loading
Artikels
9 maande gelede
kan-digitale-media-werklik-gedrukte-media-vervang

Foto Krediet: OkayDeer

Kan digitale media werklik gedrukte media vervang?

Deur Maryna Eksteen

Op 18 Junie 2024 het Media24 aangekondig dat hulle oorweeg om die gedrukte weergawes van vyf koerante te sluit en drie van hulle net digitaal te laat voortleef. Hierdie aankondiging is deel van ʼn groter herstrukturering wat tot die verlies van poste kan lei en is daarop gemik om die maatskappy se oorgang na digitale media te versnel.

Media24 het ʼn persverklaring uitgereik waarin hulle die sluiting van die gedrukte weergawes van Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun, en Soccer Laduma aangekondig het. Verder beoog hulle om Rapport, City Press, en Daily Sun as slegs digitale handelsmerke te behou. Hierdie besluite is geneem in reaksie op veranderende verbruikersvoorkeure en die dalende sirkulasie en advertensie-inkomste van gedrukte media.

Gedrukte media was in die 17de eeu op almal se lippe toe Johannes Gutenberg die wêreld se eerste drukpers gevestig het. Hierdie tegnologie, wat eers in die 15de eeu ontwikkel is, is eers meestal vir boeke gebruik, maar die gebruike daarvan is later uitgebrei om koerante in Europa in te sluit.

Vandag beweeg baie weg van die tradisionele drukbedryf ten gunste van digitalisering en om hul nuus aanlyn te kry. Drukwerk is egter steeds nie dood nie en sal nie binnekort uitsterf nie. Dit wil voorkom of Media24 die pot mis sit.

Die oorgang van gedrukte media na digitale media het reeds in die eerste twee dekades van hierdie eeu plaasgevind. Dit wil voorkom of Media24 die glas half leeg sien eerder as om geleenthede te skep wat beide gedrukte- en digitale- media bevat.

Hier is vyf redes waarom gedrukte media nie dood is nie:

  • • Teikenspesifiek – Gedrukte media kan aangepas word vir jou teikenmark, beide in terme van die ontwerpstyl en hoe jy dit onder lesers versprei. Dit beteken jy kan jou bemarkingsbegroting fokus op die bereik van die gehoor wat jy wil, en die materiaal relevant en aantreklik vir hulle maak.
  • • Dit skep geloofwaardigheid – Nog ʼn rede waarom gedrukte media belangrik is, is omdat dit geloofwaardigheid skep. Deur in gedrukte materiaal te belê, wys jy aan jou kliënte dat jy ernstig is oor jou besigheid en dat jy ʼn waardevolle produk of diens bied.
  • • Dit skep betrokkenheid – Gedrukte materiaal kan ook betrokkenheid tussen die klant en die handelsmerk skep. Deur interessante artikels, spesiale aanbiedinge of amusante teks te verskaf, is daar die geleentheid om ʼn verband tussen die leser en die produk te skep wat kan lei tot handelsmerkbewustheid en verkope.
  • • Dit kan bewaar word – Anders as webblaaie, het gedrukte media ʼn langer lewensduur. In plaas daarvan om net ʼn paar sekondes op ʼn webwerf deur te bring en dan aan te beweeg, kan brosjures en pamflette opgetel en neergesit word en later weer opgetel word en na verwys word. Dit kan ook aan vriende of kollegas oorgedra word, wat die bereik van jou veldtog optimaliseer.
  • • Dit kan aan digitale veldtogte gekoppel word – Laastens bied gedrukte media die geleentheid om papier met aanlyn inhoud te koppel. Voorbeelde hier sluit in die gebruik van ‘n QR-kode of verwysing na ʼn webwerf vir meer inligting of om ʼn aanlyn bestelling te plaas.

Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk staan op, veg en dra die belange van ons lede op die hart, onder meer deurdat die netwerk reeds ʼn versoek aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gerig het dat onderhandelinge oor die beplande aflegging van Media24 se personeel onder die toesig van dié liggaam plaasvind.

Solidariteit wil graag verseker dat die gehalte van joernalistiek op dieselfde vlak bly as wat dit oor die jare heen was. Solidariteit is ook daar vir elke joernalis en persoon wie se werk in die gedrang is en veg ook vir familiekuiers rondom die koerant!

Sluit vandag aan by jou netwerk, en word deel van die oplossing en die skep van ʼn goeie (digitale én gedrukte) toekoms! Vir meer inligting, stuur gerus ʼn e-pos na kreatief@solidariteit.co.za.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel