loading
Artikels
1 jaar gelede
kantoorpraktisyns-moet-fokus-op-deurlopende-leer

Foto Krediet: Okay Deer

Kantoorpraktisyns moet fokus op deurlopende leer

Deur Essie Bester

Stygende lewenskoste en die dreigende resessie laat baie van ons meer krities na ons loopbane en werkskeuses kyk. Hoe kan ons onsself verseker teen potensieel verslegtende ekonomiese tye, meer geld verdien, of dalk meer inkomstestrome skep? Weens die verskuiwing na outomatisering en digitalisering is dit belangriker as ooit dat jy die regte vaardighede moet hê vir die indiensnemingslandskap van die toekoms.

Flip Buys skryf in ʼn Maroela Media-artikel dat lewenslange leer die sleutel tot die toekoms is en dat daar in die toekoms net twee klasse mense gaan wees: ʼn betreklik klein groepie kenniswerkers en ʼn groot massa werkloses. Dit is die gevolg van die feit dat die wêreld van werk besig is om onherroeplik te verander. In onseker tye soos dié is die waardevolste vaardigheid dié van leer en hoe om te leer.

Die volgende voordele behoort voldoende rede te wees om nooit op te hou leer nie:

Toon toewyding: Wanneer jy kies om op jou vaardighede voort te bou of jou oues te verfris, toon jy aan potensiële werkgewers (op jou CV en in werkonderhoude) dat jy toegewy is aan jou vakgebied.

Bly relevant: Sorg dat jy nie agterbly nie. Maak seker dat jy relevant bly binne jou bedryf deur op die hoogte te wees van tendense in die werkplek en jou vaardighede op te skerp.

Berei jouself voor vir die onverwagse: Lewenslange leer sal jou help om by onverwagse veranderings aan te pas. ʼn Groot verandering en gevaar is om jou werk te verloor. Dit kan beteken dat jy van nuwe vaardighede afhanklik sal wees om werk te kry.

Versterk jou profiel: As jy gedurig leer, sal jy verbetering en groei in jou loopbaan toon. Bestuurders en kollegas sal ook hiervan kennis neem.

Toon aanpasbaarheid, gewilligheid om te verbeter en selfmotivering: ʼn Lewenslange leerder is ʼn aanwins vir enige span aangesien  hy of sy ʼn begeerte toon om hom of haar professioneel te verbeter en dit graag doen sonder om te vra. Dit toon jou vermoë om by nuwe situasies te kan aanpas en ʼn gretigheid om nie jou vaardighede te laat verouder nie.

Onderskei jou van die kompetisie: Met jou as lewenslange leerder sal ʼn maatskappy bewyse hê dat jy selfmotiverend en buigsaam is en die onderneming sal ʼn duidelike idee hê van jou konkrete vaardighede, wat geen twyfel laat oor jou vermoë om die werk te verrig nie.

Bied geleenthede om te spesialiseer: Baie van ons dink daaraan om te spesialiseer namate ons in ons loopbane vorder. Daar is aansienlike voordele daaraan verbonde, waaronder hoër salarisse.

Bied die geleentheid om te netwerk: As jy ʼn meer formele of gestruktureerde leerroete soos ʼn kursus kies, sal jy waarskynlik ʼn groep eendersdenkende mense in jou beroep ontmoet. Dit is nie net ʼn wonderlike geleentheid om vriende te maak nie maar ook ʼn kans om jou professionele netwerk te bou.

Verhoog jou verdienpotensiaal: Hoe meer jy jouself oplei of heroplei, hoe meer kan jy wettig eis tydens salarisonderhandelinge. Jy belê in jouself deur die opskerping van jou vaardighede en firmas erken dat hierdie vaardighede ook finansiële vergoeding verdien.

Persoonlike verryking: Dikwels strek ʼn persoon se belangstellings verder as die werk wat hulle daagliks doen. Die najaag van buitemuurse belangstellings kan lei tot insig en ontwikkelings wat die deur oopmaak vir nuwe, toekomstige geleenthede.

Bevoegdheid lei tot vertroue: Om nuwe dinge te leer, gee ons ʼn gevoel van prestasie, wat weer ons vertroue in ons eie vermoëns verhoog en produktiwiteit aanmoedig.

Maak van jou ʼn toppresteerder: Die ontwikkeling van nuwe vaardighede en kennis kan persoonlike prestasie of bevoegdheid in die werk verhoog.

Maak jou ontvanklik vir nuwe idees: Die verkryging van nuwe vaardighede sal nuwe geleenthede ontsluit en jou help om innoverende oplossings vir probleme te vind.

Verander jou perspektief: Deurlopende leer verbreed jou verstand en verander jou houding deur te bou op wat jy reeds weet.

Trek voordeel in die toekoms: Deurlopende leer gaan nie net oor jou nie. Lewenslange leer help om jou leierskapsvaardighede te ontwikkel om weer lewenslange leer in ander individue te bevorder deur hulle aan te moedig om verder te studeer.

Die topwenke vir deurlopende leer sluit die volgende in:

  • Definieer jou leerdoelwit voor die aanvang van jou studiepad en kyk weer daarna wanneer jy sukkel of motivering soek om voort te gaan.
  • Praat met ander oor wat jy geleer het. Om idees te deel en te praat oor wat jy geleer het, dwing jou om jou eie denke te verduidelik en nuwe duidelike maniere te vind om oor komplekse onderwerpe te kommunikeer.
  • Diversifiseer jou vertroude hulpbronne deur te luister na verskillende perspektiewe oor dieselfde onderwerp, en in verskillende formate. Kyk na YouTube-video’s, luister na podsendings, of lees blogplasings van denkleiers in jou veld.
  • Dink gereeld na oor (en skryf neer) wat jy geleer het. ʼn Harvardstudie het bevind dat studente wat aan die einde van elke dag 15 minute gebruik om neer te skryf en te besin oor wat hulle daardie dag geleer het, 20% meer produktief was as diegene wat dit nie gedoen het nie.
  • Kry vir jou ʼn mentor. Om jouself werklik te laat groei, het jy ʼn leier nodig wat in jou sal belê met leiding en loopbaanadvies.

Nuwe leermetodes

Leermetodes is besig om drasties te verander.  Outomatisering, robotika en kunsmatige intelligensie is nie net meer konsepte wat in die verre toekoms lê nie maar realiteite geword het, ook yen opsigte van leermetodes. Solidariteit bemagtig lede met e-leer, webinare, seminare en ʼn gemengdeleermodel. Sodoende kan hulle op die voorpunt van hulle beroepe bly. Loer gerus watter kort kursusse Solidariteit alles aanbied; klik hier.

Omdat ons verstaan dat kantoorpraktisyns unieke uitdagings ervaar, onder druk werk en wye kennis, inligting en vaardighede moet hê, bied Solidariteit se kantoorpraktisynsnetwerk ʼn netwerk van werk vir jou. Om meer oor Solidariteit se kantoorpraktisynsnetwerk te lees, klik hier

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel