
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jy KAN(toor) met jou toekoms
Deur Mari Ferreira, Solidariteit Netwerkorganiseerder
As jong meisie het ek dikwels wakker gelê en gewonder oor my toekoms – wat ek graag wil doen wanneer ek “groot” is, waar ek graag wil werk en wat dit vir my sal beteken om suksesvol te wees. Ek kon vir ure lank “werk-werk” speel met ’n ou dagboek uit die kas, ’n paar fakture en dokumente en ’n koordlose telefoon op my lessenaar, in my “kantoor”. My teddiebere was my kliënte met wie ek sou konsulteer en na wie toe ek op my fiets sou jaag vir afsprake en vergaderings.
So het my droom as kantoorpraktisyn begin. Die realiteit het natuurlik vinnig begin inskop toe ek in graad 9 vakkeuses moes maak en in matriek ’n studierigting moes kies. Die opsies was eindeloos, maar die moontlikhede en geleenthede het my opgewonde gemaak, want ek kon kies! Ek was in beheer van my toekoms en ek kon bepaal wat die uitkoms gaan wees!
Met harde werk, ure van studeer, weer en weer probeer en engele wat op my pad geplaas is, het ek die geleentheid gekry om te studeer en my droom en loopbaan as kantoorpraktisyn na te streef. My drome en ideale het gegroei en ek wou graag dieselfde geleentheid vir ander skep en jong mense bemagtig om te droom en sélf verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem!
Saam met Solidariteit wil ek jongmense laat glo dat “jy KAN(toor) met jou toekoms!” Daarom bied die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, in samewerking met Solidariteit Jongwerkende, vir die tweede agtereenvolgende jaar dié bemagtigingsprojek vir matrikulante aan.
Ses matrikulante in Pretoria en Centurion wat hul hande vir die program opgesteek het, is ná afloop van ’n nominasie- en keuringsproses gekies om aan die bemagtigingsprjek deel te neem. Die ses deelnemende kandidate word in Junie-maand voorberei vir hul toekoms en loopbane na skool, wanneer hulle die werkplek in 2025 betree. Hierdie matrikulante word bemagtig met Solidariteit se modules vir voortgesette leer en kan uitsien na aanbiedinge deur topsprekers tydens twee fasiliteringsessies. Hulle kan ook met hierdie sprekers skouers skuur tydens ’n netwerkgeleentheid in Julie 2024. Nie net word die deelnemers bemagtig en voorberei vir die werkplek nie, hulle ontvang ook die geleentheid om by topmaatskappye en mentors skaduwerk te doen tydens die skaduwerkweek in Julie.
Ek is opgewonde om saam met elke matrikulant en deelnemer ’n pad te stap en ek wil graag ’n verskil maak in jong mense se lewens en ook vir ander die geleentheid bied om te groei en hul volle potensiaal te bereik.
Die waarheid is dat ons almal die mag het om ons eie toekoms en lot te bepaal en te vorm. Ons het die mag om keuses te maak, risiko’s te neem en ons passies na te streef om die lewe te skep wat ons wil leef. Dit is natuurlik nie altyd maklik nie. Daar sal hindernisse en terugslae langs die pad wees. Maar dit is in daardie oomblikke dat ons ‘n keuse het: om op te gee, of om aan te hou en vorentoe te beur. Wanneer ons eienaarskap van ons lewens neem, wanneer ons bewustelike keuses begin maak oor die rigting wat ons wil inslaan, is dit wanneer die skynbaar onmoontlike gebeur. Dit is wanneer ons werklike verandering, werklike groei en werklike vooruitgang in ons lewens begin sien.
“Ek wil graag vir myself ’n toekoms bou!” sê een van die matrikulante wat vanjaar aan Solidariteit se bemagtigingsprojek deelneem: Jy KAN(toor) met jou toekoms!
Jy is reg! Ons gaan bou… Ons sal self, want ons hoort hiér.