
Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Leierskap ʼn oortuigende roeping: Bou aan jóú invloed en inspirasie
In hierdie meningstuk ondersoek dr. Rina Steynberg hoe leierskap sin en rigting kry wanneer dit spruit uit ’n mens se lewensdoel en roeping. Sy gebruik Bybelse voorbeelde soos Moses om tydlose beginsels soos selfkennis, beïnvloeding en visie toe te lig. Hierdie insigte help leiers om meer betekenisvol en doelgerig op te tree. Lees haar meningstuk hier.
Deur dr. Rina Steynberg
ʼn Afrigtingsgesprek met ʼn bestuurder by een van ons energiereuse lewer die volgende insigte nadat sy al die uitdagings gedeel het wat in haar spanne voorkom, en ek volg dit op met die vraag waarom sy as hul leier aanbly: “Ek voel ek maak ʼn verskil in mense se lewens. Ek kan mense en hulle omstandighede positief beïnvloed. Dis lekker as ons saam by ons ambisieuse doelwitte uitkom en dit vier. Ek dink dit is deel van my lewensdoel en roeping.”
Ek het al menigmaal soortgelyke gesprekke met leiers gehad, en dit is met die laaste sin van hierdie voorbeeld waar die deurbraak kom: “Dit is my lewensdoel en roeping.” Daar is talle voorbeelde in die literatuur wat daarna verwys dat ’n leier moet bepaal hoe hul leierskaprol by hul lewensdoel aansluit. My siening is dat ʼn mens eerstens moet bepaal wat jou lewensdoel is – dan sal leierskap natuurlik daaruit voortvloei.
Kom ons kyk na hierdie idee en ander leierskapbeginsels vanuit ʼn Bybelse perspektief. Moses is geroep om die Israeliete uit Egipte te lei. Moses het nie wonderlike aanbiedingsvaardighede gehad nie en het geen beïnvloedings- of onderhandelingskursusse bygewoon nie. Hy het in homself getwyfel en sy tekortkominge besef, maar hy het tog tot aksie oorgegaan en sy roeping en rol vervul. Wat ons wel van Moses weet, is dat hy die Egiptenare se werkswyses goed geken het, wat hom in staat gestel het om te onderhandel – met die hulp van Aäron en God, natuurlik. Moses was dus nie ʼn volmaakte mens nie, maar perfek vir sy roeping.
Hierdie verhaal is ryk aan leierskapbeginsels. Die eerste is of jy die taak wat voor jou lê, sien as deel van jou roeping en lewensdoel. Miles Munroe het gesê dat leierskap ʼn oortuiging is wat uit ʼn lewensdoel of roeping voortvloei. Ons sien dit ook in Moses se verhaal: as hy nie oortuig was van sy missie nie, sou hy beslis nie ander kon oortuig nie – allermins die farao van Egipte.
Ons kan ook ander Bybelse figure noem wie se lewensroepings uitstaan: Samuel hoor God se stem as ʼn jong seun; hy word ʼn sleutelpersoon in die oorgang van rigters na konings. Jesaja word geroep om ʼn moeilike boodskap oor te dra, Jeremia vir bediening, Ester om haar volk te red, Maria om Jesus te baar, en Jesus self – om ons te red. Daar is nog vele meer voorbeelde. Die vraag is egter: wat is jóú lewensdoel? Waarvoor voel jy geroep? En waarvan is jy oortuig?
Nog ʼn belangrike leierskapbeginsel is die selfbewustheid van jou eie sterk- en swakpunte – geen leier is volmaak nie. Hierdie beginsels kan na twee kante toe gaan: óf ons is te onseker, óf te arrogant. Moses was so bewus van sy tekortkominge dat hy amper die missie van God van die hand gewys het. Soms bevind ons onsself in ʼn soortgelyke posisie en voel ons nog nie gereed nie – en dit is normaal.
Vir dié wat reeds lank in ʼn leierskaprol is: wees altyd oop om van enigiemand te leer en bly nederig. Sokrates het die frase “Ken jouself” wat by die tempel van Apollo in Delphi ingegraveer is, gereeld aangehaal. Hy was oortuig daarvan dat ware wysheid begin wanneer ʼn mens jou eie onkunde erken. Talle maatskappye het al ten gronde gegaan omdat leiers nie kon erken dat hulle ’n verkeerde besluit geneem het nie – of weens arrogansie. Ons het gesien hoe Nokia die tekens van die tye gemis het; Xerox moes ook vinnig herstel ná tegnologiese misrekenings.
Die kuns lê dus daarin om ʼn balans te vind. Het jy al ʼn realistiese opname van jou sterkpunte gemaak en gebruik jy dit tot voordeel van jou roeping? Werk jy aktief aan jou ontwikkelingsareas, of gebruik jy dit as ʼn verskoning om nie jou volle lewensdoel uit te leef nie?
Nog ʼn belangrike les uit Moses se verhaal is dat leiers hulp moet aanvaar. Dit is onmoontlik vir enige leier om alles self te weet of te doen – veral in ʼn vinnig ontwikkelende wêreld. Dit is heeltemal aanvaarbaar om te erken dat jy nie weet nie en om hulp te vra. Ek het ʼn leier geken wie se afdeling soos ʼn geoliede masjien gefunksioneer het. Hy het gesê hy volg Jack Welch se beginsel: die regte boude op die regte sitplekke in die regte bus. Maar daar is meer daaraan – hy het die vermoë om talent raak te sien, die regte persoon aan te stel en daardie talent te benut. Baie leiers stel mense aan wat soos hulle dink, en dan kry ons net meer van dieselfde – sonder die diversiteit wat ons regtig nodig het.
Hoe ontwikkel ons hierdie beginsel? Wel, leer om met mense saam te werk wat anders dink as jy. Hulle is die kleurpotlode wat help om die prentjie volledig in te kleur. Jy mag dalk nie van pers hou nie, maar om ’n reënboog te teken, het jy pers nodig.
Beïnvloeding is ʼn kernvaardigheid van leierskap. Peter Northouse skryf in Leadership: Theory and Practice dat “leadership is fundamentally about influence”. ʼn Bybelfiguur by wie ons hier kan leer, is Ester. Ester het nie ʼn kursus in beïnvloeding gevolg nie, maar het op grond van oortuiging en advies van haar oom haar lewe gewaag om die koning te beïnvloed. Soos Ester kan ons die vermoë om te beïnvloed aanleer en oefen. Sy het respek betoon, volhard, en is herhaaldelik terug na die koning – wat iets sê oor haar karakter: respekvol én veerkragtig.
Dink gereeld daaroor of jy die regte rolspelers beïnvloed om jou lewensdoel te ondersteun. Terwyl jy hulle beïnvloed, hoe leef jy respek en veerkragtigheid uit? Is jy bereid om beïnvloeding, respek en veerkragtigheid doelbewus te ontwikkel?
Die fundamentele leierskapsvaardigheid wat alles bymekaarbring, is die vermoë om ʼn eindprentjie – ʼn visie – te vorm en dit vir ander te kan beskryf. Moses het die beeld van die beloofde land net so helder gesien soos Walt Disney se Disneyland. Só ʼn visie dryf leiers om aan te hou wanneer ander moedeloos raak.
Ek het ʼn paar jaar gelede met ʼn mynmaatskappy gewerk. Een van die mynleiers het sy eindvisie gedeel: om ’n “groot hoop” steenkool teen die einde van die maand te hê. Dié visie is opgedeel in tonne per maand, per dag, per skof – en elke mynwerker het presies geweet wat hul bydrae moes wees. Só maak goeie leiers die visie tasbaar en haalbaar vir almal. Die lewensdoel word konkreet gemaak deur ʼn visie. As Moses se lewensdoel was om Israel uit Egipte te red, is dit konkreet gemaak deur Israel in ʼn land van melk en heining voorspoedig te sien leef as ʼn vry volk.
Die reis na die beloofde land verg egter baie investering in die volk. Toe Moses se skoonpa hom besoek, het hy gesien hoe Moses al die probleme van die volk self hanteer. Moses het omgegee – vir hul fisieke én psigiese welstand. Hy het vir kos en water gebid en hulle twiste hanteer. Hierdie omgeebeginsel is vandag nog net so relevant.
Dr. Amy Edmondson beklemtoon dat leiers ʼn omgewing moet skep waarin mense veilig voel om hul mening te gee, risiko’s te neem en foute te erken – sonder vrees vir straf of vernedering. Só ’n werksomgewing verhoog produktiwiteit en betrokkenheid. Baie leiers vra hoe hulle hierdie vermoë kan ontwikkel – en die antwoord is eenvoudig: wees bewus van jou omgewing en ingestel op die behoeftes van ander. Dit beteken nie leiers moet in alle behoeftes voorsien nie, maar om ʼn basiese, vriendelike werksomgewing te skep, is binne almal se vermoë.
Hierdie uiteensetting is ʼn paar beginsels en vaardighede van leierskap. Ek sien Moses nie as ʼn baie charismatiese leier nie, maar wel as ʼn betekenisvolle een. Hy was onvolmaak, soms twyfelend, dikwels moedeloos – en juis daarom ʼn realistiese voorbeeld van ware leierskap. Hy voltooi nie net die reis waarvoor hy geroep is nie, maar ook ʼn persoonlike ontwikkelingsreis. Elkeen van ons is geroep. Elkeen van ons se leierskapreis het reeds begin. Jou roeping mag anders lyk as Moses s’n, maar die beginsels wat hy uitgeleef het, sal ons ook op ons pad teëkom. As jy dit nog nie beleef het nie, is dit dalk nog op jou pad – en nou is die ideale tyd om daaroor te besin en daarvoor voor te berei.

Dr. Rina Steynberg is ʼn dosent in Bestuurswetenskappe aan Akademia met meer as dertig jaar se ervaring in die bedryf, waarvan twintig jaar as bestuurskonsultant. Sy het haar DCom-graad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf met navorsing oor integrasieprosesse tydens samesmeltings. Haar kundigheid lê in organisasiekultuur, leierskap, spanwerk en verandering.