loading
avatar
Artikels
6 dae gelede
kan-my-werk-verwag-dat-ek-altyd-beskikbaar-moet-wees

Foto Krediet: OkayDeer

Kan my werk verwag dat ek altyd beskikbaar moet wees?

Deur Nico Strydom

Werkgewers en werknemers moet bewus wees van die balans tussen werk en hulle privaat lewe, en die regte en verantwoordelikhede van beide partye in die verband.

Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes mag werknemers nie meer as 45 uur per week werk nie en is hulle geregtig op ʼn daaglikse rusperiode van 12 opeenvolgende ure en ʼn weeklikse rusperiode van 36 ure.

Beteken dit jy hoef nie te reageer op ’n boodskap wat buite werksure of wanneer jy met verlof is gestuur word nie? Volgens Kavita Kooverjee, senior professionele assistent van die regsfirma Schoemanlaw Inc., blyk die antwoord ja te wees. “Daar moet nie van ʼn werknemer verwag word om 24 uur per dag vir ʼn werkgewer beskikbaar te wees nie en werkgewers moenie vry voel om werknemers te kontak wanneer hulle wil nie.”

Sy stel voor dat werkverwante WhatsApp-kommunikasie tot normale werksure beperk word. Werkgewers word ook aangeraai om duidelike beleide oor digitale kommunikasie op te stel en werknemers behoorlik op te lei oor die gebruik van sulke platforms.​ Dit is verder noodsaaklik om duidelike werksure in plek te hê en om die reg van werknemers te respekteer om nie buite hierdie ure beskikbaar te wees nie.

Werknemers kan egter ook in die sop beland as hulle dringende kommunikasie van hul werkgewer ignoreer – selfs al is dit buite werksure gestuur. Dit hang alles af van jou posisie, die aard van die kommunikasie en jou maatskappy se beleid. As jou werk vereis dat jy wel soms nauurs beskikbaar moet wees, kan daar gevolge wees indien jy nie op dringende versoeke reageer nie.

Sommige maatskappye het beleide rakende nauurse kommunikasie, wat kan dikteer hoe werknemers op dringende boodskappe moet reageer. Jou werkskontrak kan moontlik ook spesifieke verwagtinge oor nauurse beskikbaarheid en kommunikasie uiteensit. ʼn Werkgewer se verwagtinge rakende nauurse beskikbaarheid of kommunikasie kan as onredelik beskou word as dit ʼn werknemer se persoonlike tyd of welstand aansienlik beïnvloed.

Maar hoe prioritiseer ʼn mens jou welstand, as jy voel dat jy altyd aanlyn moet wees?

Dr. Abongile Makuluma, ʼn psigiater by Netcare Akeso Milnerton, sê om altyd aanlyn te wees kan ’n negatiewe impak op ʼn mens se geestesgesondheid hê.

“Dit is veral waar vir diegene van ons wat nie net sosialemediaplatforms vir persoonlike verbindings gebruik nie, maar ook 24/7 vir werk verbind is. Die nadeel om sosiale media vir werkplekkommunikasie te gebruik is dat daar dikwels druk is om beskikbaar te wees. Maar hoe vind ʼn mens ’n werk-lewe-balans wanneer jy altyd beskikbaar is? Hoe kan jy jouself van werkstres losmaak as iets werksverwant altyd as ʼn boodskap op jou foon opduik? Ons moet maniere vind om nie altyd beskikbaar te wees vir werkgroepgesprekke nie.”

Dit is belangrik om wel na werk te kan ontkoppel en af te skakel. Dinge soos oefening, tyd saam met familie en ontspanningsaktiwiteite kan jou help om ʼn gesonde werk-lewe balans te handhaaf.

Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek. Jy kan ook as lid van Solidariteit regsadvies oor enige arbeidsaangeleenthede in jou werkplek kry. Om as Solidariteit-lid aan te sluit en hierdie beskerming te geniet, klik hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel