
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jy is ʼn yster! Hier volg die redes hoekom jy die #JouYster-nominasie moet aanvaar
Deur Marné Pienaar
In ʼn wêreld waar harde werk soms oor die hoof gesien word, staan die #JouYster-toekenning uit as ʼn blink voorbeeld van waardering vir ons land se ambagslui. Die Solidariteit Ambagnetwerk wil graag erkenning gee aan diegene wat in die ambagswêreld uitblink. Die tyd het nou aangebreek vir genomineerdes om hul nominasies te aanvaar.
Hoekom die #JouYster-toekenning?
Ambagslui het nog altyd ʼn sleutelrol in ons land se ekonomie gespeel – van bou- en herstelwerk aan infrastruktuur tot by instandhouding en vervaardiging. Die #JouYster-toekenning is geskep om ons ambagshelde die eer te gee wat hulle toekom. Solidariteit het reeds jare gelede die waarde van ambag in Suid-Afrika besef en Sol-Tech het uit hierdie besef tot stand gekom.
“Hierdie toekenning is meer as net ʼn medalje teen die muur. Dit is ʼn manier om jou werk en die waarde daarvan te vier. Dit is ons manier om dankie te sê vir elke draadjie en boutjie wat jy indraai om te help bou aan Suid-Afrika,” sê Dirk Smit, organiseerder van die Solidariteit Ambagnetwerk.
Waarom jy jou nominasie moet aanvaar
1. Erkenning vir jare se harde werk:
Hierdie nominasie is jou kans om erkenning te kry vir al die ure en opoffering wat jy in jou werk insit en vir die moeite wat daarmee saamgaan. Die #JouYster-toekenning dien nie net as ʼn bewys van die waarde van jou werk nie, maar ook van jou toewyding aan jou vakgebied.
2. Netwerkgeleenthede:
Deur die nominasie te aanvaar en deelname aan die kompetisie kry jy die kans om met ander kundiges in jou bedryf te skakel. Dit is ʼn geleentheid om van ander te leer en jy kan jou persoonlike netwerke uitbrei. Jy kan selfs ʼn mentor wees vir ʼn jong ambagsman of -vrou wat die ambagswêreld wil betree.
3. Persoonlike en professionele groei:
Die kompetisie gee jou blootstelling aan nuwe geleenthede om nuwe uitdagings aan te pak, jou vaardighede te slyp en jou eie groei en ontwikkeling in die ambagswêreld te bevorder.
4. Ondersteuning van die ambagsbedryf in Suid-Afrika:
Deur die nominasie te aanvaar, dra jy by tot die behoud en bevordering van ambagsvaardighede in die land, wat ʼn betekenisvolle rol speel in die ekonomie en in die gemeenskap.
5. Inspireer die nuwe generasie:
Die wenner kry die geleentheid om ʼn behoeftige Sol-Tech student te ondersteun met ʼn beurslening in sy/haar naam. Jou toewyding aan jou ambag is ook ʼn inspirasie vir jong mense wat die ambagswêreld wil betree, of wat dit oorweeg om ʼn ambagskwalifikasie te verwerf. Ons glo ambagslui is deel van die ruggraat van die ekonomie en daarom moet jy toesien dat die toekoms van die bedryf verseker word deur onder meer die nuwe generasie te inspireer om hul ambag met trots aan te pak.
6. Pryse is op die spel:
Die wenner ontvang ʼn kontantprys ter waarde van R5000!
Neem daardie stap!
Dit is tyd om jou plek onder Suid-Afrika se top-ambagslui in te neem. Die #JouYster-toekenning gee aan jou die kans om trots te wees op jou werk, jou loopbaan te bevorder en om te wys waarom jy ʼn man of vrou van staal is!
Aanvaar jou nominasie vandag en wys die wêreld wat jy kan doen!