gereelde uiteet-aande kan jou finansies vinnig dreineer. Om tuis te kook is nie net goedkoper nie, maar ook gesonder.
  2. 2. Gebruik afslag en koepons: Maak gebruik van afslag en koepons wat beskikbaar is vir alles – van kruideniersware en klere tot vermaak.
  3. 3. Koop tweedehandse of goedkoper alternatiewe: Nuwe items kan duur wees. Kies tweedehandse of goedkoper weergawes van dít wat jy benodig.
  4. 4. Beperk intekeningsdienste: Hersien jou intekeninge (Netflix, Spotify, ens.) en sny dié uit wat jy min gebruik.

Bykomende wenke om jou finansiële onafhanklikheid te verseker

  • • Bou ʼn noodfonds op: ʼn Noodfonds is noodsaaklik vir elke persoon wat finansiële verpligtinge het. Begin deur te mik om R6 000 tot R10 000 in ʼn spaarrekening te hê, en mik daarna dat die noodfonds uiteindelik tussen drie en ses maande van jou salaris se waarde sal beloop.
  • • Vermy korttermynskuld: Korttermynskuld kan vinnig ophoop en kan weens hoë rentekoerse vinnig ʼn permanente las vir jou word.
  • • Kry finansiële raad: Maak gebruik van kundige finansiële adviseurs om ʼn grondslag vir jou finansiële plan uit te lê. Finansiële instellings bied finansiële beradingsdienste waar jy persoonlike advies kan kry.

Om effektief te kan begroot is ʼn kritieke vaardigheid wat die grondslag vir ʼn finansieel veilige toekoms lê. Deur jou inkomste en uitgawes te verstaan, ʼn realistiese begroting te skep, begrotingshulpmiddels te gebruik, onnodige koste te sny, ʼn noodfonds op te bou, korttermynskuld te vermy, en finansiële raad in te win, kan jy beheer oor jou finansies neem en die meeste van jou jong volwasse jare maak.

Onthou, die sleutel tot ʼn suksesvolle begroting is dissipline en ʼn bewustheid van hoe jy jou geld bestee. Begin vandag en binnekort sal jy finansiële stabiliteit en gemoedsrus hê.

Solidariteit se webinaar vir jong werkendes oor begrotings is jou nommereen-hulpmiddel. Dit wys jou hoe om ʼn begroting op te stel, jou uitgawes te bestuur en ʼn finansiële pad vorentoe te beplan.

Registreer vandag nog jou gratis Solidariteit-profiel en begin jou reis na finansiële sukses!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel