loading
Blogs
9 maande gelede
jyhoorthier-al-woon-jy-daar-lees-eers

Foto Krediet: Okay Deer

#JyHoortHier, al woon jy dáár

Deur Pieter Jordaan

Solidariteit se jongste vryheidkreet is een wat sommer diep tref.

Dit is ʼn soort wekroep wat jy nou oral sien en hoor. Dit sê: #JyHoortHier!

Vir ʼn Afrikaner wat hier in Suid-Afrika woon en werk, het dié woorde meer as net een betekenis. Vir my is dit veral ʼn boodskap wat bevéstig, bemóédig en begééster.

Dit is vir ons wat hier woon en wat ons kinders vir ‘n toekoms hier aan die suidpunt van Afrika voorberei, júís nodig om dit te hoor.

Maar hoe lees mense in ánder omstandighede dit? Is dit moontlik vir jou om óók #JyHoortHier te sê as jy nie meer hier woon nie, of nie langer hier wíl woon nie?

Ek is van mening dit is beslis moontlik.

1. Die wat wóú trek …

Emigrasie word maklik ʼn plofbare onderwerp om die braaivleisvuur.

Veral in Suid-Afrika kom jy nie sommer iemand teë wat nié familie of vriende in die buiteland het nie. Dalk woon jy wat hierdie stuk nou lees sélf oorsee.

Ons mis ons mense wat ver is sommer baie, en ek glo hulle mis ons net so erg.

Tog is nie alle Afrikaners in die buiteland noodwendig ʼn soort vlugteling nie: In baie gevalle was iemand se besluit om oorsee te gaan woon en werk doodgewoon ʼn opwindende of logiese keuse – sonder duidelike vrese of verwyt. Vir baie is dit ʼn verrykende lewenservaring wat nie vir almal van ons beskore is nie – jou eie ontdekkingsreis.

Goeie werksgeleenthede teen ʼn goeie vergoeding is tog ook iets wat ons ons geliefdes gun, veral as hulle langs die pad op so ʼn reisigerservaring dan ook wêreldkennis opdoen.

Deur in die buiteland te woon en werk, maak jou beslis g’n “verraaier” nie.

Jy kan tog wéét waar jy hoort sonder dat jy hier is, of hoe?

Daardie stem wat dan steeds na jou roep is ook nie een wat jy willens en wetens wegwens nie, maar liewer een wat jy daar vanuit die verte kan koester.

Die roepstem is een waarop jy altyd uit liefde sal wil antwoord, sou jy kan, en dít besef jy elke keer weer wanneer jy hier kom kuier. Jy stel belang in Suid-Afrika, jy praat steeds saam in Afrikaans en jy ondersteun opregte pogings van mense wat die land van ondergang wil red en selfs weer wil herbou.

Want al is jy dáár, weet jy tog: #JyHoortHier.

2. Die wat móés trek …

Tog kan ons nie naïef wees oor ons plek, Suid-Afrika, nie. Ons ken die land se manewales al te goed. Daar is soveel dryfvere wat mense aanspoor om selfs verbitterd te emigreer. Eweneens weet ons van sekere trekkragte oorsee wat ʼn besluit om nooit ooit terug te keer nie, aansienlik makliker laat lyk.

Baie mense sê dan hulle maak hierdie boek toe.

Dan is die som glo eenvoudig: Beter geleenthede, groter inkomste en dankie tog, ʼn veiliger omgewing, en dit alles is gelyk aan – ʼn beter toekoms. Vaarwel!

Ook daardie mense hoort nog hier, selfs al sou hulle dit ontken, en selfs wanneer ons begrip toon terwyl hulle woord vir woord uitspel hoe hulle naderhand nie meer hier welkom gevoel het nie.

Hoe meer die belasting, rasreëls en diefwering geword het, hoe slegter het Suid-Afrika vir hulle begin smaak. Waar hulle gewoon en gewerk het, was die verval dalk té veel, of miskien het die vrees van gewapende indringers anderkant die grensmuur hulle tot trek gedwing?

Hoe veroordeel jy iemand se trekbesluit wat een donker Afrikanag wakkergeskrik het, omring deur kriminele met klapmusse en vuurwapens wat jou gesinshuis in ‘n misdaadtoneel verander?? Jy kán nie. Daar is ʼn stroom van gesinne wat besluit het hulle is beter – of veiliger – daaraan toe in Australië, Nieu-Seeland, Kanada, die VSA, die Verenigde Koninkryk of elders. Die stroom is stééds in vloed en met kaal hande alleen gaan ons dit nie keer nie.

En tóg hoort ook húlle in der waarheid hier. Die “hoort” is ʼn verbintenis wat nie sommer verdwyn net omdat kaders, kapers, skurke, beroepspolitici of boerehaters so besluit het nie.

Die besluit was nooit belhamels s’n om te neem nie. Dié stootkragte het sommiges laat vlug, ja, en derhalwe op ʼn wrede wyse van familiebande en hartsgrond vervreem. Maar selfs na dit alles hoort ook húlle én hulle kinders steeds hier, en ons wil hê hulle moet dit weet.

Die verlange lê heel moontlik dieper vir hulle wat nie gekiés het om te trek nie, maar dit noodgedwonge moes doen. Huise sonder alarms en slotte vat immers nie verlange weg nie.

Daarom kan ons met deernis sê: Mag daar eendag weer vir hulle ʼn veilige en welkome terugkomplek wees – een waar hulle opnuut kán hoor, en wíl hoor: Jy hoort hier.  

3. Die wat móét bly …

Wat sê ons dan vir mense wat dieselfde angs ervaar, maar nie kán trek nie? Jy kom enkeles teë wat byna afgunstig-kwaad oor diegene wat rééds oor die oseane weg is praat.

Hulle vra hoe jy nog hoegenaamd in ʼn toekoms hier kan glo: “Het jy dan nie na die nuus gekyk, geluister of gelees nie? Hoe kan jy nie óók angsbevange wees nie?”

Almal van ons het natuurlik nie die wil, vermoë, geld of geleenthede om oorsee te kán gaan nie, en sommiges begin agterbly as foltering sien – al die geplunder, die diskriminasie, die onophoudelike geweld.

Baie spreek die hoop uit dat hul kinders ten minste eendag hiervan sal kan ontsnap. Waarheen? “Waar ook al.”

Ook vir húlle moet ons herinner wat Suid-Afrika vir hulle is: ʼn swaarverdiende tuiste, verdien deur ons voorvaders se bloed en sweet, maar ʼn tuiste van ons eie, nietemin.

Ons is allermins die eerste geslag vir wie die onreg so te sê oorweldig, al is die kwessies waaroor ons kla, op die keper beskou, heeltemal geldig.

Selfs dít stroop jou nie van wie jy ís en waar jy hoort nie, dit moet jy glo. Dit is só, al onthou jy gelukkiger dae, ʼn vryer tyd sonder hoë mure, kuiers oor die ogiesdraadheining met vriendelike bure en aansienlik minder ontstellende nuus.

Die hoop bestaan dat ons mense nie net sal vashaak by onthou nie, maar dat hulle ook weer sal kan droom. Daar is voorbeelde uit ons ouer geslagte, denkers en dromers en mense oor wie daar geskryf is, en wat ook onder moeilike omstandighede vasberade besluit het: “Nee! Ons gaan nêrens heen nie.”

Soos hulle gewys het, is daar tog betekenis daarin om te verduur sodat wanneer die kinders eendag vra, “hoekom?”, jy ook vir hulle kan sê: “want jy hoort hier.”

4. Die wat wíl bly…

Suid-Afrika is ons rowwediamant-grootwordplek, een met sy oorvloed aan edelstene en sy hope eise. Ons wou graag bly klou aan versreëls oor kleure en klank, oorvloed en dank, en die frase oor die reënboognasie is naderhand nog net deur kinders, moedswilliges en ʼn paar half-hartseer figure in die joernalistiek en die akademie geglo.

Ons wat oor die jare heen op lughawens knop-in-die-keel gestaan en koebaai-waai het wanneer familie en vriende vertrek, moes deur dit alles ook núwe betekenis in agterbly vind. Om in Suid-Afrika aan te bly was ʼn keuse wat soms ewe bewustelik geneem moes word as een oor emigrasie.

Jy moes móói daaroor dink – dalk eers ná jy die geelwortel van die groener gras oorweeg, of selfs geproe het.

En tog, so saam-saam, het hierdie nuwe toekomsbelofte begin byval vind. Om te bly was nie om maar gelate die lot van Afrika-verval, of jou eie ondergang, te aanvaar nie.

Inteendeel.

Uit ons eie gemeenskappe vol aanblyers het ʼn nuwe gesindheid gegroei, dalk juis as gevolg van verlies. Dit is bemiddel deur instellings wat selfstandigheid bó afhanklikheid verkies het, maar eerstens begelei deur visioenêre nuwe leiers wat kon insien die staat is niemand van ons se lotsbepaler nie.

Dit het algaande makliker geword om weer sonder verwyte oor ʼn mooi toekoms te droom – vir ons en ons kinders – al sou dit gesamentlike én persoonlike verantwoordelikheid verg.

Ons nuwe “hoekom” was nie meer ʼn selfbejammerende vraag nie, maar eerder ʼn ywerige soeke na sin.

En die antwoord daarop was … want ons hoort hier.

Dit gee bevéstiging in weerwil van wat politici mag sê oor waar in Europa hulle dink ons wortels eintlik lê. Dit is bemóédigend, veral wanneer die taak groter lyk as die taakmag wat dit moet verrig. En dit begééster, elke liewe keer wanneer ons voortuitgang sien – bakens van hoop soos ʼn nuwe universiteit. Dit is meer as net onderwys, en laat strek die toekoms weer sigbaar voor ons uit.  

En ja, daar is ook die res, wat ek doelbewus tot laaste los. Die voorregte, maar dit is eintlik mos die nagereg: Dit is nou ma se kos en plaas toe gaan; stories om die vuur ná ʼn wintersjagtog, of saam in ʼn kakieseil-tentkamp; ook Skukuza, Satara, Ballito en Bloubergstrand – al hierdie fyner besonderhede. Die Vrystaat of Wes-Transvaal, sonder komplikasies. Ons waardeer die familiebyeenkomste, krieket saam met kinders, koffie ná kerk en trotse tradisies. En ons spog nie, al sou ons kón, oor die sonskyn en die see, oor swem, braai en rugby en alles wat ons plek tog so mildelik gee.  

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel