Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Ken jou regte: Jou eerste werk kan jou lelik terug aarde toe bring!
Deur Leré Nel
Jy dink waarskynlik jou grootste probleem in jou eerste werk gaan wees om elke dag vroeg op te staan of om professioneel te probeer lyk terwyl jy eintlik net wil slaap.
Maar niemand waarsku jou oor al die weird goed wat in die werkplek kan gebeur nie.
Soos:
- • ʼn werkgewer wat jou nie vir oortyd betaal nie;
- • ʼn onderneming wat jou skielik afdank sonder enige verduideliking;
- • ʼn werkplek wat verwag dat jy self vir jou veiligheidstoerusting moet betaal; of
- • ʼn beperking van handel waarvan jy heeltemal vergeet het toe jy ʼn nuwe werk aanvaar het. En nou dagvaar jou vorige werkgewer jou. Awkward…
Ja, hierdie goed gebeur regtig.
Michael Smith, koördineerder van Solidariteit Jongwerkende, hanteer daagliks regsnavrae van jong werknemers en verteenwoordig hulle wanneer hulle in die sop is.
“Die grootste probleem wat ons dikwels met jong werkendes kry, is dat hulle nie hul kontrakte lees of verstaan nie,” sê Michael. “En ongelukkig leer niemand jou hierdie goed op universiteit nie.”
“Jong werknemers is dikwels óf te bang, óf te slim,” sê hy.
Hy vertel van ʼn jong werknemer wat besig was met sy vakleerlingskap by ʼn sekere onderneming. Sy vakleerlingskap was nog lank nie voltooi nie, toe hy een dag ʼn brief op sy tafel kry. Net twee sinne lank: “Jou kontrak is vroeg beëindig. Dankie vir jou diens.”
Die arme outjie bel toe sy pa in ʼn panic. “Ek het nie geweet ʼn werkgewer mag dit doen nie! Oh well. Tyd om ander werk te soek, lyk my.”
Sy pa het gelukkig ʼn rot geruik en sy seun beveel om dadelik vir Solidariteit te bel – wat toe die saak hanteer het.
“Dis wat gebeur as jy te bang is om vrae te vra en jou werkgewer se woord as wet aanvaar,” sê Michael. “Dit was amper, of hierdie outjie het sy werk verloor as gevolg van sy eie onkunde!”
ʼn Ander jong werknemer het maande lank gereeld oortyd gewerk sonder betaling, al het sy kontrak duidelik gestipuleer dat hy daarvoor vergoed moes word. Sy werkgewer het aanhou belowe dat hulle hom sou betaal, maar het dit nooit gedoen nie. Solidariteit het die werkgewer op sy plek gesit en die werknemer se volle oortydbetaling teruggekry.
Dan kry jy weer die jong werknemers wat “te slim” is.
“Ons kry gereeld mense wat dink hulle verstaan hul kontrak en die arbeidswette, maar eintlik doen hulle glad nie,” verduidelik Michael.
Hy vertel van jong werknemers wat sommer ná drie maande vir verhogings vra, of wat hul kennisperiode ignoreer omdat hulle nie verstaan hoe ʼn dienskontrak werk nie.
Terug by die werknemers wat “te bang” is.
Die ouens wat dink hulle mag nie eers siek wees in hul eerste paar maande van werk nie. Of wat glo ʼn werkgewer kan hulle enige tyd afdank tydens hul proeftydperk sonder rede.
Spoiler alert: Dis nie hoe dit werk nie.
“Moenie net aanneem jou werkgewer se woord is wet nie. Werkgewers vat ook soms kanse,” waarsku hy. “Dis presies hoekom dit slim is om nou al jou regte te verstaan – vóór jy jou eerste werk kry.”
En dis waar Solidariteit se nuwe arbeidsregsadviseur in KI-vorm, Aanlyn regshulp, jou kan help.
Jy kan vinnig vrae vra oor:
- • jou dienskontrak;
- • oortyd;
- • dissiplinêre prosesse;
- • verlof;
- • ontslag;
- • jou algemene regte in die werkplek; en
- • enigiets anders!
Geen ingewikkelde Google-soektogte of scary prokureurstaal nie. Net eenvoudige, praktiese antwoorde. Dis soos ChatGPT, maar vir regsnavrae.
En die beste deel? Solidariteit-lede kry onbeperkte, gratis toegang tot hierdie KI-assistent.
So nou het jy geen verskoning om te sukkel nie. Jou eerste werk hoef jou nie te humble nie.
Wees net voorbereid. Registreer jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn, hou die Studentelewegroep dop vir nog pêrels van wysheid soos hierdie, en raak solank gewoond aan jou nuwe vriend, Aanlyn regshulp.
Bottom line: Ken jou regte!
Dis al van ons kant af!