loading
avatar
Artikels
2 jaar gelede
kantoorpraktisyns-die-belang-van-regskennis-in-n-kwesbare-posisie

Foto Krediet: Verskaf

Kantoorpraktisyns: Die belang van regskennis in ʼn kwesbare posisie

Deur Heléne Leonard

In die werksomgewing beklee kantoorpraktisyns ʼn belangrike posisie in die effektiewe werkinge van kantore en organisasies. Hulle is verantwoordelik vir ʼn verskeidenheid van take, wat wissel van administratiewe werk tot persoonlike ondersteuning van senior personeel. Hierdie sleutelrolle maak hulle onmisbaar, maar dit plaas hulle ook soms in ʼn kwesbare posisie wat misbruik kan word deur mense met gesag in die werkplek.

ʼn Onlangse saak van ʼn kantoorpraktisyn wat misbruik van mag ervaar het, is dié van ʼn Solidariteit-lid wat ʼn saak van seksuele teistering teen haar werkgewer wou aanmeld. In hierdie geval het die werknemer egter nie die regte prosesse gevolg nie en het sy slegs ʼn uitbetaling ontvang. Nicolette Ras van Solidariteit se regsafdeling het aangedui dat die Solidariteit-lid ʼn veel groter voordeel uit die saak kon kry as sy die korrekte stappe gevolg het. Dit beklemtoon die belang van begrip en bewustheid van die regte prosesse asook jou regte as kantoorpraktisyn in die werkplek.

Een van die eerste stappe wat elke kantoorpraktisyn kan neem om hulself te beskerm, is om vertroud te raak met die Wet op Diensbillikheid. Spesifiek artikel 10 en 11 van hierdie wet kan ʼn uitstekende oorsig bied oor die stappe wat geneem kan word as ʼn persoon voel dat hul menswaardigheid by die werk aangetas word. Hierdie artikels bepaal die regte en pligte van werknemers en werkgewers in die konteks van diensbillikheid en bied riglyne vir die hantering van konflik en geskiloplossing.

Daarbenewens kan Solidariteit as ʼn ondersteunende organisasie ʼn waardevolle bron van regshulp en advies wees vir lede wat hulself in moeilike omstandighede by die werkplek bevind. Hulle bied nie net regshulp vir lede nie, maar ondersteun ook lede deur hulle bewus te maak van hul regte en verantwoordelikhede, sowel as die prosesse wat gevolg moet word om enige vorm van misbruik of onbillikheid aan te spreek.

In ʼn tydperk waar die werkplek meer aandag skenk aan die behoud van ʼn veilige en regverdige omgewing, is dit van uiterste belang dat kantoorpraktisyns hul regte ken en beskerm. Hulle speel ʼn onmisbare rol in die sukses van organisasies, en hul integriteit en welstand moet altyd behoue bly. Deur bewus te wees van die regte stappe en ondersteuningsmeganismes wat beskikbaar is, kan hulle hulself beskerm teen misbruik en ʼn beroep doen op die regte hulpbron tydens ongemaklike ervarings by die werk.

Sluit vandag nog by Solidariteit aan deur hier te klik, sodat ons kan help om jou en jou veiligheid in die werkplek te beskerm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel