loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
hoe-om-te-keer-dat-jou-werk-jou-hele-lewe-word-n-gids-vir-jongmense-in-die-werkplek

Foto Krediet: Okay Deer

Hoe om te keer dat jou werk jou hele lewe word: ʼn Gids vir jongmense in die werkplek

Deur Reon Janse van Rensburg

“Watter werk doen jy?” – Klink hierdie vraag nie al te bekend nie? Hoewel dit meestal ʼn onskuldige aanknopingspunt is om ʼn gesprek mee te begin, het werk mettertyd iets geword waaraan talle mense hul identiteit koppel. Nie meer is jy net Johan of Mia nie; jy is Johan die loodgieter of Mia die onderwyseres.

Vir baie jong werknemers en nuwelinge in die werkplek voel werk soos ʼn groot deel van hul identiteit. Die uitdagings, prestasies en verantwoordelikhede bied ʼn gevoel van waarde en betekenis, wat kan help om ʼn sterk, professionele selfbeeld op te bou. Wanneer jou werk egter al jou tyd en aandag begin opeis, kan die grens tussen wie jy is en wat jy doen, begin vervaag. Hierdie intense identifikasie met werk kan ʼn gesonde balans bedreig, en as die werk wegval of verander, kan dit emosionele uitdagings skep wat moeilik is om te hanteer.

Wanneer ons onsself te veel met ons werk verbind, skep ons ʼn brose basis vir ons selfwaarde. Dit is veral uitdagend vir jonger werknemers wat dalk nog besig is om hul persoonlike en professionele lewens te balanseer terwyl hulle in baie gevalle steeds hul eie identiteit as jongmense vorm. ʼn Ontslag, herstrukturering, of selfs ʼn veranderde rol kan jou skielik laat voel asof jy jou doel in die lewe verloor het. Hierdie oormatige klem op werk as identiteit veroorsaak dat prestasie en goedkeuring by die werk ʼn groot invloed op jou emosionele welstand het. Dit skep onrealistiese verwagtinge, nie net om jou rol baas te raak nie, maar ook dat jy sukses aan die verkeerde maatstawwe koppel.

Die gevolge van hierdie intense fokus op werk kan ook jou persoonlike lewe beïnvloed. As jy altyd beskikbaar wil wees of voel jy moet oorpresteer om te bewys jy is genoeg, kan jy jouself verwaarloos. Familie, vriende en ontspanning kry minder aandag, wat juis die belangrike dinge is wat jou help om ʼn gebalanseerde en vervulde lewe te lei.

Hoe kan jong werknemers dan ʼn gesonde balans handhaaf?

Eerstens is dit belangrik om bewus te wees van hoe jy oor werk dink. Identifiseer jouself eerder as ʼn mens met drome, passies en belangstellings, wat ook werk insluit, maar nie deur werk alleen bepaal word nie. Streef daarna om betekenis en waarde te vind in ander aktiwiteite en verhoudings – gaan stap saam met vriende, belê in stokperdjies, of fokus op nuwe vaardighede wat jou persoonlikheid verruim.

Tweedens, stel duidelike grense. As jou werk naby jou huis is, bepaal vaste tye vir werk en rus en moenie toelaat dat werk jou persoonlike tyd oorneem nie. Hierdie grense help jou nie net om fisiek af te skakel nie, maar versterk ook jou emosionele grens, wat verhoed dat werksprobleme jou persoonlike lewe oorheers.

Laastens, onthou dat jou werk nie jou waarde definieer nie. Sukses by die werk is wonderlik, maar dit moenie die enigste maatstaf van jou prestasie of tevredenheid wees nie. Jou identiteit is baie groter as jou werk, en deur te fokus op wat jou gelukkig maak buite die kantoor, bou jy ʼn gesonder, meer gebalanseerde lewe wat jou op veranderinge in jou loopbaan voorberei.

Dit is normaal om trots te wees op jou werk, maar onthou om nie jou hele identiteit daaraan toe te skryf nie. ʼn Gesonde werk-lewe-balans maak jou veerkragtiger en gelukkiger – twee eienskappe wat jou sal help om oor die lang termyn ʼn suksesvolle en vervullende loopbaan te bou.

Solidariteit bied aan jong werkendes die nodige ondersteuning en geleenthede om suksesvol in die werkplek te integreer. Deur lid te word, kry jy toegang tot werkfasilitering, regsadvies, ʼn CV-bouer, beroepsgerigte netwerke en ʼn mentorskapprogram wat jou met kundiges verbind. Solidariteit help jou ook met persoonlike ontwikkeling deur voortgesette leer, psigometriese toetse en vakansievoordele, alles gerig op ʼn gesonde werk-lewe-balans. Hierdie hulpbronne en ondersteuning stel jou in staat om ʼn sterk loopbaan te bou terwyl jy as ʼn waardevolle deel van jou gemeenskap groei. Klik hier om vandag nog aan te sluit!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel