
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Jou studentelewe saam met Solidariteit!
Deur Ané Janse van Rensburg
Solidariteit se nuwe aanbod vir studente, Studentelewe, is amptelik op die been gebring en tot jou beskikking! Die loodsing is met ʼn eksklusiewe bekendstellingsfunksie by die Voortrekkermonument gevier waar ʼn paar gelukkige studente en kenners die aanbod kon leer ken.
Solidariteit se Studente-aanbod en die Studentelewe-groep wat deel daarvan is, is ʼn ryk en diverse gemeenskap wat studente wil bemagtig! Hier kan studente in verskeie areas groei! Die groep is ʼn onuitputlike bron van hulpmiddels wat studente kan help om hul stem te vind, hul studie baas te raak en hulle vir hul toekomstige beroepe voor te berei! Lees hier meer oor Solidariteit se Studentelewe!
Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, het die aand se verrigtinge afgeskop. “Voorspoed beteken vir jong mense en studente om te kan werk! Jy moet kan werk om jou eie voorspoed in die lewe te verseker. Met hierdie studentegroep skep ons vir jou hoop deur seker te maak dat jy bemagtig is in die werkplek.” Burger lig verder die toepaslikheid uit van die monument as die plek waar die Studentelewe-groep bekendgestel is. “Die monument was en is ʼn baken van hoop vir ons toekoms. Julle is Suid-Afrika se toekoms.”
Franco van Wyk, mede-eienaar van Houthakker-meubelwinkel en voormalige Akademia-student, het ʼn boodskap van hoop oor hul toekoms in Suid-Afrika met die studente kom deel. Van Wyk het onlangs teruggetrek vanaf Australië waar sy ouers tans bly. Franco se suksesverhaal het in sy pa se motorhuis begin, en die huidige sukses van die meubelwinkel spreek boekdele oor hoeveel welslae behaal kan word wanneer ʼn mens jou toekoms in jou eie hande neem. “Dit gaan oor die moeite wat jy doen en harde werk wat jy insit – Suid-Afrika is wat jy daarvan maak!” sê Van Wyk. Hy lê verder klem op drie reëls wat hy as mantra saam met hom dra. Eerstens, glo hy, is ons iets verskuldig aan diegene wat voor ons die werk gedoen het. Ons lewe vanuit vorige generasies se tradisies, en dit is ons verantwoordelikheid om daarop te bou. Tweedens glo hy dat ons aktief moet deelneem aan gesprekke oor ons eie potensiaal en die idee dat daar steeds hoop is. Laastens haal hy N.P. van Wyk Louw aan: “Elke volk en nasie staan direk voor God. Jy het ʼn verantwoordelikheid om vir jouself ʼn toekoms te bou!”
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die studente toegespreek en die aand afgesluit. Met ʼn fokus op die word “bind” het hy die belangrikheid van verbintenisse aan die studente uitgelig. “Om aan iets te bind is ʼn ongelooflike belangrike konsep. As jy dit verstaan, verstaan jy baie van die lewe en hoe dit in mekaar verweef is. Om te bind maak sterk; dit gee ’n mens moed. Jy verstaan ook hoe jy aan jou geskiedenis gebind is, en daardie gebondenheid bied vir jou ʼn klomp troos en sekerheid vir vandag – jy is gebonde aan die toekoms.”
Volgens Hermann sien ons uit ons verlede ’n hoop vir die toekoms. “Ek is ʼn rentmeester, en my taak is om die wêreld ʼn beter plek te maak vir die geslag wat kom. Skielik kry jou hoop en drome ʼn groter betekenis – iets groter as ekself vir die volgende geslag,” sê Hermann.
“So wou Solidariteit homself verbind aan studente, en daarom word instellings gebou wat aan student se drome vlerke gee, soos Sol-Tech en Akademia. Ons wil hê studente moet aan mekaar gebind wees en mekaar help en ondersteun,” sê Hermann.
Solidariteit se Studente-aanbod verbind studente aan hul geskiedenis en ondersteun hulle vandag op hul reis na die toekoms! Dié bekendstellingsgeleentheid was slegs ʼn voorsmakie van die opwindende dinge wat die Studentelewe-groep en Solidariteit se Studente-aanbod inhou! Skep vandag nog jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by jou studentegroep!