
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Kara Durie: Student-tot-meester-suksesverhaal
Deur Ané Janse van Rensburg
Solidariteit hou sedert 2022 jaarliks ʼn Student-tot-meester-netwerkgeleentheid. Dit is waar studente vanuit ’n bepaalde studierigting die geleentheid kry om te gesels met ’n meester of spesialis vanuit die beroep wat hulle beplan om te volg.
Kara Durie het in 2023 aan díe geleentheid deelgeneem, waar sy met Durandt Serfontein, ontwikkelingsbestuurder by Sanlam se Blignaut BlouSter, in kontak gekom het. Net soos die ander meesters by hierdie geleentheid het Durandt hulpbronne en advies met Kara gedeel, en kon sy toegang kry tot meesterskap waaraan geen monetêre waarde gekoppel kan word nie. Kara is vandag ’n finansiële administrateur by Sanlam se Blignaut BlouSter.
Solidariteit het aan Kara ʼn paar vrae gevra om meer oor haar ervaring uit te vind.
Waar en wat het jy studeer?
Ek het my BCom Ondernemingsbestuur-graad aan Akademia verwerf.
Wat is jou beroepsdroom?
My droom is om vir ʼn organisasie te werk wat volhoubaar is. Nie net vir die organisasie self nie, maar spesifiek vir die jeug ook. Ek is baie passievol oor die jeug – hulle het beslis ʼn blink toekoms as hulle bereid is om dit aan te gryp. Ek sal graag die geleentheid wil hê om met jong mense te kan werk, of om by ʼn organisasie wat nie só ʼn afdeling het wat op die jeug fokus nie, dit daar in te bring.
Hoe het jy van die Student-tot-meester-funksie gehoor?
Ek het by Berrie Stoop, my Rekeningkunde-dosent in my tweede jaar, van die geleentheid gehoor.
Hoe het die Student-tot-meester-funksie jou gehelp om die eerste tree te gee sodat jy hierdie droom van jou kon verwesenlik?
In die tyd toe die funksie plaasgevind het, was ek nog besig om te swot. Ek het wel glad nie geweet wat ek wou doen nie. Toe het ek met Barrie [Stoop] gepraat, en hy het gesê ek moet na die funksie toe kom. Ek het daar vir Durandt ontmoet. Eerstens het ek getwyfel, want daar was geen verteenwoordiger vir mense wat spesifiek BCom Ondernemingsbestuur swot nie, dit was meer gespesialiseerd in ʼn finansiële rigting. Ek het ʼn kans gewaag en nog steeds gegaan, en daar het ek deur Durandt die geleentheid hier by Sanlam gekry.
Hoe het die funksie verloop ? Was daar ʼn geleentheid vir jou om netwerke te bou?
Ek dink dit was baie goed uiteengesit. Al die kundiges is aan die begin van die funksie aan ons voorgestel en daar is inligting gegee oor wat hulle al bereik het. Ons is volgens beroepe in groepies verdeel en ek is daar saam die finansiële kundiges ingedeel. Ons het ná die funksie nommers met die kundiges uitgeruil en kon hulle advies deel. Dit het beslis gehelp om die kundiges te kon ontmoet – hulle is baie slim! Na my mening was dit regtig ʼn suksesvolle geleentheid.
Wat is die belangrikste les wat jy by die funksie / jou “meester” kon leer?
Ek dink omdat ek aanvanklik so onseker was oor wat ek wou doen, het ek nie geweet waar om te begin nie. Dit is een ding om te swot en te weet jy het ʼn plan, maar dit is iets anders om te swot en nie presies te weet wat jy met jou lewe wil doen nie. Ek dink die feit dat Durandt daar was, kon vir my bietjie leiding gee. Baie mense soek leiding. Hulle het ʼn idee, maar is nog steeds baie onseker. Omdat Durandt al die ervaring het en by ʼn plek kon werk waar hy homself kon ontdek, kon hy vir my die “gereedskap” gee wat ek nodig gehad het. Ek kan juis daarom sê dat die funksie baie suksesvol was – ek het met niks ingestap nie en met baie meer daar weggeloop.
Sou jy aanbeveel dat studente so ʼn funksie moet bywoon?
Beslis! As jy onseker is, is dit reg, daar is baie mense wat ook onseker is. Jy het wel die geleentheid om iets hieraan te doen. Wanneer ʼn mens so ʼn funksie bywoon, kan iemand vir jou opsies op ʼn skinkbord aandra. Hoekom sal jy nie die geleentheid aangryp om bietjie meer sekerheid te kry nie? Ek dink studente móét so ʼn funksie bywoon! Jy is in beheer van jou toekoms! Jy neem die verantwoordelikheid om iets te bereik. As jy gaan uitstel en wag tot nadat jy klaar studeer het om rigting te kry, gaan jy baie meer sukkel as wanneer jy voorlopig begin beplan en geleenthede begin aangryp. Dit baat jou om met kundiges te gesels, want hulle kan die moets en moenies deel wat aan sekerheid en geloofwaardigheid gekoppel kan word.
Om deel te vorm van die Solidariteit-netwerk kan ʼn wêreld van geleenthede vir jou oopsluit! Indien jy nog nie deel is van die netwerk nie, klik hier en skep jou gratis profiel. Word deel van Solidariteit se netwerk wat jou wil ondersteun en bemagtig om jou stempel in die wêreld van werk af te druk.