loading
Artikels
9 maande gelede
kanton-bou-aan-n-afrikaanse-toekoms-vir-die-afrikaanse-gemeenskap

Foto Krediet: Akademia

Kanton bou aan ʼn Afrikaanse toekoms vir die Afrikaanse gemeenskap

Deur Ané Janse van Rensburg

In ʼn tyd waarin die toekoms van Afrikaanse hoëronderwys dikwels onder druk is, is dit inspirerend om te sien hoe Kanton Beleggings en Akademia saamwerk om ʼn sterker en meer volhoubare toekoms vir ons gemeenskap te bou. Die Toekomsbouer-veldtog is nie net ʼn bouprojek nie – dit is ʼn visie wat nou in ʼn tasbare werklikheid omskep word, en Kanton staan sentraal in hierdie proses.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton Beleggings, sê hulle het die afgelope vier en ʼn half jaar hard gewerk om hierdie bouprojek ʼn werklikheid te maak. “Waar daar ʼn rokie is, is daar ʼn vuurtjie,” sê hy.

Waarvoor staan Kanton?

Kanton is nie bloot ʼn eiendomsontwikkelingsmaatskappy nie. Sy missie is om leefruimtes te skep waar die Afrikaanse taal en kultuur kan floreer. Vir Kanton is ʼn taal meer as net ʼn manier van kommunikasie – dit is ʼn lewenswyse, ʼn kultuur en ʼn gemeenskap. Kanton fokus daarop om ruimtes te ontwerp en te bou waar hierdie gemeenskap vir generasies kan voortbestaan.

Schalekamp sê dat Kanton op twee hoekstene gegrond is. “Eerstens om leefruimtes vir Afrikaans te bou. Dit is Kanton se bestaansrede om ʼn leefruimte vir Afrikaanse instellings te skep waar hulle kan floreer. Kanton tree dan in om die fasiliteite te voorsien. Ons gaan by Akademia se kampus doen soos wat ons by Sol-Tech gedoen het.

Tweedens staan Kanton vir die vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Kanton funksioneer tussen die kulturele huishouding van die kultuur en die kapitaal om dít moontlik te maak. “Ons werf die kapitaal by beleggers en gee ʼn goeie opbrengs aan hulle terug – op finansiële en kulturele vlak,” sê hy.

Deur projekte soos die nuwe Akademia-kampus beoog Kanton om nie net geboue op te rig nie, maar om ʼn blywende nalatenskap te skep. Hulle verstaan die noodsaaklikheid van instellings wat nie net vir vandag relevant is nie, maar wat ook die toekoms van ons kinders en kleinkinders sal verseker.

Projekomvang: ʼn Kampus vir die toekoms

Die nuwe Akademia-kampus wat in Pretoria geleë sal wees, net agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkoppad in die ooste van Pretoria, is ʼn groot onderneming. Hierdie kampus sal aan Akademia die geleentheid bied om ʼn omvattende akademiese program oor al sy fakulteite heen aan te bied, en dit sal voorsiening maak vir die groeiende aanvraag onder voornemende studente. Die kampus sal ʼn tuiste wees vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en ongeveer 1 500 nagraadse studente, met verblyf vir 1 500 studente in vier manskoshuise en vier dameskoshuise.

Die omvang van hierdie projek is indrukwekkend. Die koste van Fase een, wat op 1 Januarie 2028 voltooi sal wees, sal ongeveer R1,8 miljard beloop, terwyl die totale ontwikkelingskoste meer as R3 miljard sal wees. Fase een sluit die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise in, waarna sportfasiliteite, ʼn kapel en ʼn ouditorium sal volg. Dit is duidelik dat hierdie projek nie net oor infrastruktuur gaan nie, maar oor die skep van ʼn lewendige, inklusiewe gemeenskap waar studente en personeel saam kan groei en leer.

Rand en sent: Projekvennote en finansiering

Kanton speel ʼn sleutelrol in die finansiering en ontwikkeling van hierdie nuwe Akademia-kampus. Hulle funksioneer as ʼn voertuig vir die ondersteuning van Afrikaanse kultuurinstellings deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer. Volgens Schalekamp is die sakemodel daarop gemik om beide ʼn finansiële en kulturele opbrengs vir beleggers te bied. Dit is meer as net ʼn eiendomsbelegging – dit is ʼn belegging in die toekoms van Afrikaanse onderwys en kultuur.

Kanton se sukses met vorige projekte, soos die Sol-Tech-kampus, bevestig hulle vermoë om sulke groot projekte suksesvol te voltooi. Nou, met die Akademia-kampus, bewys hulle wéér dat hulle in staat is om ʼn winsgewende en volhoubare portefeulje op te bou wat die Afrikaanse gemeenskap se toekoms verseker.

Kom saam, bou saam!

Die Toekomsbouer-veldtog is ʼn uitnodiging aan almal wat omgee oor die toekoms van Afrikaanse hoëronderwys om by hierdie inisiatief betrokke te raak. Kanton het die visie en die plan, maar dit is die gemeenskap wat hierdie droom kan verwesenlik. Die projek is in samewerking met Pallidus, ʼn onafhanklike beleggingsfirma, gestruktureer om te verseker dat hierdie Akademia-onderneming se doelwitte ondersteun word, en dit bied ʼn unieke geleentheid vir sowel instellings as welvarende individue om by te dra.

Sodra genoeg fondse gewerf is om die projek van die grond af te kry, sal die breër gemeenskap ook die kans kry om deur kleiner beleggings betrokke te raak. Dit is ʼn geleentheid om deel te wees van iets groters – om saam met Kanton aan ʼn toekoms vir Afrikaans te bou.

Jou rol as ʼn toekomsbouer

Solidariteit nooi jou uit om ʼn daadwerklike verskil in die Afrikaanse gemeenskap te maak. Kanton Beleggings het die visie, maar hulle het ook jóú ondersteuning nodig om dit te verwesenlik. Ons wil bou aan ʼn toekoms wat volhoubare drome kweek. Kom bou saam met ons, want #JyHoortHier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel