loading
Artikels
3 dae gelede
leierskap-sonder-n-titel-hoe-om-n-leier-in-jou-daaglikse-werk-tewees

Foto Krediet: OkayDeer

Leierskap sonder ʼn titel: Hoe om ʼn leier in jou daaglikse werk te wees

Leierskap verg nie ʼn titel nie – dit begin by diensbaarheid, vertroue en emosionele intelligensie. Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk het met René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand, gesels oor hoe jy sonder ʼn titel ʼn leier kan wees. Jy kan in enige rol ʼn verskil maak deur inisiatief te neem, nederig te dien en jou roeping met dapperheid uit te leef. Lees hier meer oor hoe jy as kantoorpraktisyn ʼn leier in jou werkplek kan wees.


Deur Kyla-Ann du Toit

“Leierskap begin nie by ʼn posbenaming nie – dit begin waar jy bereid is om dienend op te tree en ander te help groei.” Só sê René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand, oor leierskap sonder ʼn titel – die soort leierskap wat jy elke dag in jou werkplek kan uitleef, ongeag jou posisie.

In vandag se dinamiese kantooromgewing is leierskap nie meer beperk tot mense met amptelike titels nie. Ware leierskap word eerder gemeet aan die vermoë om te inspireer, te motiveer en met emosionele intelligensie in ʼn span op te tree – selfs sonder formele gesag. As jy ʼn kantoorpraktisyn is – ongeag of jy ʼn administratiewe assistent of ʼn spanlid sonder ʼn bestuursrol is – kan jy steeds ʼn kragtige leier wees.

Leierskap vs. bestuur: Wat is die verskil?

Bestuur fokus op die beplanning en uitvoering van prosesse. Dit is belangrik vir doeltreffende besluitneming, hulpbronbenutting en taakvoltooiing. Leierskap, aan die ander kant, is die kuns om mense tot groter dinge aan te wakker – om ʼn span deur verandering, uitdagings en samewerking te begelei.

Wanneer jy beide leierskap- én bestuurseienskappe ontwikkel, verbeter jy nie net jou eie werk nie; jy dra ook aktief by tot die sukses van die hele span. Soos Simon Sinek in Leaders Eat Last verduidelik: Dit gaan oor die skep van ʼn kultuur waar mense mekaar vertrou en saamwerk – iets wat jy kan help bou, ongeag jou posisie.

Solidariteit se kursus oor leierskap en bestuur handel ook oor pligte en verantwoordelikhede en bied wenke oor hoe jy jou leierskapvaardighede kan verbeter. Hierdie kursus is die ideale geleentheid vir jou om meer oor leierskap te leer.

Leierskap begin binne-in jou

“ʼn Ware leier is nie noodwendig iemand wat altyd voor loop nie. Dit skuil diep binne ʼn persoon wat weet hoe om ander te inspireer en rigting en hoop te gee wanneer daar moeilike tye is,”​ sê Roux. “Mense wat sonder ʼn titel as leiers floreer, is gewoonlik mense wie se kollegas hulle vertrou en wat deur hulle gedrag en waardes as voorbeeld dien.

Sy gebruik die prentjie van haar dogtertjie wat sonder ʼn kapteinstitel op die netbalbaan as motiverende spanmaat optree – ʼn klein maar kragtige voorbeeld van leierskap sonder amptelike erkenning.

Die krag van emosionele intelligensie

Een van die belangrikste instrumente in jou leierskap-gereedskapkis is emosionele intelligensie. Dit sluit in om jou eie emosies én dié van ander te verstaan en daarvolgens op ʼn wyse manier op te tree. Solidariteit se kursus oor emosionele intelligensie is ʼn waardevolle hulpbron vir enige persoon wat hul impak in die kantoor wil vergroot.

“Hoe jy jou emosies gaan hanteer (en dus jou emosionele intelligensie beoefen), kan jou verder in die lewe bring as enige kwalifikasie. Dit verwys na verhoudings bou en hoe belangrik verhoudings is,” sê Roux.​

As bestuurder het Roux ook al besef dat sy nie alles self hoef te doen nie. “Ek moet sterk mense aanstel, mentor en oplei om strategies te kan funksioneer en my sterkpunte vir die groter doel aan te wend. Ek kan nie oral wees nie – en ek hóéf ook nie.” Sy meen dat leiers ander met sekere take moet kan vertrou.

Die kenmerke van ʼn gesagvolle maar nederige leier

Roux glo vas dat nederigheid die kern van suksesvolle leierskap vorm. “Wanneer ek sê dat nederigheid vir my ʼn belangrike eienskap in ʼn leierskaprol is, beteken dit nie dat ons ons werk nie uitnemend aanpak nie. Dit beteken dat ons meer in die voetspore van Jesus wil volg.”​

Sy verwys na Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, wat self ook dien en nie net take uitdeel nie. “Hy werk regtig hard en ag homself nie beter as die mense vir wie hy geroep is om te help nie. Hy stel die voorbeeld deur self bejaardes te versorg wanneer daar nie genoeg hande is nie.”

Jy kan elke dag ʼn leier in jou werkplek wees

Jy hoef nie ʼn spanbestuurder te wees om leierskap te toon nie. Dít is hoe jy dit prakties doen:

  • • Neem inisiatief om probleme op te los.
  • • Wees ʼn voorbeeld van integriteit, dissipline en doelgerigtheid.
  • • Motiveer en ondersteun jou kollegas.
  • • Bou sterk kommunikasievaardighede.
  • • Leer jou span ken en verstaan – op ʼn persoonlike vlak.

“My pa het altyd vir my gesê dat as jy netbalkaptein wil wees, moet jy al sewe posisies kan speel – insluitend die agtste een wat reserwe is,” vertel Roux.​ “Weet dus wat in jou span aangaan, selfs al is jy nie verantwoordelik vir elke taak nie.”

Raad vir diegene sonder ʼn formele rol

Roux se advies aan opkomende leiers is eenvoudig, maar kragtig: “Wees dapper in jou roeping. Staan trots, want dit is wat God vir jou gegee het om mee te woeker en te werk.”​ Sy herinner ons daaraan dat roeping en invloed hand aan hand gaan. “Jy hoef nie eers ‘bestuurder’ of ‘spanleier’ in jou e-poshandtekening te hê nie. Jy kan reeds ʼn verskil maak – vandag nog!”

Sluit vandag nog by die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk aan en stap jou loopbaanpad saam met ʼn netwerk wat jou wil bemagtig om met selfvertroue, kundigheid en roeping jou volle potensiaal te bereik. Jou loopbaan is ʼn reis – stap dit saam met jóú beroepsgemeenskap!

Foto: René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand (Facebook/Solidariteit Helpende Hand)

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel